Die Washingtonse Kodeks van die Evangelies
IN DESEMBER 1906 het Charles L. Freer, ’n ryk Amerikaanse nyweraar en kunsversamelaar, ’n paar ou manuskripte by ’n Arabiese handelaar genaamd Ali, in Giza, Egipte, gekoop. Ali het gesê dat hulle uit die Wit Klooster naby Sohâg gekom het, maar dit lyk meer waarskynlik dat hulle in die ruïnes van die Klooster van die Wingerdarbeider, naby die derde piramide van Giza in die Nyl-delta, gevind is.
Freer het drie manuskripte gekry en “’n swart, gehawende stuk perkament wat buite-om so hard en bros was soos gom”. Dit was sowat 17 sentimeter lank, 11 sentimeter breed en 4 sentimeter dik en is saam met die manuskripte verkoop bloot omdat dit daarmee geassosieer is, en blykbaar nie omdat dit self iets werd was nie. Dit was ’n moeisame, delikate werk om die saamgekoekte massa fragmentariese blaaie uitmekaar te maak, maar uiteindelik was daar 84 blaaie, almal uit ’n kodeks van Paulus se briewe wat uit die vyfde of sesde eeu G.J. dateer.
Een van die ander drie manuskripte was van die boeke Deuteronomium en Josua. ’n Ander een was van die Psalms, uit die Griekse Septuagint-vertaling. Maar die derde en belangrikste van almal was ’n manuskrip van die vier Evangelies.
Laasgenoemde manuskrip bestaan uit 187 blaaie van fyn perkament, meestal skaapvel, wat met skuins Griekse unsiale (hoofletters) beskryf is. Daar is min leestekens, maar daar word dikwels klein spasies tussen sinsnedes gelaat. Die rande van die manuskrip was almal kwaai verweer, maar die meeste van die skrif het behoue gebly. Later is dit aan die Freer-Kunsgalery van die Smithsonian Institution, in Washington, D.C., geskenk. Dit word die Washingtonse Kodeks van die Evangelies genoem en word met die letter “W” geïdentifiseer.
Die perkament dateer uit die laat vierde of vroeg vyfde eeu G.J.; dus is dit amper net so belangrik soos die vername drietal, naamlik die Sinaïtiese, Vatikaanse en Alexandrynse manuskripte. Die Evangelies (volledig behalwe wat twee verlore blaaie betref) is in die sogenaamde Westerse volgorde, naamlik Mattheüs, Johannes, Lukas en Markus.
Die manuskrip het ’n ongewone mengsel van tekstipes, met groot, deurlopende dele van elk. Dit lyk of dit afgeskryf is van oorblywende dele van verskeie manuskripte, waarvan elkeen van ’n ander tekstipe was. Professor H. A. Sanders het aan die hand gedoen dat dit dalk teruggevoer kan word tot die skielike vervolging van Christene deur keiser Diocletianus in die jaar 303 G.J., op wie se bevel alle afskrifte van die Skrif in die openbaar verbrand moes word. Ons weet uit geskiedrolle dat party manuskripte destyds weggesteek is. Dit blyk dat ’n onbekende persoon dekades later oorblywende dele van verskillende manuskripte gekopieer en so die teks van die Washingtonse Kodeks saamgestel het. Later het die eerste katern van Johannes (Johannes 1:1 tot 5:11) op die een of ander tyd verlore geraak en moes dit in die sewende eeu G.J. oorgeskryf word.
Daar is ’n paar interessante variasies in die teks en ’n ongewone, maar valse, byvoegsel tot Markus hoofstuk 16 wat waarskynlik oorspronklik ’n kanttekening was. Die manuskrip se besondere waarde lê in sy verband met die ou Latynse en Siriese vertalings. Kolle wat veroorsaak is deur kersvet wat op die perkament geval het, toon dat dit goed gebruik is.
Ondanks vervolging, teenstand en die tand van die tyd, is die Bybel op ’n wonderlike manier in baie manuskripte vir ons bewaar. Ja, “die woord van die Here bly tot in ewigheid”.—1 Petrus 1:25; Jesaja 40:8.
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Courtesy of Freer Gallery of Art, Smithsonian Institution