Gileadgegradueerdes is aangespoor: ‘Julle moet net maar vrolik wees’
OP 16 September 1979 het die 67ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead groot vreugde gesmaak; dit was gradedag. Die 51 studente wat teenwoordig was by Jehovah se Getuies se byeenkomssaal in Long Island City, New York, het gehoor hoedat die skool se president, F W. Franz, hulle vermaan om vrolik te wees. Hy het klem gelê op die vreugde tydens die Loofhuttefees wat die insameling van die oes in eertydse Israel gevier het.
Vir ’n gehoor van 2 033 het die skool se president die langdurige vrolikheid van hierdie Loofhuttefees beskryf. Dit het sewe dae geduur, en Jehovah het deur Moses vir die volk gesê: “Jy moet net maar vrolik wees.”—Deut. 16:15.
Franz het die aandag gevestig op twee vreugdevolle aspekte wat later by hierdie fees gevoeg is en deel daarvan was toe Jesus op aarde was. Een was die priester se besoek aan die poel Siloam met ’n goue kruik wat hy met water gevul het, na die tempel teruggeneem het en uitgegooi het in ’n bak wat na die voetstuk van die altaar gelei het. Wanneer die water uitgegooi is, was daar groot gejuig, soseer dat daar gesê is dat ‘hy wat nie die uitgieting van die water van Siloam gesien het nie, nog nooit ’n gejuig in sy lewe gesien het nie’.
Franz het verduidelik dat nog ’n vreugdevolle aspek van die fees gedurende die nag plaasgevind het. Daar was vier groot goue kandelare in die Voorhof van die Vroue, en elke kandelaar het vier groot goue komme gehad. Olie is daarin gegooi en die ou klere van priesters het as pitte gedien. Wanneer die lampe aangesteek is was dit so helder dat dit gelyk het asof die hele stad verlig is. Sekere manne het gedans en gesing. Dit het tot dagbreek geduur.
Hy het verduidelik dat toe Jesus die Loofhuttefees in die jaar 32 G.J. bygewoon het, hy miskien na die seremonie met die water van Siloam verwys het toe hy uitgeroep het: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh. 7:37, 38). Jesus het dalk ook verwys na die verligting van Jerusalem deur die lampe tydens die fees toe hy vir die Jode gesê het: “Ek is die lig van die wêreld.”—Joh. 8:12.
Het die Loofhuttefees of die Fees van die Insameling ’n antitipiese vervulling? Indien wel, wanneer? Franz het verduidelik dat die Skrif ’n paar leidrade verstrek om hierdie saak te verstaan. Jesaja 12:3 het byvoorbeeld ’n tyd voorspel wanneer God se volk ‘water met vreugde sou skep’. In Mattheüs 13:39 het Jesus geopenbaar dat ‘die oes die voleinding van die wêreld is’. En in Mattheüs 24:31, in ’n verband wat handel oor die “teken” van die voleinding van die wêreld, het Jesus die wêreldwye insameling van sy “uitverkorenes” voorspel. Die vreugdevolle Loofhuttefees of Fees van die Insameling kon dus nie voor die “tyd van die einde” sy hedendaagse vervulling hê nie. So ’n insameling vind nou sedert 1919 plaas en sal ’n tyd van groot vreugde tot gevolg hê.
Maar wat word ingesamel? Mense. Die 51 gegradueerdes is dus deur die skool se president aangespoor om aan te hou om deel te neem aan hierdie insamelingswerk en as “die lig van die wêreld” te skyn in hulle onderskeie sendelingtoewysings. “Bly lief vir die Loofhuttefees of die Fees van die Insameling”, het hy ten slotte beklemtoon. “Mag julle vrolikheid in Jehovah julle versterk en mag julle aanhou vrolik wees” tot in lengte van dae.
Vroeër het ’n ander spreker ook geluk beklemtoon. Joel Adams het vir die studente gesê dat Jehovah bly is wanneer hulle gelukkig is. Hy het hulle aangespoor om nie toe te laat dat klein dingetjies hulle vreugde bederf nie. “Behou julle gelukkige gees”, het hy vermaan. “Ja, Jehovah is ’n gelukkige God, en wil hê dat ons gelukkige lewens moet lei. Dit strek hom tot eer wanneer ons ’n gelukkige gees behou.”
J. E. Barr het die studente eweneens aangespoor: “Hoe baie het julle tog om oor dankbaar te wees—hierdie gelukkige dag waarop julle gradueer! Mag nie een van julle gedurende al die jare wat voorlê ooit die gevoel van dankbaarheid teenoor Jehovah verloor nie. Dit is die geheim van julle duursame vreugde en geluk ongeag wat julle toewysing is.”
In die middag het die Gileadgegradueerdes ’n vreugdevolle internasionale musiekprogram aangebied waartydens hulle die kulturele musiek en danse van die lande waar hulle vandaan kom, aangebied het. Die middag het ’n hoogtepunt bereik toe die gegradueerdes ’n drama opgevoer het wat die nodigheid beklemtoon het om waardering te hê vir dinge wat waarlik belangrik is. Die titel daarvan was: “Moenie heilige dinge versmaai nie”, en dit het gehandel oor Jakob en Esau.
Toe die dag se verrigtinge ten einde geloop het met ’n gebed deur M. G. Henschel was die gegradueerdes vasbeslote om ag te slaan op Jehovah se woord deur Moses: “Jy moet net maar vrolik wees.”