Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 2/1 bl. 20-25
  • “Die wettelose mens” word aan die kaak gestel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die wettelose mens” word aan die kaak gestel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verplig om ander lief te hê
  • Die wettelose mens word aan die kaak gestel
  • Waarom so kragtig?
  • God se oordeel teen “die wettelose mens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Die wettelose mens” word geïdentifiseer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Christus het wetteloosheid gehaat—Haat jy dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Gee die wêreld se godsdienste die regte leiding?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 2/1 bl. 20-25

“Die wettelose mens” word aan die kaak gestel

“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—OPENBARING 18:4.

1, 2. (a) Hoe kan die wettelose mens geïdentifiseer word? (b) Hoe beskou God diegene wat beweer dat hulle hom dien maar wat bloedskuldig is? (Mattheüs 7:21-23).

GOD se Woord het die koms van ’n “wettelose mens” voorspel. Dit het ook voorspel dat hierdie wettelose element “verdelg” en “vernietig” sou word deur God se hemelse Skerpregter, Christus Jesus (2 Thessalonicense 2:3-8, NAV). Soos die voorgaande artikels getoon het, is daardie wettelose mens die geestelikes van die Christendom. Hulle het reeds lank gelede die waarhede van God se Woord verwerp en heidense leringe aangeneem, soos die Drie-eenheid, helse vuur en onsterflikheid van die siel. Daarbenewens het hulle werke voortgebring wat strydig was met God se wette. Soos diegene waarteen Paulus Titus gewaarsku het, “bely [hulle] dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk”.—Titus 1:16.

2 Jesus het gesê: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Valse profete sou “slegte vrugte” voortbring (Mattheüs 7:15-17). Die geestelikes se enorme bloedskuld is een bewys van hulle slegte vrugte. Hulle het eeue lank hul steun verleen aan kruistogte, inkwisisies en oorloë wat miljoene se bloed vergiet het. Hulle het gebede gedoen vir en hul seën uitgespreek oor albei kante in oorloë waarin lede van hulle eie godsdienste mekaar doodgemaak het. In teenstelling daarmee kon die apostel Paulus sê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van almal” (Handelinge 20:26). Die geestelikes is nie. Vir sulke mense sê God: “Ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.”—Jesaja 1:15.

3. Watter gebeure wat belangrik is vir die hele aarde nader vinnig?

3 Die tyd wanneer God sy oordeel aan die wettelose mens sal voltrek, nader vinnig. Binnekort sal daar, soos Jesus voorspel het, “groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21). Daardie ongeëwenaarde tyd van weë sal begin met die teregstelling van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, wat die godsdienste van die Christendom insluit. Die politieke elemente sal “haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Die groot verdrukking sal eindig wanneer die res van Satan se wêreld vernietig word tydens Armageddon, “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”.—Openbaring 16:14, 16; 19:11-21.

Verplig om ander lief te hê

4. Wat moet diegene wat God “in gees en waarheid” aanbid in gedagte hou?

4 Watter verpligting rus op diegene wat ‘die Vader in gees en waarheid aanbid’, aangesien hierdie wêreldskokkende gebeure die bewoonde aarde binnekort gaan tref? (Johannes 4:23). Vir eers moet hulle in gedagte hou dat Jesus gesê het: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. . . . Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”—Johannes 15:10-14; 1 Johannes 5:3.

5, 6. (a) Wat het Jesus sy dissipels beveel om te doen sodat hulle daardeur gekenmerk sou word? (b) In watter sin was dit ’n nuwe gebod?

5 Ware Christene is dus verplig om ander mense lief te hê, veral hulle Christenbroers en -susters in alle lande (Handelinge 10:34; Galasiërs 6:10; 1 Johannes 4:20, 21). Mede-Christene moet mekaar inderdaad “vurig liefhê” (1 Petrus 4:8). Súlke liefde wat oor die hele wêreld geopenbaar word, identifiseer hulle as ware aanbidders, want Jesus het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.

6 Wat was nuut omtrent daardie gebod? Is die Jode onder die Mosaïese Wet nie die gebod “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” gegee nie? (Levitikus 19:18). Ja, maar Jesus het iets bykomends aangedui toe hy gesê het: “Soos Ek julle liefgehad het.” Sy liefde het behels dat hy sy lewe vir ander opgeoffer het, en sy dissipels moet bereid wees om dieselfde te doen (Johannes 15:13). Dit was ’n hoër vlak van liefde, aangesien die Mosaïese Wet nie so ’n opoffering vereis het nie.

