“Goddelike vrede”-Streekbyeenkoms vir 1986
HOE gepas is dit tog nie dat die tema van ons streekbyeenkomste vir 1986 “Goddelike vrede” is nie! Ja, Jehovah ons God “is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede”. Hy vorm ’n skerp teenstelling met “die god van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, wat ’n god van wanorde, onenigheid en verwarring is.—1 Korinthiërs 14:33; 2 Korinthiërs 4:4.
Daar word heel gepas in Jehovah se Woord van Hom gepraat as “die God van vrede” (Filippense 4:9; 1 Thessalonicense 5:23; Hebreërs 13:20). Van die begin tot die einde word vrede in sy Woord belowe, aanbeveel en benadruk, en dit word sowat 250 keer gemeld. Jehovah is inderdaad die “God wat vrede gee” aan sy volk.—Romeine 15:33; 16:20, NAV.
Dit is dus belangrik dat elkeen van sy knegte, ja, elke getuie van Jehovah, ’n persoon van vrede is! Dit beteken nie net om vredeliewend te wees nie, maar ‘om vrede te soek en dit na te jaag’, soos die apostel Petrus ons aangeraai het om te doen (1 Petrus 3:10, 11). Dit beteken dat ons, volgens Mattheüs 5:9, “vredemakers” moet wees.
Dit is nie maklik om vredemakers te wees, om ons vir vrede te beywer en om te probeer om die vrede te bewaar nie. Swakhede weens die onvolmaakte menslike natuur veroorsaak dat persoonlikhede maklik bots. Soos ons Koninkrykslied (nr. 213) dit stel: “Soms ontstaan ’n meningsverskil; maar ons weet dis glad nie Gods wil.” Die lied vermaan voorts: “Gou vergewe ons dus mekaar. Eenheid moet ons bewaar.” Daar is ook die druk van Satan se wêreld, sowel as al die verlokkings daarvan, wat “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, teëwerk (Filippense 4:7). Satan en sy demone doen natuurlik ook hulle bes om ons vrede te versteur; ons moet teen hulle stry.—Efesiërs 6:12.
In vervloë tye het God gereël dat sy volk op spesiale geleenthede bymekaarkom om geestelik opgebou en versterk te word in hulle voorneme om Jehovah se bevele te gehoorsaam. Daar is vandag eweneens talle hulpe wat hy voorsien om ons te help om vredemakers te wees, waar onder ons jaarlikse streekbyeenkomste. Ons hoor hoe God se Woord by hierdie samekomste uiteengesit word. Vier dae lank word ons deur ons hemelse Vader geleer deur middel van toesprake, onderhoude, demonstrasies en dramas. Ja, selfs ons liedere spoor ons direk of indirek tot vrede aan.
Vanjaar sal ons by ons “Goddelike vrede”-Streekbyeenkoms die gees van broederskap ervaar wanneer ons mekaar verwelkom. As ons sien hoe die verskillende byeenkomsafdelings eensgesind saamwerk, sal ons inderdaad die gees van die byeenkoms ondervind.
Laat ons dus werklik bewus wees van ons geestelike behoefte en voorbereid kom om ten volle baat te vind by die hele program. Laat ons betyds opdaag vir die eerste sessie Donderdagmiddag en bly tot die slotlied en -gebed Sondagmiddag.
Moet ons nie ook daarna streef om konsekwent te wees nie? In watter opsigte? Deur die geestelike voedsel wat verskaf word, werklik te waardeer. Dit sal talle van ons baie tyd en geld kos om te kom. Laat ons dus sorg dat ons stiptelik en in ’n goeie fisiese toestand is. Dit sal beteken dat ons nie te veel moet eet of drink en te laat gaan slaap nie. Laat ons eerder matigheid voor oë hou en vroeg genoeg bed toe gaan sodat ons verkwik en in staat sal wees om al die geestelike voedsel wat voorsien word in te neem. Gedurende die program moet ons in ons sitplekke wees en luister, nie rondloop of gesels met ’n dierbare vriend wat ons dalk lank laas gesien het nie. Ons kan voor of ná die sessies met ons vriende gesels. Ja, laat ons kom met die voorneme om werklik geestelik opgebou te word.
In vervloeë tye het God gereël dat sy volk gereeld op spesiale geleenthede bymekaarkom om geestelik opgebou te word. En ons jaarlikse streekbyeenkomste tel inderdaad onder die talle hulpe wat Jehovah vandag voorsien om ons te help om vredemakers te wees.