Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/1 bl. 15-19
  • Jehovah en Christus—die vernaamste kommunikeerders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah en Christus—die vernaamste kommunikeerders
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah as kommunikeerder
  • God se Seun as kommunikeerder
  • Christus se dissipels moet kommunikeerders wees
  • Kommunikasie in die gesin en in die gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Kommunikasie in die Christelike bediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ons moet kommunikeer!
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Kommunikasie wat tot die lewe lei
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/1 bl. 15-19

Jehovah en Christus—die vernaamste kommunikeerders

“Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—AMOS 3:7.

1. Watter kommunikasiemetodes word vandag gebruik?

VANDAG is kommunikasie ’n bedryf waarby miljoene rande betrokke is. Al die boeke wat uitgegee word, al die koerante en tydskrifte wat gereeld gedruk word, al die radio- en televisieprogramme wat uitgesaai word, sowel as alle rolprente en toneelstukke is pogings om te kommunikeer. Dit geld ook vir alle briewe wat geskryf en gepos word sowel as alle telefoonoproepe. Al hierdie dinge is pogings om te kommunikeer.

2. Wat is ’n paar voorbeelde van die vooruitgang wat die mens in die tegniese aspekte van kommunikasie gemaak het?

2 Ons staan verstom oor die mens se vooruitgang in die tegniese aspekte van kommunikasie. Veseloptiese kabels, wat baie beter as koperkabels is, kan byvoorbeeld tienduisende telefoongesprekke gelyktydig dra. Dan is daar die kommunikasiesatelliete wat in die ruimte om die aarde wentel en toegerus is om telefoniese, telegrafiese, radio- en televisieseine te herlei. Een van hierdie satelliete kan 30 000 telefoonboodskappe gelyktydig behartig!

3. Wat gebeur wanneer daar kommunikasiegapings bestaan?

3 Maar ondanks al hierdie kommunikasiemiddele is daar baie ellende in die wêreld weens ’n gebrek aan kommunikasie tussen mense. Daarom hoor ons dat “daar ’n groeiende gaping—’n toenemende ‘kommunikasiegaping’—bestaan tussen die regeerders en dié wat regeer word”. En wat is die sogenaamde generasiegaping anders as ouers en hulle kinders wat nie goed met mekaar kan kommunikeer nie? Huweliksraadgewers sê dat die grootste probleem in huwelike ’n gebrek aan kommunikasie tussen man en vrou is. ’n Gebrek aan behoorlike kommunikasie kan selfs die dood tot gevolg hê. Vroeg in 1990 het 73 mense in ’n vliegtuigongeluk gesterf wat klaarblyklik onder andere deur ’n gebrek aan kommunikasie tussen die vlieënier en die vliegveldpersoneel veroorsaak is. ’n Koerantopskrif het gelui: “Kommunikasieprobleem loop uit op tragedie.”

4. (a) Wat beteken “kommunikasie”? (b) Wat is die doel van Christelike kommunikasie?

4 Wat is kommunikasie in die Christelike konteks? “Kommunikasie” beteken volgens een woordeboek “om inligting, gedagtes of gevoelens oor te dra sodat dit bevredigend ontvang of verstaan kan word”. ’n Ander woordeboek definieer dit as “’n manier om gedagtes doeltreffend uit te druk”. Let daarop dat dit ‘idees doeltreffend uitdruk’. Veral Christelike kommunikasie moet doeltreffend wees, want die doel daarvan is om tot mense se harte deur te dring met die waarheid van God se Woord sodat hulle hopelik sal reageer op wat hulle leer. Op unieke wyse is die dryfkrag daaragter onselfsugtigheid, liefde.

Jehovah as kommunikeerder

5. Wat is een van die eerste maniere waarop Jehovah God met die mens gekommunikeer het?

5 Jehovah God is ongetwyfeld die grootste Kommunikeerder. Aangesien hy ons na sy beeld en gelykenis geskep het, kan hy met ons kommunikeer en is dit vir ons moontlik om met ander oor hom te kommunikeer. Sedert die skepping van die mens het Jehovah met sy aardse skepsele oor homself gekommunikeer. Een manier waarop hy dit gedoen het, is deur sy sigbare skepping. Daarom sê die psalmis: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan” (Psalm 19:2, 3). En in Romeine 1:20 lees ons God se “onsigbare dinge [“hoedanighede”, NW] kan van die skepping van die wêreld af . . . duidelik gesien word”. Die feit dat dit “duidelik gesien word”, toon dat daar doeltreffend gekommunikeer word!

