Watter hoop is daar vir blindes?
JOHN MILTON het sy epiese gedigte Paradise Lost en Paradise Regained geskryf hoewel hy heeltemal blind was. Die feit dat Helen Keller blind sowel as doof was, het haar nie gedwarsboom in haar werk om mense met fisiese gebreke te help nie. Ja, baie blinde mense laat hulle nie deur hulle toestand stuit nie. Maar hoe wonderlik sou dit tog wees as almal goed kon sien! Jy stem dalk veral saam as jy ’n geliefde of ’n vriend het wat blind of swaksiende is.
In sommige lande is daar weliswaar rehabilitasieprogramme wat mense met gesigsgebreke leer om daaglikse takies te verrig. Braille en opgeleide gidshonde help blindes om in baie van hulle behoeftes te voorsien. Tog beskou baie mense blindheid as die mees gevreesde gebrek. Een skrywer het gesê: “Om blind te wees, is om toegang tot die betekenisvolste deel van ons sintuiglike wêreld te verloor.” Terselfdertyd moet baie blindes toenemend op ander staatmaak.
Jy wonder miskien: Waarom is blindheid so algemeen? Wel, het jy al van tragoom gehoor? Dit is vir ongeveer negemiljoen gevalle van blindheid verantwoordelik. The New Encyclopædia Britannica sê daarvan: “Die siekte is aansteeklik en kom veral voor waar bevolkings in swak higiëniese toestande dig opmekaar woon. ’n Gebrek aan water om mee te was en die swerms vlieë wat na menslike uitwerpsel aangetrek word, dra daartoe by dat die siekte versprei. Tragoom is in sommige opsigte eerder ’n maatskaplike as ’n mediese probleem; as lewenstandaarde verbeter, oorbevolking verminder, vlieë weggehou en genoeg water beskikbaar gemaak kan word, sal die voorkoms van tragoom vinnig afneem.” Nog sowat ’n miljoen ly aan onkoserkiase, of rivierblindheid. Of wat van xeroftalmie? Die naam is moeilik, maar die feit is dat dit ’n algemene oorsaak van blindheid is. Suikersiekte, witseerkeel, masels, skarlakenkoors en seksueel oordraagbare siektes kan ook blindheid tot gevolg hê.
Namate ons ouer word, verswak ons sig dalk as gevolg van kwale soos makuladegenerasie en gloukoom; en ons moet ook nie van katarakte vergeet nie. The New Encyclopædia Britannica sê: “In baie lande in die wêreld staan katarakte steeds hoog op die lys oorsake van blindheid, en wat dit selfs treuriger maak, is dat dit so maklik deur chirurgie genees kan word.”
Ondanks nuwe uitvindings in die oogheelkunde is die einde van blindheid blykbaar nog lank nie in sig nie. Dieselfde ensiklopedie sê: “Vooruitgang in die voorkoming en die mediese en chirurgiese behandeling van blindheid kan ’n bevolking slegs tot voordeel strek as hulle toegang tot mediese sorg het. Voorkombare blindheid sal sy huidige hoë vlak handhaaf totdat die voeding- en higiëniese standaarde van ’n groot deel van die wêreldbevolking verbeter kan word.”
Hoewel antibiotika en chirurgie beslis hulle plek in die stryd teen blindheid het, hou die hoop op blywende genesing verband met iets wat bykans tweeduisend jaar gelede gebeur het.
Die genesing van blindes in Jesus se dag
Stel jou ’n man van vroeg in die dertig voor wat met ’n stowwerige pad langs loop. Twee blindes langs die pad hoor dat hy verbygaan en roep uit: “Wees ons barmhartig!” Hoewel toeskouers hulle beveel om stil te bly, roep die blindes hard uit: “Wees ons barmhartig!” Die man vra vriendelik: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Gretig antwoord hulle: “Dat ons oë geopen mag word.” Stel jou nou voor: Die man raak aan hulle oë, en dadelik kan hulle sien!—Mattheüs 20:29-34.
Watter vreugde is dit tog vir hierdie mans wat blind was! Maar blindheid is baie algemeen. Dít was maar net een geval. Waarom verdien dit jou aandag? Omdat dit Jesus van Nasaret was wat daardie blinde mans gehelp het om weer te kan sien. Trouens, Jesus is nie net ‘gesalf om die evangelie aan die armes te bring’ nie, maar hy is ook ‘gestuur om aan blindes herstel van gesig te gee’.—Lukas 4:18.
Sulke wonderdadige genesings wat deur middel van God se kragtige heilige gees uitgevoer is, het mense verstom. Ons lees: “Die skare [was] verbaas . . . om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien; en hulle het die God van Israel verheerlik” (Mattheüs 15:31). Sonder om betaling te eis, ’n persoonlike vertoon te maak of homself tydens sulke genesings te probeer verheerlik, het Jesus die aandag op Jehovah God se liefde en genade gevestig. Maar Jesus het ook medelye gehad met die geestelik blinde en hulpelose mense wat “moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie”.—Mattheüs 9:36.
Hierdie geskiedenis is wel interessant, maar jy wonder dalk: Wat van vandag? Het daardie genesings vir ons betekenis, aangesien niemand vandag mense genees soos Jesus nie? Is daar enige hoop vir blindes? Lees asseblief die volgende artikel.
[Lokteks op bladsy 4]
“Voorkombare blindheid sal sy huidige hoë vlak handhaaf totdat die voeding- en higiëniese standaarde van ’n groot deel van die wêreldbevolking verbeter kan word.”—The New Encyclopædia Britannica