Hoe jy misdaad in ’n chaotiese wêreld die hoof kan bied
IS JY bang om in die nag uit te gaan? Moet jy twee of drie slotte aan jou deure en vensters hê? Is jou motor of fiets al ooit gesteel? Is jou radio al uit jou motor gesteel? Voel jy in sekere buurte bedreig?
As jy op enige van hierdie vrae ja antwoord, probeer jy om misdaad in ’n chaotiese wêreld die hoof te bied. Wat kan jy daaromtrent doen? Kan die Bybel jou help?
Die kriminele denkwyse en die gereg
In die misdaadwêreld is daar drie basiese elemente: die misdadigers, die polisie en die slagoffers. Wat is nodig sodat jy, die potensiële slagoffer, misdaad die hoof kan bied? Kan jy enige van hierdie drie elemente beïnvloed? Kan jy byvoorbeeld die misdadigers verander?
Wel, baie misdadigers het misdaad hulle loopbaan gemaak. Hulle het dit gekies omdat dit ’n makliker lewenswyse is. ‘Waarom moet jy werk as jy kan leef van wat ander verdien?’ is blykbaar hulle filosofie. Die straatrowers weet dat die gemiddelde slagoffer sy of haar geld sonder worsteling sal oorhandig. En aangesien dit heel onwaarskynlik is dat hulle gevang en tronk toe gestuur sal word, is misdaad vir hulle die moeite werd.
Hofverrigtinge is boonop ingewikkeld en tydrowend. In baie lande is daar te min howe, regters en tronke. Die kriminele sakerol oorweldig die stelsel. Die regsproses is so stadig dat die situasie is soos die Bybel dit meer as drieduisend jaar gelede beskryf het: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.” Al word die getal misdadigers verminder of al word hulle hervorm, toon hierdie Bybelbeginsel dat daar ’n skrale hoop op ’n oplossing is.—Prediker 8:11.
Wat van die tweede element: die polisie? Is daar enige hoop dat die polisie die situasie sal bemeester? Hulle self sal antwoord: Met die wette wat dikwels meer ten gunste van die misdadiger se regte is, met gewetenlose regsgeleerdes wat die wet manipuleer om ’n skuldige man vrygespreek te kry, met gemeenskappe wat onwillig is om die ontsaglike koste van meer en groter tronke te dra en met die personeeltekort in die polisiemag, is daar min wat hulle teen die stortvloed van misdaad kan doen.
Nou bly die derde element oor, die potensiële slagoffers: ons, die publiek. Is daar enigiets wat ons kan doen sodat ons hierdie amper wettelose situasie beter die hoof kan bied?
Praktiese wysheid en gesonde verstand
Die Bybelboek Spreuke sê: “Bewaar beleid en oorleg, dan sal dit die lewe wees vir jou siel en ’n versiersel vir jou hals; dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie.” Hierdie raad kan op situasies toegepas word wat ’n mens heel moontlik ’n slagoffer van misdaad kan maak. Wat is party van die maniere waarop praktiese wysheid ons op hierdie gebied kan help?—Spreuke 3:21-23.
Misdadigers is geneig om soos roofdiere te wees. Hulle soek die maklikste prooi. Hulle wil hulle nie blootstel aan ’n bakleiery en die moontlikheid dat hulle gevang kan word as hulle dieselfde van ’n maklike slagoffer kan kry nie. Daarom val hulle diegene aan wat bejaard, sieklik, verward is, asook dié wat onbewus van ’n gevaarlike situasie is. Die skurke kies die tyd en plek wat vir hulle die beste is om aan te val. Dit is hier waar potensiële slagoffers praktiese wysheid kan gebruik.
Soos die Bybel hulle beskryf, verrig liefhebbers van die kwaad hulle werke dikwels onder die sluier van die nag (Romeine 13:12; Efesiërs 5:11, 12). Dit is vandag ook so dat baie misdade teen mense en eiendom in die nag plaasvind. (Vergelyk Job 24:14; 1 Thessalonicense 5:2.) Daarom sal die wyse persoon dit vermy om, waar moontlik, in die nag in gevaarlike dele buite te wees. In die misdaadgeteisterde stad New York toon die daaglikse polisieverslae dat baie mense ná sononder en veral ná tienuur beroof word, en dit dikwels as hulle na hulle woonplekke terugkeer. Die rowers dwaal deur die verlate strate op soek na slagoffers. As jy derhalwe die keuse het om vir ’n bus of ’n taxi te wag of om deur ’n gevaarlike gebied te loop, moet jy eerder geduldig wees en wag. Anders kan die ondervinding pynlik wees.
Een Christen is erg geslaan en beroof toe hy, pleks van om teen omtrent tienuur een aand vir ’n bus te wag, ’n kort entjie in die halfdonker geloop het. Daar was ander mense op straat, maar drie boewe het ’n strik vir die onbehoedsame gestel. Een van hulle het vir die ander ’n teken gegee toe ’n geskikte slagoffer straat op beweeg het. Sonder om ’n woord te sê, het hulle die slagoffer aangeval en hom toe beroof. Dit het alles só skielik gebeur dat selfs ’n buurman nie tyd gehad het om tussenbeide te tree nie. Die slagoffer het later erken: “Volgende keer sal ek vir die bus wag.”
Die Glibberige Kalant, ’n jong sakkeroller uit Dickens se roman Oliver Twist, is ’n relatief goedaardige prototipe van die hedendaagse straatoortreder. Anders as die Glibberige Kalant het vandag se diewe en straatrowers, ongeag hulle ouderdom, gewoonlik ’n vuurwapen of ’n mes by hulle wat hulle nie sal aarsel om te gebruik nie. Verwarde toeriste, besoekers en mense wat in ’n besige stad rondslenter, is maklike prooi vir sulke gewetenlose skurke. Hulle sal enigiets in ’n oogwink steel! Wat kan ’n dief se hart vinniger laat klop? ’n Goue ketting of ander duur juweliersware wat openlik gedra word. Of ’n kamera wat om ’n toeris se nek hang. Dit is dieselfde as om ’n teken te dra wat sê: “Kom, vat my!” Gevolglik is goeie oordeel nodig. Moenie enige juweliersware oop en bloot dra nie, en dra die kamera op ’n minder opsigtelike manier, moontlik versteek in ’n inkopiesak. Dit is praktiese wysheid.
Om op jou hoede te wees, is nog ’n manier om misdaad die hoof te bied. Die Bybel sê: “Die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis” (Prediker 2:14). Wanneer ’n mens hierdie waarskuwing op die probleem van misdaad toepas, sal jy oplet wanneer mense verdag ronddwaal. Pas op vir diewe wat jou van agter nader en jou sak gryp terwyl jy met die sypaadjie afloop. Moet nooit naby die kant van die sypaadjie loop nie, veral nie as jy ’n aktetas of handsak dra nie, aangesien party op motorfietse ry en mense se besittings gryp terwyl hulle verbyjaag. Vermy moltreinwaens wat amper leeg is. ’n Mens is veiliger tussen ’n klomp mense en op ’n plek waar daar baie lig is. Diewe wil nie gesien en geïdentifiseer word nie.
Inbraak is ’n ander algemene misdaad wat dikwels vermy kan word as mense meer misdaadbewus is. Die Bybel het tereg hierdie vergelyking gemaak: “Hulle dring by die vensters in soos ’n dief” (Joël 2:9). Praktiese wysheid sal maak dat jy nie die deure of vensters oop los nie. Dit is altyd waar dat voorkoming beter is as genesing. Bykomende uitgawes om jou huis te beveilig is in werklikheid ’n versekering teen diefstal en fisiese geweld.
Sê nou jy word beroof?
Ja, sê nou jy word, ten spyte van alle voorsorgmaatreëls, deur ’n straatrower voorgekeer? Probeer om nie paniekerig te raak of enige vinnige bewegings te maak nie. Onthou dat die dief moontlik ook senuweeagtig is en jou optrede verkeerd kan vertolk. Probeer om met die persoon te praat en te redeneer as hy of sy dit toelaat. (Ja, jou aanvaller kan heel moontlik ’n vrou wees.) Straatrowers se gesindheid het al verander as hulle uitvind dat hulle besig is om ’n opregte en ongeveinsde Christen aan te val. Wat die reaksie ook al is, moet jou nie probeer teësit as dit net jou geld en besittings is wat hulle wil hê nie. Handig alles oor wat hy van jou eis. Die Bybel leer dat ’n mens se lewe meer werd is as enigiets wat jy miskien besit.—Vergelyk Markus 8:36.
Probeer om te let op enige besondere kenmerke, in kleredrag of fisiese voorkoms, wat die straatrower moontlik het, sonder om dit na ’n noukeurige ondersoek te laat lyk. Watter soort aksent het hy? Al hierdie besonderhede kan nuttig wees wanneer jy die misdaad by die polisie aanmeld, aangesien die meeste misdadigers hulle eie modus operandi het, en hulle kan gevolglik makliker uitgeken word.
Sal dit help as jy ’n wapen vir selfverdediging dra? Dit sal beslis nie verstandig vir ’n Christen wees om wapens te dra nie. As ’n skurk dink dat jy na ’n wapen gryp, sal hy nie huiwer om jou seer of dood te maak nie. Hoe kan jy buitendien die Bybelbeginsel om ‘in vrede met alle mense te leef’, nakom as jy jou vir gewelddadige teenaanval bewapen?—Romeine 12:18.
Daar is, ongeag die voorsorgmaatreëls wat jy ook al tref, geen waarborg dat jy nie eendag ’n slagoffer sal wees nie. In stede waar misdaad algemeen is, hoef jy net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd te wees. Onlangs het ’n regsgeleerde in New York sy kantoor verlaat om ’n koppie koffie te koop. Toe hy die winkel binnegaan, het ’n paar jeugdiges verbygery en die plek met koeëls bestook. ’n Koeël in die kop het die regsgeleerde sy lewe gekos. Hy het sy lewe as gevolg van “tyd en lotgeval” verloor. Wat ’n tragedie! Is daar enige hoop op ’n permanente oplossing vir die huidige stortvloed van misdaad wat die wêreld teister?—Prediker 9:11.
Wanneer misdaad beëindig sal word
Jesus het amper tweeduisend jaar gelede voorspel dat daar ’n geslag sou kom wat skrikwekkender gebeure sou sien as wat enige vorige geslag aanskou het. Met televisie en onmiddellike kommunikasie sien miljoene, nee, duisendmiljoene, wreedhede op hulle plaaslike nuusprogramme wanneer hulle gepleeg word. Die wêreld het ’n dorp geword, en wêreldnuus is onmiddellik plaaslike nuus. Mense word gevolglik daagliks bewus gemaak van die werklikhede van die lewe en, net soos Jesus voorspel het, beswyk baie mense “se harte . . . van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Lukas 21:26.
Jesus het die gebeurtenisse vooruitgesien wat sedert 1914 plaasvind, gebeurtenisse wat ’n voorspel sou wees van “die voleinding van die stelsel van dinge” (Mattheüs 24:3-14). Maar hy het ook gesê dat “die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:31). Dit beteken dat God se regverdige heerskappy die aarde binnekort op dramatiese wyse gaan beïnvloed.—Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 21:1-4.
Onder daardie heerskappy sal net die sagmoediges, die vredeliewendes en diegene wat aan God se wil gehoorsaam is die aarde se paradystoestande beleef. Wat sal met die misdadigers en die kwaaddoeners gebeur? “Soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.” Onder daardie regverdige hemelse regering sal daar nie chaos of misdaad wees nie.—Psalm 37:2, 9.
As jy meer aangaande hierdie Bybelse hoop van ’n vreedsame en ewigdurende wêreldregering wil weet, kan jy met Jehovah se Getuies in jou buurt of by hulle plaaslike Koninkryksaal in aanraking kom. Hulle sal jou met graagte en sonder enige koste help om die Bybel te verstaan.
[Lokteks op bladsy 6]
“Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit”
[Prente op bladsy 7]
Charles Dickens se sakkeroller, die Glibberige Kalant, is ’n amateur in vergelyking met hedendaagse straatrowers
[Erkenning]
Graphic Works of GEORGE CRUIKSHANK, by Richard A. Vogler, Dover Publications, Inc.