6. Wat het Jehovah vir sy aardse skepsele gesê toe hulle in die tuin van Eden was?

6 Diegene wat nie in God en in sy goddelike openbaring glo nie, verwag ons moet glo dat dit aan die mens self oorgelaat word om die rede vir sy bestaan uit te vind. Maar God se Woord stel dit duidelik dat God van die begin af met die mens gekommunikeer het. God het die eerste man en vrou dus die opdrag gegee om voort te plant: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor . . . al die diere.” God het hulle ook toestemming gegee om soveel van die vrugte in die tuin te eet as wat hulle wou—met net een uitsondering. Toe Adam en Eva ongehoorsaam was, het Jehovah die eerste Messiaanse belofte gemaak, wat die mensdom ’n straaltjie van hoop gegee het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou [die slang] en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Genesis 1:28; 2:16, 17; 3:15.

7. Wat toon die boek Genesis aangaande Jehovah se kommunikasie met sy knegte?

7 Toe Adam se seun Kain met moorddadige jaloesie vervul is, het Jehovah God met hom gekommunikeer en as ’t ware vir hom gesê: ‘Pas op! Jy soek moeilikheid!’ Maar Kain het daardie waarskuwing geïgnoreer en sy broer vermoor (Genesis 4:6-8). Toe die aarde met geweld en goddeloosheid vervul geraak het, het Jehovah die regverdige man Noag vertel van Sy voorneme om die aarde te reinig van alles wat dit verontreinig het (Genesis 6:13–7:5). Ná die Vloed, toe Noag en sy gesin uit die ark gekom het, het Jehovah hulle meegedeel wat sy voorneme aangaande die heiligheid van lewe en bloed is, en deur middel van die reënboog het hy hulle die versekering gegee dat hy nooit weer alle lewende wesens deur ’n vloed sou vernietig nie. ’n Paar eeue later het Jehovah Abraham vertel van Sy voorneme om alle geslagte van die mensdom hulleself deur middel van Abraham se Saad te laat seën (Genesis 9:1-17; 12:1-3; 22:11, 12, 16-18). En toe God besluit het dat hy die verdorwe inwoners van Sodom en Gomorra gaan vernietig, het hy Abraham liefdevol daarvan vertel en gesê: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?”—Genesis 18:17.

8. Op watter vier maniere het Jehovah met sy knegte op aarde gekommunikeer?

8 Van Moses af het Jehovah baie profete gebruik om met Israel te kommunikeer (Hebreërs 1:1). Soms het hy hulle woordeliks voorgesê wat om neer te skryf, soos toe hy vir Moses gesê het: “Skrywe vir jou hierdie woorde op” (Exodus 34:27). Heel dikwels het Jehovah deur gesigte met sy woordvoerders gekommunikeer, soos hy reeds met Abraham gedoen het.a Jehovah het ook drome gebruik om met mense te kommunikeer, en dit nie net met sy knegte nie, maar ook met diegene wat met sy knegte te doen gehad het. Byvoorbeeld, Jehovah het twee van Josef se medegevangenes drome laat droom wat Josef vir hulle uitgelê het. Jehovah het Farao en Nebukadnesar ook drome laat droom, wat deur sy knegte Josef en Daniël vir hulle uitgelê is (Genesis 40:8–41:32; Daniël, hoofstukke 2 en 4). Daarbenewens het Jehovah dikwels engeleboodskappers gestuur om met sy knegte te kommunikeer.—Exodus 3:2; Rigters 6:11; Mattheüs 1:20; Lukas 1:26.

9. Waarom het Jehovah met sy volk Israel gekommunikeer, en uit watter van sy woorde kan ons dit sien?

9 Al hierdie kommunikasie van Jehovah deur middel van sy profete het sy liefde vir sy volk Israel weerspieël. Hy het byvoorbeeld by monde van sy profeet Esegiël gesê: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Esegiël 33:11). Jehovah was ’n lankmoedige en geduldige Kommunikeerder met sy opstandige eertydse volk, soos ons uit 2 Kronieke 36:15, 16 kan sien: “Die HERE, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. Maar hulle het . . . sy woorde verag en met sy profete gespot . . . totdat daar geen genesing meer was nie.”

10. Hoe kommunikeer Jehovah vandag met sy volk, en in watter mate is hy die God van kommunikasie?

10 Vandag het ons God se geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, waardeur Jehovah inligting aan ons kommunikeer oor homself, sy voornemens en sy wil vir ons (2 Timotheüs 3:16, 17). Trouens, as die Voortreflikste Kommunikeerder verklaar Jehovah: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Hy maak aan sy knegte bekend wat hy gaan doen.

God se Seun as kommunikeerder

11. Wie is Jehovah se belangrikste instrument om met die mens te kommunikeer, en waarom is sy titel “die Woord” gepas?

11 Van al die instrumente wat Jehovah gebruik het om Sy wil te kommunikeer, is die belangrikste die Woord, die Logos, wat Jesus Christus geword het. Wat beteken dit dat hy die Woord of Logos genoem word? Dit beteken dat hy Jehovah se Hoofwoordvoerder is. En wat is ’n woordvoerder? Iemand wat die woorde van ’n ander persoon oordra. Die Logos het dus die een geword wat Jehovah God se woord aan Sy intelligente aardse skepsele oorgedra het. Daardie rol is so belangrik dat hy die Woord genoem word.—Johannes 1:1, 2, 14.

12. (a) Waarom het Jesus aarde toe gekom? (b) Wat getuig daarvan dat hy daardie opdrag getrou uitgevoer het?

12 Jesus self het vir Pontius Pilatus gesê dat die vernaamste doel waarvoor hy aarde toe gekom het, was om die waarheid aan die mensdom oor te dra: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). En die verslag in die Evangelies vertel ons hoe goed hy daardie opdrag uitgevoer het. Sy Bergpredikasie word erken as die voortreflikste preek wat enige mens nog gelewer het. Hoe goed het hy tog deur daardie preek gekommunikeer! “Die uitwerking [was] dat die skare [wat die preek gehoor het] verstom was oor sy manier van onderrigting” (Mattheüs 7:28, NW). Ons lees van ’n ander geleentheid: “Die groot menigte het graag na Hom geluister” (Markus 12:37). Toe sekere beamptes gestuur is om Jesus in hegtenis te neem het hulle sonder hom teruggekom. Waarom? Hulle het die Fariseërs geantwoord: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.”—Johannes 7:46.

Christus se dissipels moet kommunikeerders wees

13. Wat toon dat Christus nie tevrede was om die enigste kommunikeerder te wees nie?

13 Jesus was nie daarmee tevrede om die enigste kommunikeerder te wees nie, maar het eers 12 apostels en later 70 evangeliedienaars die opdrag gegee om uit te gaan as kommunikeerders van die goeie nuus van die Koninkryk (Lukas 9:1; 10:1). Kort voor hy in die hemel opgevaar het, het hy sy dissipels opdrag gegee om ’n spesiale taak te verrig. Watter taak? In Mattheüs 28:19 lees ons dat hy hulle die opdrag gegee het om kommunikeerders te wees; en hulle moes nog ander leer om ook kommunikeerders te word.

14. Hoe suksesvol was die vroeë Christelike kommunikeerders?

14 Was die dissipels goeie kommunikeerders? Hulle was beslis! As gevolg van hulle predikingswerk op Pinkster 33 G.J. is 3 000 mense by die pas gevormde Christengemeente gevoeg. Kort daarna het hulle tot 5 000 vermeerder (Handelinge 2:41; 4:4). Dit is geen wonder dat hulle Joodse vyande hulle daarvan beskuldig het dat hulle die hele Jerusalem met hulle leer gevul het en later gekla het dat hulle die hele bewoonde aarde met hulle predikingswerk in opstand gebring het nie!—Handelinge 5:28; 17:6.

15. Watter instrument gebruik Jehovah vandag om met die mens te kommunikeer?

15 Wat van vandag? Soos dit in Mattheüs 24:3, 45-47 voorspel is, het die Heer, Jesus Christus, “die getroue en verstandige dienskneg”, wat uit gesalfde Christene bestaan, aangestel om gedurende hierdie dag van sy teenwoordigheid na al sy aardse besittings om te sien. Daardie getroue en verstandige dienskneg word vandag deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verteenwoordig, wat die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap as sy mondstuk gebruik. Dit is uiters gepas dat die getroue en verstandige dienskneg ook al God se kommunikasiekanaal genoem is. Op sy beurt moedig hierdie dienskneg ons aan om ook goeie kommunikeerders te wees. Trouens, die heel eerste nommer van Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence het sy lesers gemaan: “As u dink dat een van u bure of vriende moontlik in [hierdie tydskrif se] onderrigting sal belang stel of daarby sal baat vind, kan u dit gerus onder hulle aandag bring; en sodoende die Woord verkondig en aan alle mense goed doen soos u die geleentheid het.”

16. Wat toon dat meer as net die Bybel nodig is sodat God doeltreffend met sy aardse knegte kan kommunikeer?

16 Maar om bloot toegang tot die Woord van God te hê en dit persoonlik te lees is nie genoeg om die juiste kennis te verkry wat ’n mens op die weg na die lewe plaas nie. Onthou die Ethiopiese hofdienaar wat Jesaja se profesie gelees het, maar nie verstaan het wat hy lees nie. Filippus die evangeliedienaar het die profesie vir hom verduidelik, en daarná was hy gereed om as ’n dissipel van Christus gedoop te word (Handelinge 8:27-38). Dat meer nodig is as om bloot die Bybel privaat te lees blyk uit Efesiërs 4:11-13 waar Paulus toon dat Christus nie net party gegee het as geïnspireerde apostels en profete nie, maar dat hy ook party gegee het “as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man”.

17. Aan watter kenmerke kan ons die instrument waardeur Jehovah sy voornemens aan die mens meedeel, herken?

17 Hoe kan ons diegene identifiseer wat deur Jehovah God en Jesus Christus gebruik word om mense wat Christene wil word te help om volwassenheid te bereik? Volgens Jesus sou een van hulle kenmerke wees dat hulle mekaar liefhet soos Jesus sy volgelinge liefgehad het (Johannes 13:34, 35). Nog ’n kenmerk: Hulle sou geen deel van die wêreld wees nie, net soos Jesus geen deel van die wêreld was nie (Johannes 15:19, NW; 17:16, NW). ’n Ander kenmerk sou wees dat hulle, net soos Jesus, God se Woord as die waarheid erken en voortdurend op die gesag daarvan staatmaak (Mattheüs 22:29; Johannes 17:17). Om God se naam na vore te bring soos Jesus gedoen het, sou ook ’n kenmerk wees (Mattheüs 6:9; Johannes 17:6). En ’n verdere kenmerk sou wees dat hulle Jesus se voorbeeld sou volg deur die Koninkryk van God te verkondig (Mattheüs 4:17; 24:14). Daar is net een groep wat aan hierdie vereistes voldoen, naamlik die internasionale kommunikeerders wat as die Christelike Getuies van Jehovah bekend staan.

18. Watter drie gebiede van kommunikasie sal in die volgende artikels bespreek word?

18 Kommunikasie impliseer egter verantwoordelikheid teenoor ander. Teenoor wie het Christene die verantwoordelikheid om te kommunikeer? Daar is basies drie gebiede waarop Christene moet let om kommunikasiekanale oop te hou: die gesin, die Christengemeente en die Christelike veldbediening. Die volgende artikels sal hierdie aspekte van ons onderwerp behandel.

[Voetnoot]

a Sien Genesis 15:1; 46:2; Numeri 8:4, NW; 2 Samuel 7:17; 2 Kronieke 9:29; Jesaja 1:1; Esegiël 11:24; Daniël 2:19; Obadja 1; Nahum 1:1; Handelinge 16:9; Openbaring 9:17.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Watter skade kan ’n gebrek aan kommunikasie tot gevolg hê?

◻ Wie is die twee vernaamste kommunikeerders?

◻ Watter maniere het God gebruik om met die mens te kommunikeer?

◻ Hoe het Jesus as ’n kommunikeerder uitgeblink?

◻ Hoeveel sukses het die vroeë Christene met kommunikasie behaal?

[Prent op bladsy 18]

Soos sy hemelse Vader was Jesus ’n barmhartige kommunikeerder

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel