Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 10/8 bl. 24-27
  • Rivierblindheid—’n Verskriklike plaag word oorwin

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Rivierblindheid—’n Verskriklike plaag word oorwin
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verskriklike siekte
  • Die stryd teen die swartmuggie
  • Een of twee tablette een keer per jaar
  • Toekomsvooruitsigte
  • Watter hoop is daar vir blindes?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Oë word vir die goeie nuus geopen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Geen geld vir die blindes nie
    Ontwaak!—1990
  • Help die blindes om van Jehovah te leer
    Ons Koninkryksbediening—2015
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 10/8 bl. 24-27

Rivierblindheid—’n Verskriklike plaag word oorwin

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË

DIE toneel was tipies van baie oewerdorpies in Wes-Afrika. ’n Groep mense het op banke gesit onder ’n tamaai boom wat hulle teen die skroeiende son beskut het. Vyf van hulle—vier mans en ’n vrou—was heeltemal en permanent blind.

“Hulle het nie geweet waarom hulle in die ou dorpie blind word nie”, het die dorpie se hoofman gesê, wat ’n lang, los, wit kledingstuk aangehad het. “Die meeste van die ou mense daar het as blindes gesterf. . . . Hulle het gedink dat die een of ander duiwel teen hulle was. Hulle het hulle fetisje gesmeek om hulle te beskerm. Hulle voorvaders het vir hulle gesê dat hulle vir die fetisje kos moet gee. Daarom het hulle hoenders en skape as ’n offerande doodgemaak. Maar hulle het steeds aangehou om blind te word.”

Uiteindelik het dokters gekom en verduidelik dat die blindheid nie van ’n bonatuurlike bron kom nie. Dit was die gevolg van die siekte onkoserkiase, of rivierblindheid, wat so genoem word omdat die klein, bytende muggies wat die siekte versprei hulle eiers in snelvloeiende riviere lê.

Gelukkig kan rivierblindheid nie so maklik opgedoen word soos ander tropiese siektes nie. Dit hou geen gevaar in vir stedelinge of diegene wat ’n kort besoek aan ’n besmette gebied bring nie. Blindheid kom eers ná herhaalde infeksies oor baie jare voor.

Rivierblindheid is nietemin ’n verskriklike tropiese siekte wat die lewe van miljoene verwoes. Terwyl dit in sekere dele van die Midde-Ooste en Sentraal- en Suid-Amerika woed, is dié wat die swaarste getref word mense wat werk en bly naby riviere in ekwatoriale Afrika wat van muggies wemel. In party dorpies het feitlik almal die siekte. Volgens skattings deur die Carter-sentrum in Atlanta, Georgia, VSA, word ongeveer 126 miljoen mense deur infeksie bedreig. ’n Verdere 18 miljoen het van die parasitiese wurms wat rivierblindheid veroorsaak in hulle liggaam. Die aantal mense wat reeds gedeeltelik of heeltemal blind is, word op tussen een- en tweemiljoen gestel.

Nou word die eeue oue plaag deur die verenigde pogings van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) en ander instansies, tesame met die regerings van verskeie lande, onder beheer gehou. Teen ’n agtergrond van vyandelikhede en wanhoop in groot dele van Afrika is hierdie ’n siektebeheerprogram wat werk. Die program word as “een van die twintigste eeu se groot mediese- en ontwikkelingsoorwinnings” begroet.

’n Verskriklike siekte

Rivierblindheid word deur verskeie spesies van die wyfieswartmuggie (genus Simulium) versprei. Wanneer ’n besmette muggie ’n mens byt, laat dit die larwes van ’n parasitiese wurm (Onchocerca volvulus) agter. Onder die vel van besmette persone groei en ontwikkel die larwes stadig tot wurms van tot 60 sentimeter lank.

Nadat die wyfies bevrug is, begin elkeen klein wurmpies voortbring wat mikrofilariae genoem word; hulle hou 8 tot 12 jaar lank hiermee aan en bring miljoene van hulle voort. Die mikrofilariae groei nie tot volwassenheid tensy hulle deur ’n swartmuggie ingeneem word, binne die muggie ontwikkel en weer aan ’n mens oorgedra word nie. Hierdie klein, onvolwasse wurmpies kom in groot getalle onder die vel voor en kan uiteindelik die oë binnedring. Daar kan tot 200 miljoen wurmpies in een slagoffer wees. Hulle is so volop dat diagnose behels dat klein stukkies vel vir ondersoek afgesny word. Onder ’n mikroskoop word honderde wriemelende mikrowurms moontlik in ’n velmonster gesien.

