STUDIE 35
Herhaling vir beklemtoning
DOELTREFFENDE onderrigting sluit die gebruik van herhaling in. Wanneer ’n belangrike punt meer as een keer genoem word, sal die gehoor dit makliker vind om dit te onthou. As die gedagte effens anders gestel word wanneer jy dit herhaal, sal hulle dit moontlik selfs beter verstaan.
As die gehoor nie onthou wat jy sê nie, sal jou woorde geen uitwerking hê op wat hulle glo of hoe hulle lewe nie. Hulle sal waarskynlik aanhou dink aan punte wat jy beklemtoon het.
Jehovah, ons Grootse Onderrigter, stel vir ons die voorbeeld in die manier waarop hy herhaling gebruik het. Hy het die nasie Israel die Tien Gebooie gegee. Deur ’n engel as woordvoerder te gebruik, het hy die nasie daardie gebooie by die berg Sinai laat hoor. Later het hy dit in geskrewe vorm aan Moses gegee (Eks. 20:1-17; 31:18; Deut. 5:22). Op Jehovah se bevel het Moses daardie gebooie vir die nasie herhaal voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het, en deur middel van die heilige gees het Moses dit neergeskryf, soos dit in Deuteronomium 5:6-21 gevind word. Een van die gebooie wat aan Israel gegee is, was die bevel dat hulle Jehovah met hulle hele hart, siel en lewenskrag moet liefhê en dien. Dit is ook telkens herhaal (Deut. 6:5; 10:12; 11:13; 30:6). Waarom? Omdat dit, soos Jesus gesê het, “die grootste en eerste gebod” is (Matt. 22:34-38). Deur die profeet Jeremia het Jehovah die volk van Juda meer as 20 keer aan die belangrikheid daarvan herinner om hom te gehoorsaam in alles wat hy hulle beveel het (Jer. 7:23; 11:4; 12:17; 19:15). En deur Esegiël het God meer as 60 keer gesê dat die nasies “sal moet weet dat ek Jehovah is”.—Eseg. 6:10; 38:23.
In die verslag oor Jesus se bediening vind ons ook dat herhaling doeltreffend gebruik word. Daar is byvoorbeeld die vier Evangelieverslae—elkeen dek belangrike gebeure wat in een of meer van die ander Evangelieverslae bespreek word, maar dit benader hierdie gebeure uit ’n effens ander hoek. In Jesus se onderrigting het hy dieselfde basiese les by meer as een geleentheid beklemtoon, maar op verskillende maniere (Mark. 9:34-37; 10:35-45; Joh. 13:2-17). En terwyl Jesus ’n paar dae voor sy dood op die Olyfberg was, het hy herhaling gebruik om hierdie belangrike raad te beklemtoon: “Hou . . . aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—Matt. 24:42; 25:13.
In die veldbediening. Wanneer jy vir mense getuig, hoop jy dat hulle sal onthou wat jy sê. Die doeltreffende gebruik van herhaling kan help om daardie doel te bereik.
Dikwels sal herhaling gedurende ’n bespreking ’n persoon help om die gedagtes te onthou. Nadat jy ’n teks gelees het, kan jy dit dus beklemtoon deur na ’n sleutelgedagte daarin te verwys en te vra: “Het jy opgemerk hoe hierdie teks dit stel?”
Die laaste sinne in ’n gesprek kan ook doeltreffend gebruik word. Jy kan byvoorbeeld sê: “Die hoofpunt wat ek hoop jy van ons gesprek sal onthou, is . . . ” Herhaal dit dan op ’n eenvoudige wyse. Dit kan iets soos die volgende wees: “God se voorneme is dat die aarde in ’n paradys omskep moet word. Daardie voorneme sal beslis verwesenlik word.” Of moontlik: “Die Bybel toon duidelik dat ons in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge lewe. Om die einde daarvan te oorleef, moet ons leer wat God van ons vereis.” Of jy kan sê: “Soos ons gesien het, gee die Bybel praktiese raad om gesinsprobleme die hoof te bied.” In sommige gevalle kan jy net ’n aanhaling uit die Bybel herhaal om die punt wat onthou moet word, te beklemtoon. Dit vereis natuurlik voorbereiding om dit doeltreffend te doen.
Tydens herbesoeke, asook Bybelstudies, kan jou gebruik van herhaling hersieningsvrae insluit.
Wanneer iemand dit moeilik vind om Bybelraad te verstaan of toe te pas, sal jy die onderwerp dalk meer as een keer moet bespreek. Probeer om dit uit verskillende hoeke te benader. Die besprekings hoef nie lank te wees nie, maar moet die student aanmoedig om aan te hou om oor die saak te dink. Onthou, Jesus het hierdie soort herhaling gebruik toe hy sy dissipels gehelp het om die begeerte om die belangrikste te wees te bowe te kom.—Matt. 18:1-6; 20:20-28; Luk. 22:24-27.
In toesprake. As jy toesprake van die verhoog af hou, is jou doel nie bloot om inligting oor te dra nie. Jy wil hê dat die gehoor dit moet verstaan, dit moet onthou en dit moet toepas. Daarom moet jy goed gebruik maak van herhaling.
Maar as jy die hoofpunte te dikwels herhaal, sal jou gehoor dalk belangstelling verloor. Kies punte wat beklemtoon moet word, sorgvuldig uit. Dit is gewoonlik die hoofpunte waarom jou toespraak ontwikkel word, maar dit kan ook ander gedagtes insluit wat vir jou gehoor van spesiale belang sal wees.
As jy van herhaling gebruik wil maak, kan jy jou hoofpunte in jou inleiding noem. Doen dit deur middel van kort verklarings wat ’n breë oorsig gee van wat jy gaan dek, deur middel van vrae of deur middel van kort voorbeelde wat probleme skets wat opgelos gaan word. Jy kan sê hoeveel hoofpunte daar is en dit een vir een opnoem. Ontwikkel dan elkeen van daardie punte in die hoofdeel van jou toespraak. Dit kan selfs meer beklemtoon word in die hoofdeel van jou toespraak deur elke hoofpunt te herhaal voordat jy na die volgende punt oorgaan. Of dit kan gedoen word deur ’n voorbeeld te gebruik waarin die hoofpunt toegepas word. Jou hoofpunte kan verder beklemtoon word deur ’n slot te gebruik waarin jy dit herhaal, dit deur middel van teenstellings benadruk, die vrae beantwoord wat gestel is of kortliks oplossings gee vir die probleme wat geskets is.
Benewens wat reeds genoem is, hou ’n ervare spreker ook die persone in sy gehoor noukeurig dop. As party dit moeilik vind om ’n sekere gedagte te verstaan, is die spreker bewus daarvan. As dit ’n belangrike punt is, herhaal hy dit. Maar as hy dieselfde woorde gebruik, sal hy moontlik nie sy doel bereik nie. Onderrigting behels meer as dit. Hy moet aanpasbaar wees. Hy sal dalk uit die vuis bykomende gedagtes by sy toespraak moet voeg. Jou doeltreffendheid as ’n onderrigter sal in groot mate daarvan afhang of jy leer om jou gehoor op hierdie manier in ag te neem.