7. Watter godsdiens het die liefdewet in hierdie eeu gehoorsaam?

7 Watter godsdiens het in ons eeu hierdie liefdewet gehoorsaam? Beslis nie die godsdienste van die Christendom nie, want hulle het mekaar by tienmiljoene in twee wêreldoorloë en ander konflikte afgemaai. Dit is Jehovah se Getuies wat die liefdewet wêreldwyd gehoorsaam het. Hulle het streng neutraliteit gehandhaaf in die oorloë van die nasies, want Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” moet wees nie (Johannes 17:16, NW). Daarom kan hulle, soos Paulus, sê dat hulle “rein is van die bloed van almal”. Let byvoorbeeld op die inleiding van ’n resolusie wat Jehovah se knegte op 27 November 1921 by die byeenkoms in Washington, D.C., aangeneem het:

“As Christene wat ywerig probeer om die leringe van Christus Jesus ons Heer en sy apostels te volg, glo ons: dat oorlog ’n oorblyfsel van barbaarsheid is, goeie sedes vernietig en ’n skande vir Christelike volke is; dat die beginsels wat deur die Heer Jesus Christus verkondig is toegewyde Christene belet om ’n aandeel in enige vorm van oorlog, bloedvergieting of geweld te hê.”

8. Wat toon die geskiedenis ten opsigte van Jehovah se Getuies tydens die Tweede Wêreldoorlog?

8 Hoe is daardie siening gedurende die Tweede Wêreldoorlog uitgeleef? Sowat 50 miljoen mense is in daardie oorlog, die ergste in die hele mensegeskiedenis, doodgemaak. Maar nie een is deur ’n Getuie van Jehovah doodgemaak nie! Byvoorbeeld, feitlik al die Duitse geestelikes het Nazisme òf aktief òf passief gesteun. Maar in teenstelling daarmee het die Getuies van Jehovah wat onder Nazi-heerskappy was streng neutraliteit gehandhaaf en geweier om ‘heil Hitler’ te skreeu of om ’n deel van sy militêre masjinerie te wees. Gevolglik het hulle nie enige van hulle geestelike broers van ander lande, of trouens enigiemand anders, doodgemaak nie. En Jehovah se Getuies in alle ander lande het ook neutraal gebly.

9. Wat het onder die Nazi-heerskappy met Getuies van Jehovah in Duitsland en Oostenryk gebeur?

9 Baie van Jehovah se Getuies het in gehoorsaamheid aan die liefdewet hulle siel vir hul vriende gegee. ’n Oorsig van die boek Kirchenkampf in Deutschland (Stryd van die kerke in Duitsland), deur Friedrich Zipfel, sê aangaande die Getuies: “Sewe-en-negentig persent van die lede van hierdie godsdiensgroepie was slagoffers van Nasionaal-Sosialistiese [Nazi-]vervolging. ’n Derde van hulle is gedood, hetsy deur teregstelling, ander gewelddade, honger, siekte of slawearbeid. Die felheid van hierdie onderdrukking was ongeëwenaard en was die gevolg van onwrikbare geloof wat nie met die Nasionaal-Sosialistiese ideologie versoen kon word nie.” Vyf-en-twintig persent van Jehovah se Getuies in Oostenryk is in Nazi-konsentrasiekampe tereggestel, doodgeslaan of weens siekte en uitputting oorlede.

10. Watter vertroue het diegene gehad wat gesterf het omdat hulle die liefdewet gehoorsaam het?

10 Diegene wat gemartel is omdat hulle die liefdewet gehoorsaam het, was vol vertroue dat ‘God nie onregverdig is sodat hy hulle werk en die liefdearbeid wat hulle vir sy Naam betoon het, sal vergeet nie’ (Hebreërs 6:10). Hulle het geweet “die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Hulle het die vaste hoop op ’n opstanding met ewige lewe in die vooruitsig gehad.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

11. In watter opsig is Jehovah se knegte uniek, en watter profesie vervul hulle?

11 Net Jehovah se knegte gehoorsaam die reël wat Petrus en ander apostels aan ’n hoë hof gemeld het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Omdat Jehovah se Getuies dit doen, word hulle gesteun deur “Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Dít is die krag wat hulle in staat stel om die profesie in Jesaja 2:2-4 te vervul. Hierdie profesie het voorspel dat ware aanbidding in ons tyd herstel sou word en dat mense uit alle nasies en godsdienste daarheen sou toestroom. Een gevolg sou wees: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Omdat Jehovah se knegte hulle voorberei vir die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie. Hulle leer die liefdewet.—Johannes 13:34, 35.