Hierdie parasiete martel hulle menslike slagoffers. Met die verloop van jare verdik die vel van die besmette persoon en word dit skubberig. Dikwels verskyn depigmentasievlekke. Slagoffers ontwikkel wat heel gepas as krokodilvel, akkedisvel of luiperdvel beskryf word. Dit jeuk verskriklik en party word glo daardeur tot selfmoord gedryf. As jong wurmpies die oë binnedring, verswak die gesigsvermoë mettertyd en word die slagoffer heeltemal blind.

In die arm, plattelandse gebiede waar die swartmuggie algemeen voorkom, is blindheid veral ’n moeilike las om te dra. Een rede is dat baie dorpenaars die bygeloof het dat blindheid ’n gevolg van goddelike straf is en dat blindes nutteloos in hulle gemeenskap is. ’n Ander rede is dat daar geen staatsbystandsfondse is nie, en slagoffers is dus heeltemal van hulle familie afhanklik. Sata, ’n vrou in Burkina Faso wat ’n slagoffer van rivierblindheid is, het gesê: “Vir ’n blinde, hetsy ’n man of vrou, is die lyding dieselfde. As ’n jong vrou blind en ongetroud is, sal sy nie ’n man kry nie. Ek is getroud voordat ek blind geword het, maar my man is oorlede. My broer het blind geword toe hy nog jonk was en kon dus nie ’n vrou kry nie. Ons al twee word deur ons families onderhou—vir voedsel, vir alles. Dis verskriklik.”

In gebiede waar rivierblindheid algemeen voorkom, verlaat mense dikwels hulle dorpies, omdat die muggie en die siekte hulle noodsaak om te vlug. Vrugbare grond langs die water raak verwaarloos en word ’n woesteny. Dit dra weer tot armoede en hongersnood by.

Die stryd teen die swartmuggie

Internasionale pogings om rivierblindheid in sewe Wes-Afrikalande te beheer, het vroeg in die sewentigerjare begin. Met bioafbreekbare larwegif bewapen, het vlote helikopters, klein vliegtuie en vragmotors ’n aanval teen die swartmuggie, die draer van die siekte, geloods. Die doel was om die swartmuggie aan te val en dood te maak wanneer dit die kwesbaarste is—gedurende die larwestadium.

Dit was nie nodig om hele riviere te vergiftig nie. Deskundiges het geweet dat wyfieswartmuggies hulle eiers op water lê en dat die eiers aan takke en rotse net onder die oppervlak van stroomversnellings vassit. Slegs snelvloeiende water voorsien die nuwe larwes van die oorvloedige suurstof wat hulle nodig het om te bly leef. Dit het beteken dat die broeiplekke langs riviere beperk en uitkenbaar was.

Die doel van die bespuiting van die broeiplekke was nie om die swartmuggies heeltemal uit te roei nie, want dit is ’n onmoontlike taak. Maar deskundiges het gehoop dat die ketting van parasietoordraging verbreek kon word deur die muggiegetalle te verminder. Minder muggies sou minder nuwe infeksies beteken. As die muggies onder beheer gehou kon word totdat die bestaande parasiete wat reeds in besmette mense is mettertyd doodgaan, sou daar in teorie ’n tyd aanbreek wanneer daar geen parasiete oor sou wees nie. As ’n muggie dus wel ’n persoon sou byt, sou dit geen parasiete inneem om aan ander oor te dra nie.

Die projek was ’n uitdaging. Die muggies broei in duisende plekke wat moeilik bereikbaar is. Aangesien die swartmuggies ook honderde kilometers ver kan vlieg, moes hulle oor ’n ontsaglike gebied bestry word. Bowendien sou buitengewone waaksaamheid vereis word, aangesien net ’n maand se versuim die herlewing van muggiebevolkings tot gevolg kon hê en jare se werk kon verydel.

Sedert die sewentigerjare het lugvaartuie afgeleë waterweë van meer as 19 000 kilometer selektief bespuit. Gevolglik is die siekte in 80 persent van die besmette gebiede uitgewis in die lande wat hieraan deelgeneem het.

Een of twee tablette een keer per jaar

Toe, van 1987 af, is nog ’n wapen in die stryd teen rivierblindheid ontwikkel. Die swartmuggie is nie hierdie keer aangeval nie, maar die teiken was eerder die parasiete binne die menseliggaam. Die wapen was ’n veilige en doeltreffende middel met die naam Mectizan (ivermectin), wat in die laboratoriums van ’n Amerikaanse farmaseutiese maatskappy ontwikkel is.

’n Besmette persoon moet elke jaar ’n enkele dosis—een of twee tablette—neem om die ontwikkeling van die siekte te stuit. Mectizan maak nie die volwasse parasitiese wurms in die liggaam dood nie, maar dit maak wel die mikrowurms dood en verhoed dat die volwasse wurm meer mikrofilariae voortbring. Dit stuit die ontwikkeling van die siekte in die slagoffer en vertraag die oordrag van die siekte na ander. Die middel herstel ook vroeë letsels aan die kornea van die oog en keer dat ander vererger. Dit kan egter nie ou oogletsels herstel of iemand genees wat reeds blind is nie.

Die probleem was egter verspreiding—om die middel by die mense te kry wat dit nodig het. Talle wat in afgeleë en afgesonderde dorpies woon, kan slegs per voet bereik word. As ’n voertuig gebruik word, moet daar dikwels bosse weggekap of selfs brûe gebou word. Soms dra burgerlike twis, ’n gebrek aan fondse en plaaslike politiek tot die probleme van verspreiding by. Maar ondanks hierdie struikelblokke is ongeveer 31 miljoen Mectizan-tablette teen die begin van 1995 versprei, meestal in Afrika.

Toekomsvooruitsigte

Gedurende die afgelope 20 jaar het die Onkoserkiase-beheerprogram rivierblindheid in 11 Wes-Afrikalande bestry, ’n gebied wat drie keer so groot soos Frankryk is. Wat was die resultate? Volgens syfers van die WGO het die gesamentlike gebruik van larwegif en Mectizan daarin geslaag om meer as 30 miljoen mense te beskerm wat vroeër deur hierdie eeue oue en verskriklike plaag bedreig is. Meer as 1,5 miljoen mense wat erg deur die parasiet besmet was, het nou volkome herstel. Bowendien stel die feit dat rivierblindheid onder beheer gehou word ook ongeveer 25 miljoen hektaar bewerkbare grond vir hervestiging en bewerking beskikbaar—genoeg grond om jaarliks ongeveer 17 miljoen mense te voed.

Die stryd is nog lank nie oor nie. Die bevolking van die Afrikalande waar rivierblindheid bestry is, is minder as die helfte van die mense wat deur die siekte bedreig word.

In onlangse jare is pogings verskerp om die siekte te bestry. In net twee jaar, van 1992 tot 1994, het die aantal mense wat met Mectizan behandel is meer as verdubbel, van 5,4 miljoen tot 11 miljoen. Teen die einde van 1994 het sowat 32 lande in Afrika, Latyns-Amerika en die Midde-Ooste programme vir Mectizan-behandeling in werking gestel, wat mettertyd tot 24 miljoen mense teen blindheid sal kan beskerm.

Die Pan American-gesondheidsorganisasie hoop om die siekte teen die jaar 2002 as ’n openbare gesondheidsbedreiging in die Amerikas uit te wis. In Afrika is die taak natuurlik groter. Die Verenigde Nasies-kinderfonds sê nietemin: “Dit is reeds duidelik dat blindheid nie vir die geslag wat nou grootword so ’n ontsaglike toekomsbedreiging as vroeër is in ’n streek waar gesigsverlies lank ’n normale deel van veroudering was nie.”

Dit verbly die hart om te hoor van pogings om mense te help wat deur blindheid bedreig word. Gedurende sy aardse bediening het Jesus Christus ook liefdevolle besorgdheid oor mense getoon deur die gesig van baie wat blind was wonderbaarlik te herstel (Matteus 15:30, 31; 21:14). Dit het op ’n klein skaal getoon wat onder God se Koninkryk op aarde gaan gebeur. Ja waarlik, die tyd kom wanneer niemand deur enige soort blindheid geteister sal word nie. God se Woord voorspel: “Dan sal die oë van die blindes geopen . . . word.”—Jesaja 35:5.

[Lokteks op bladsy 25]

“Hulle het altyd die geeste vir die blindheid blameer. Nou weet hulle dat dit die wurms is”

[Lokteks op bladsy 27]

Een of twee tablette per jaar kan rivierblindheid voorkom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel