Die Christendom en die slawehandel
GEDURENDE die 19de eeu was Katolieke en Protestantse sendelinge verenig in hulle teenstand teen die slawehandel. Maar dit was nie altyd hulle standpunt nie. In vorige eeue het hulle die slawehandel goedgekeur en daaraan deelgeneem ten spyte van die verskriklike lyding wat dit veroorsaak het.
Sendelinge het na die oos- en weskus van Afrika begin kom toe die seehandelsroete in die 15de eeu om die Kaap die Goeie Hoop ontdek is. Maar na drie eeue het die sendingwerk in Afrika byna doodgeloop. Daar was maar min bekeerlinge onder die inboorlinge. Een rede vir hierdie mislukking was die Christendom se betrokkenheid by die slawehandel. C. P. Groves verduidelik in The Planting of Christianity in Africa:
“Die deelname aan die slawehandel het met die Christelike sending gepaardgegaan en is nie as verkeerd beskou nie. Om die waarheid te sê, die sending het self slawe besit; ’n Jesuïeteklooster in Loanda [tans Luanda, die hoofstad van Angola] het 12 000 slawe gehad. Toe die slawehandel tussen Angola en Brasilië ontwikkel is, het die biskop van Loanda, op ’n klipstoel op die kaai, sy biskoplike seën oor die vertrekkende skeepsvrag uitgespreek en hulle geluk vir die toekoms belowe sodra die stormagtige beproewinge van die lewe verby is.”
Jesuïetesendelinge het nie “beswaar gemaak teen die gebruik van Negers as slawe” nie, bevestig C. R. Boxer wie se woorde in die boek Africa From Early Times to 1800 aangehaal is. In Luanda, voordat slawe op pad na Spaanse en Portugese kolonies aan boord gegaan het, sê Boxer verder, “is hulle na ’n nabygeleë kerk geneem . . . en is daar deur ’n plaaslike priester in groepe van honderd op ’n slag gedoop”. Nadat die slawe met “heilige water” besprinkel is, is daar dan vir hulle gesê: “Kyk julle mense is reeds kinders van God; julle is op pad na die land van die Spanjaarde waar julle dinge van die Geloof sal leer. Moenie meer dink oor die plek waar julle vandaan kom nie . . . Gaan met ’n goeie gesindheid.”
Dit was weliswaar nie net die Christendom se sendelinge wat die slawehandel goedgekeur het nie. “Tot die laaste helfte van die agttiende eeu”, verduidelik Geoffrey Moorhouse in sy boek The Missionaries, “was dit die gesindheid van die wêreld in die algemeen.” Moorhouse noem die voorbeeld van ’n 18de-eeuse Protestantse sendeling, Thomas Thompson, wat ’n traktaat The African Trade for Negro Slaves Shown to Be Consistent With the Priciples of Humanity and With the Laws of Revealed Religion geskryf het.
Die Christendom dra, weens sy aandeel aan die slawehandel, nietemin deel van die verantwoordelikheid vir die verskriklike lyding wat miljoene swart slawe moes verduur. The Encyclopædia Britannica sê: “Benewens die slawe wat gesterf het voordat hulle uit Afrika vertrek het, het 121/2% gedurende hulle reis na Wes-Indië gesterf; in Jamaika het 41/2% gesterf terwyl hulle in die hawe was of voordat hulle verkoop is en nog ’n derde weens die ‘behandeling om hulle touwys te maak’.”
Jehovah God gaan weldra rekenskap eis van die Christendom en ander vorme van valse godsdiens vir al die verskriklike dade van bloedskuld wat hulle goedgekeur en selfs geseën het.—Openbaring 18:8, 24.
[Diagram op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Skets van hoe slawe op ’n slaweskip gelaai is
[Erkenning]
Schomburg Center for Research in Black Culture / The New York Public Library / Astor, Lenox and Tilden Foundations