12. Wat moet diegene wat die liefdewet gehoorsaam vir ander doen?

12 Aangesien Christelike liefde ook vereis dat ’n mens ‘jou naaste soos jouself moet liefhê’, kan God se knegte nie selfsugtig wees oor wat hulle weet nie (Mattheüs 22:39). Daar is nog baie ander wat God sal wil dien en in sy nuwe wêreld sal wil lewe. Terwyl daar nog tyd is, moet ook hulle van die liefdewet en die baie ander waarhede aangaande die Universele Soewerein, Jehovah God, leer. Hulle moet geleer word dat net Jehovah ons aanbidding waardig is en hoe hulle Hom moet aanbid (Mattheüs 4:10; Openbaring 4:11). Diegene wat reeds hierdie dinge geleer het, staan onder verpligting om ander daarvan te vertel sodat hulle ook Jehovah se guns kan verkry.—Esegiël 33:7-9, 14-16.

Die wettelose mens word aan die kaak gestel

13. Wat moet ons as ’n deel van ons wêreldwye getuienis bekendmaak, en waarom?

13 Jesus het gesê die “evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). God se knegte staan onder verpligting om as ’n deel van hierdie wêreldwye getuieniswerk God se oordeel teen valse godsdiens, veral die geestelikes van die Christendom, bekend te maak. Laasgenoemdes is laakbaarder in God se oë omdat hulle beweer dat hulle Christelik is. Hulle moet aan die kaak gestel word, sodat diegene wat God wil dien van hulle invloed bevry kan word en die nodige stappe vir oorlewing kan doen. Soos Jesus gesê het: “Die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.

14. Watter duidelike boodskap aangaande valse godsdiens moet verkondig word?

14 Jehovah se Getuies moet dus die volgende geïnspireerde boodskap aangaande valse godsdiens bekendmaak: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. . . . Haar plae [sal] op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”—Openbaring 18:4-8.

15. Hoe het die jaar 1914 ’n rol in Jehovah se tydrooster gespeel, en wat het na die Eerste Wêreldoorlog gebeur?

15 Bybelprofesieë toon dat “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge in die kritieke jaar 1914 begin het (2 Timotheüs 3:1-5, 13; Mattheüs 24:3-13). Ons is sedert daardie jaar in “die tyd van die einde” (Daniël 12:4). In ooreenstemming met Jehovah se tydrooster het sy knegte direk na die Eerste Wêreldoorlog ywerig begin om God se Koninkryk op groter skaal aan te kondig, soos Mattheüs 24:14 voorspel het. Hulle het ook begin om valse godsdiens, veral die wettelose geestelikeklas van die afvallige Christendom, kragtiger aan die kaak te stel.

16. Hoe word die ontmaskering van die wettelose mens reeds meer as 70 jaar lank al hoe kragtiger?

16 God se knegte waarsku mense nou al meer as 70 jaar lank met immer toenemende intensiteit teen die bedrieglike werksaamhede van die wettelose mens. Daar was net ’n paar duisend Getuies wat dit na die Eerste Wêreldoorlog gedoen het. Maar nou het hulle “’n magtige nasie” van meer as drie en ’n half miljoen bedrywige bedienaars geword wat wêreldwyd meer as 60 000 gemeentes uitmaak (Jesaja 60:22). God se knegte verkondig ywerig en op immer groter skaal die Koninkryk van God as die enigste hoop vir die mensdom, en terselfdertyd stel hulle die geestelikes as ’n bedrieglike wettelose mens aan die kaak.

Waarom so kragtig?

17. Waarom het Jehovah se knegte die wettelose mens kragtig aan die kaak gestel?

17 Waarom stel Jehovah se knegte die wettelose mens al soveel jare lank kragtig aan die kaak? Omdat die miljoene lede van die groot menigte van Jehovah se skape wat reeds op die weg na redding is, beskerm moet word teen Satan se wêreld en die valse godsdiens daarvan (Johannes 10:16; Openbaring 7:9-14). Nog ’n rede is dat regskape mense wat nog nie ’n deel van God se kudde is nie, nie sal weet hoe om ’n verkeerde weg te vermy tensy die geestelikes aan die kaak gestel word nie. Sulke mense moet dus ingelig word, net soos Jesus mense ingelig het toe hy aangaande die huigelagtige godsdiensleiers van sy dag gesê het: “Hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.”—Mattheüs 15:14; sien ook 2 Korinthiërs 4:4; 11:13-15.

18. Wat moet waarheidsoekers weet?

18 Die geestelikes is ’n deel van Satan se wêreld (Johannes 8:44). Maar dit is ’n wêreld wat God binnekort sal uitwis (2 Petrus 3:11-13; 1 Johannes 2:15-17). Daarom waarsku God se Woord: “Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Die geestelikes ignoreer daardie waarskuwing en hou aan om hulle in politieke aangeleenthede in te meng. Hulle sê vir hulle volgelinge dat ’n beter wêreld deur die pogings van politici tot stand sal kom. Maar dit is ’n valse hoop, aangesien hierdie wêreld onder Satan vinnig op sy einde afstuur. Mense wat op hierdie wêreld staatmaak vir hoop word dus bedrieg. Hulle moet die waarheid vertel word oor die lot van die wêreld en wat die plek daarvan sal inneem.—Spreuke 14:12; 19:21; Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 21:4, 5.

19. Hoe is die wêreldsheid van party geestelikes in die laaste tyd in die media aan die kaak gestel?

19 Die wêreldsheid van party geestelikes, soos die sedelose en weelderige lewenstyle van party TV-leraars, is selfs in die laaste tyd in die media aan die kaak gestel. Een hedendaagse liedjieskrywer het ’n liedjie gekomponeer met die titel: “Sou Jesus ’n Rolex [’n horlosie van R28 000] op sy televisieprogram gedra het?” Die liedjie sê dan: “Sou Jesus polities aktief wees as hy weer op aarde sou kom preek, sy tweede huis in [weelderige] Palm Springs hê en sy rykdom probeer wegsteek?” Daarbenewens verskoon of beoefen al hoe meer geestelikes homoseksualiteit. Die Katolieke Kerk in die Verenigde State betaal tans miljoene rande as skadevergoeding vir die dade van priesters wat kinders seksueel misbruik het.—Romeine 1:24-27; 1 Korinthiërs 6:9, 10.

20. Waarom moet God se knegte aanhou om die wettelose mens aan die kaak te stel?

20 Sulke wandade kan nie deur God se knegte geïgnoreer word nie, maar moet ter wille van ander aan die kaak gestel word. Die groot menigte ander skape moet beskerm word teen diegene wat hulle sal probeer beïnvloed om God se wette te breek. En diegene “wat sug en steun oor al die gruwels wat . . . gedoen word”, moet gesoek en onder die beskermende leiding van die Groot Herder, Jehovah God, en “die goeie herder”, Christus Jesus, ingebring word.—Esegiël 9:4; Johannes 10:11; Spreuke 18:10.

21. Wat sal Jehovah se Getuies aanhou bekendmaak?

21 Daarom sal God se volk nie huiwer om Sy wraak teen Satan se hele wêreld, met inbegrip van die wêreld se wettelose mens, die geestelikes van die Christendom, bekend te maak nie. Hulle sal kragdadig die engeleboodskap in Openbaring 14:7 verkondig: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.” En hulle sal Openbaring 18:4 se dringende waarskuwing aangaande valse godsdiens in hierdie boodskap insluit, naamlik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Hersieningsvrae:

◻ Wat sal die wettelose mens se lot wees, en waarom?

◻ Watter verpligting het Jehovah se knegte teenoor ander?

◻ Hoe het Jehovah se volk hulle rein gehou van die bloed van alle mense?

◻ Wat moet ons ten opsigte van Babilon die Grote doen?

◻ Waarom sal ons aanhou met ons kragtige boodskap oor die wettelose mens?

[Prent op bladsy 23]

Die apostels het vir ’n hoë hof gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”

[Prent op bladsy 24]

Opregte mense moet weet waarop die wêreld en sy godsdienste afstuur

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel