Woon die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987 by
WAT ’n uitstekende tema het ons streekbyeenkomste vir 1987 tog: “Vertrou op Jehovah”! Die feit dat ons op Jehovah vertrou, skei ons beslis van die res van die wêreld af. Ander vertrou op dinge soos hulle rykdom, hulle wysheid, hulle mag of hulle politieke en godsdiensheersers en -leiers. Dit alles sal binnekort tot bittere teleurstelling lei.—Psalm 146:3, 4.
Wat beteken dit om op iemand of iets te vertrou? Volgens leksikograwe “beteken [vertroue] dat ’n mens volkome en met sekerheid op iets of iemand steun”.a Ja, en dit is hoe ons daaroor voel. Ons vertrou absoluut en met sekerheid op Jehovah.
God se Woord vestig dikwels ons aandag op hoe belangrik dit is om op Jehovah te vertrou. Die psalmiste meld herhaaldelik hulle vertroue in Jehovah: “Ék vertrou op die HERE.” “Ék vertrou op U, o HERE!” Hulle betuiginge laat ons aan die woorde van een van ons Koninkryksliedere dink: “Jehovah is ons toevlug,/Die God wat ons bewaar . . . Jehovah is ’n vesting!/Vlug daarheen en word gespaar.”—Psalm 31:7, 15.
Die Skrif beveel ons herhaaldelik om op God te vertrou: “Vertrou op die HERE, en doen wat goed is.” “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie” (Psalm 37:3; Spreuke 3:5). God se Woord vertel ons ook van Jehovah se getroue knegte wat beloon is omdat hulle ten tyde van groot gevaar op hom vertrou het. Daar was onder meer koning Hiskia, Ebed-Meleg, die drie Hebreërs en Daniël.—2 Konings 18:5; Jeremia 39:18; Daniël 3:28; 6:23.
Hoe toon ons dat ons op Jehovah vertrou? Een manier is om Jehovah te leer ken en sy Woord te glo. Jesus Christus het ons ’n baie eenvoudige formule gegee: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Ja, as ons met ons hele hart op Jehovah vertrou, sal ons die belange van sy Koninkryk eerste in ons lewe stel en onkreukbaarheid handhaaf.—Mattheüs 6:33.
Waarom moet ons vertroue in Jehovah sterk wees? As gevolg van die druk wat van alle kante op ons uitgeoefen word. Vir party is dit regstreekse vervolging, vir ander versoekings om verkeerd te doen. Ander se vertroue word op die proef gestel deur die vereiste om te volhard. Ons komende streekbyeenkoms is een van die talle hulpe wat Jehovah in hierdie laaste dae voorsien.
Die byeenkoms sal vanjaar drie volle dae duur, naamlik Vrydag, Saterdag en Sondag. Danksy aanpassings in die lengte van die sessies sal die program feitlik net soveel materiaal as verlede jaar bevat. Ons kan daarvan seker wees dat al die dele op die program bedoel is om ons vertroue in Jehovah sowel as in die sigbare organisasie wat hy tans gebruik te versterk.
Elke Christengetuie van Jehovah moet hom dus voorneem om ten minste een van hierdie byeenkomste by te woon. Bring julle kinders. Wees teenwoordig vir die openingslied en gebed Vrydagoggend, en bly tot die slotlied en gebed Sondagmiddag. Bring jou Bybel, liedereboek, notaboek en potlood saam. Deel ten volle in die gees van wat aangebied word, met inbegrip van die liedere en gebede. Luister aandagtig na wat aangebied word. En laat ons seker maak dat ons persoonsversorging en ons gedrag te alle tye onberispelik is.
Die Skriftuurlike beginsel, naamlik ‘saai oorvloedig, maai oorvloedig’, is van toepassing op ons bywoning van die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms. Hoe yweriger ons die hele program inneem, des te meer seëninge sal ons van die byeenkoms wegneem en des te groter seën sal ons vir ander wees.—2 Korinthiërs 9:6.
[Voetnoot]
a Webster’s New Dictionary of Synonyms.