’n Seën of ’n vloek?
’n Bestuurder verloor beheer oor sy motor en tref ’n paal, met die gevolg dat ’n passasier ernstig beseer word. Hy gebruik onmiddellik sy selfoon om hulp te ontbied. Maar waarom het hy beheer verloor? Hy het vir ’n oomblik weggekyk om sy selfoon te antwoord.
SOOS hierdie voorbeeld toelig, kan die produkte van moderne tegnologie óf ’n seën óf ’n vloek wees—die keuse is ons s’n. Min mense sou egter verkies om terug te gaan na die produkte van gister wat nou dalk primitief lyk. Byvoorbeeld, rekenaars doen vir ons vervelige take, bied ons die gerief om aanlyn te koop en banksake te doen en help ons om deur middel van e-pos, stempos of videoverbinding met ander in aanraking te bly.
Nie te lank gelede nie, het gesinslede soggens verskillende rigtings ingeslaan en eers weer saans met mekaar gepraat. Maar nou “kontak 70% van egpare waar albei maats selfone het, mekaar elke dag net om hallo te sê, 64% om hulle roosters te koördineer, en 42% van ouers gebruik elke dag ’n selfoon om hulle kinders te kontak”, sê ’n berig in USA Today.
Moenie toelaat dat ’n bate ’n las word nie
Kan die oormatige of verkeerde gebruik van tegnologie verstandelik en fisies skadelik wees? Kyk na die voorbeeld van ’n pasgetroude paartjie in ’n Westerse land. Volgens ’n nuusberig het hulle “heeltyd oor die selfoon gepraat—in hulle motors, by die gim; hulle het mekaar selfs uit verskillende kamers in hulle eie huis gebel”. Soms het hulle tot 4 000 minute—meer as 66 uur—per maand gepraat, en hulle het gesê dat hulle nie sonder hulle selfone kan klaarkom nie. Hulle toon die “tipiese tekens van verslawing”, het dr. Harris Stratyner, ’n spesialis op die gebied van geestesgesondheid, gesê. “Dis asof hulle ’n verhouding deur middel van ’n voorwerp het.”
Dit klink dalk na ’n uiterste geval, maar dit weerspieël ’n kommerwekkende neiging. Vir baie mense is die gedagte om selfs ’n uur lank nie van hierdie toestelle gebruik te maak nie, ondraaglik. “Ons moet eenvoudig die hele tyd na ons e-posse kyk, die hele tyd die Internet gebruik, die hele tyd kitsboodskappe aan ons vriende stuur”, het een vrou in haar 20’s gesê.
As die gebruik van hierdie toestelle “al hoe meer van jou tyd in beslag neem en die gunstelingtydverdryf in jou lewe word sodat jy alle ander dinge uitskakel, is dit die duidelikste waarskuwingsteken dat iets verkeerd is”, sê dr. Brian Yeo in The Business Times of Singapore. Wat meer is, mense wat hulle ure lank afsonder om hierdie toestelle te gebruik, kry dikwels min of geen oefening nie en loop die gevaar om hartvatsiekte, suikersiekte of ’n ander ernstige siektetoestand te ontwikkel.
Dit hou ook onmiddelliker gevare in. Met betrekking tot selfone het ’n onlangse studie byvoorbeeld getoon dat die bestuursvermoë van motoriste wat oor handtoestelle of selfs handvrye toestelle praat, net soveel belemmer word soos dié van dronk bestuurders! Om SMS’e te tik terwyl ’n mens bestuur, kan ook uiters gevaarlik wees, en in een opname is bevind dat ongeveer 40 persent van bestuurders tussen die ouderdomme van 16 en 27 boodskappe tik terwyl hulle agter die stuur is. As jy in die versoeking kom om oor ’n selfoon te praat of boodskappe te tik terwyl jy bestuur, moet jy ook in gedagte hou dat die polisie en jou versekeringsmaatskappy in die geval van ’n ongeluk moontlik sal nagaan of jy jou selfoon oomblikke voor die botsing gebruik het. ’n Oproep of ’n eenvoudige SMS kan jou baie duur te staan kom!a ’n Ondersoek na ’n treinongeluk in 2008 in Kalifornië, VSA, wat 25 lewens geëis het, het aan die lig gebring dat die treindrywer oomblikke voor die ongeluk ’n SMS gestuur het. Hy het nie eers die remme aangeslaan nie.
Omdat ’n toenemende aantal kinders gebruik maak van selfone en rekenaars, sowel as vermaaklikheidsmedia, moet hulle leer om hierdie toestelle op ’n verstandige en verantwoordelike wyse te gebruik. Hoe kan hulle gehelp word? Lees asseblief die volgende artikel.
[Voetnoot]
a Almal wat daarna streef om volgens Bybelleringe te lewe, moet spesifiek daarop let dat hulle aandag in enige potensieel gevaarlike situasie nie deur enigiets afgetrek word nie.—Genesis 9:5, 6; Romeine 13:1.
[Prent op bladsy 5]
Neem tegnologie al hoe meer van jou tyd in beslag?