Ons dien die betroubare God
Soos vertel deur Kimon Progakis
Dit was ’n bitter koue aand in 1955. Ek en my vrou, Giannoula, het bekommerd begin raak, want ons 18-jarige seun, George, was nog nie terug van die kiosk waar hy gewerk het nie. Skielik het ’n polisieman aan ons deur geklop. “Julle seun is op sy fiets op pad huis toe raakgery”, het hy gesê, “en hy is dood.” Toe het hy vorentoe geleun en gefluister: “Hulle sal vir julle sê dit was ’n ongeluk, maar glo my, hy is vermoor.” Die plaaslike priester en ’n paar paramilitêre leiers het saamgespan om hom dood te maak.
GEDURENDE daardie jare, terwyl Griekeland herstel het van tye van konflik en ontbering, was dit gevaarlik om een van Jehovah se Getuies te wees. Ek het persoonlike ondervinding van die mag van die Grieks-Ortodokse Kerk en die paramilitêre organisasies gehad, want ek was meer as 15 jaar lank ’n aktiewe lid van hierdie organisasies. Laat ek vertel van gebeure wat aanleiding gegee het tot daardie tragedie in ons gesin meer as 40 jaar gelede.
As kind in Griekeland
Ek is in 1902 uit ’n welgestelde gesin in ’n klein dorpie naby die dorp Khalkis in Griekeland gebore. My vader was aktief betrokke by die plaaslike politiek en ons gesin was getroue lede van die Grieks-Ortodokse Kerk. In ’n tyd toe die meeste van my landgenote ongeletterd was, het ek ’n ywerige leser van politieke en godsdienstige boeke geword.
Die armoede en onregverdigheid wat aan die begin van die 20ste eeu hoogty gevier het, het in my ’n begeerte na ’n wêreld met beter toestande gewek. Godsdiens, het ek gedink, behoort die droewige toestand van my landgenote te kan verbeter. Weens my belangstelling in godsdiens het vooraanstaande manne van my dorpie aan die hand gedoen dat ek die Grieks-Ortodokse priester van ons gemeenskap word. Maar hoewel ek baie kloosters besoek het en lang besprekings met biskoppe en abte gevoer het, was ek nie gereed of bereid om so ’n verantwoordelikheid te aanvaar nie.
Te midde van ’n burgeroorlog
Jare later, in April 1941, is Griekeland deur die Nazi’s beset. Dit het ’n verskriklike tydperk van moord, hongersnood, ontbering en eindelose menselyding ingelui. ’n Sterk versetbeweging het ontstaan, en ek het by een van die guerrillagroepe aangesluit om teen die Nazi-invallers te veg. Gevolglik is my huis etlike kere aan die brand gesteek, is ek geskiet en is my gesaaides vernietig. Vroeg in 1943 het ek en my gesin geen ander keuse gehad as om na die ruwe berge te vlug nie. Ons het tot die einde van die Duitse besetting in Oktober 1944 daar gebly.
Politieke en burgerlike konflik het ná die Duitsers se vertrek in die land losgebars. Die guerrillaversetgroep waaraan ek behoort het, het een van die vernaamste strydmagte in die burgeroorlog geword. Hoewel Kommunistiese ideale van geregtigheid, gelykheid en broederskap vir my aanloklik was, het die werklikheid my uiteindelik heeltemal ontnugter. Aangesien ek ’n hoë posisie in die groep beklee het, het ek self gesien dat mag mense dikwels korrup maak. Ondanks skynbaar edele teorieë en ideale ondermyn selfsug en onvolmaaktheid die allerbeste politieke oogmerke.
Iets wat my diep geskok het, was die feit dat Ortodokse geestelikes aan die verskillende kante van die burgeroorlog die wapen opgeneem het om lidmate van hulle eie godsdiens dood te maak! Ek het by myself gedink: ‘Hoe kan hierdie geestelikes sê dat hulle Jesus Christus verteenwoordig, wat gewaarsku het: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan”?’—Matteus 26:52.
Gedurende die burgeroorlog, in 1946, het ek naby die dorp Lamia in sentrale Griekeland weggekruip. My klere was heeltemal verslete; daarom het ek besluit om my te vermom en na ’n kleremaker in die stad te gaan om nuwes te laat maak. Toe ek daar aankom, was daar ’n vurige bespreking aan die gang, en kort voor lank het ek gevind dat ek nie oor die politiek nie, maar oor my ou liefde, naamlik godsdiens, praat. Toe omstanders my ingeligte menings hoor, het hulle voorgestel dat ek met ’n sekere ‘teologieprofessor’ praat. Hulle het hom dadelik gaan haal.
Ek vind ’n betroubare hoop
In die daaropvolgende bespreking het die “professor” my gevra wat die grondslag van my opvattings is. “Die Heilige Vaders en die Ekumeniese Sinodes”, het ek geantwoord. Hy het my nie weerspreek nie, maar sy klein Bybeltjie by Matteus 23:9, 10 oopgemaak en my gevra om Jesus se woorde te lees: “Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus.”
Dit was vir my ’n openbaring! Ek het besef dat hierdie man die waarheid praat. Toe hy hom as een van Jehovah se Getuies identifiseer, het ek vir hom lektuur gevra om te lees. Hy het vir my die boek Lig gebring, wat ’n uitleg van die Bybelboek Openbaring is, en ek het dit saamgeneem na my skuilplek toe. Die diere waarvan Openbaring praat, was lank vir my ’n verborgenheid, maar toe het ek geleer dat hulle politieke organisasies voorstel wat in ons 20ste eeu bestaan. Ek het begin verstaan dat die Bybel in ons tyd van praktiese waarde is en dat ek dit moet bestudeer en my lewe na die waarhede daarin moet skik.
Gevang en opgesluit
Kort hierna het soldate by my skuilplek ingebars en my in hegtenis geneem. Ek is in ’n ondergrondse sel gegooi. Aangesien ek ’n geruime tyd al ’n voëlvry verklaarde voortvlugtige was, het ek verwag dat ek tereggestel sou word. Daar, in my sel, het ek ’n besoek ontvang van die Getuie wat aanvanklik met my gepraat het. Hy het my aangespoor om volkome op Jehovah te vertrou, wat ek dan ook gedoen het. Ek is tot ses maande ballingskap op die Egeïese eiland Ikaria gevonnis.
Van die oomblik dat ek daar aangekom het, het ek my as ’n Getuie van Jehovah geïdentifiseer, nie as ’n Kommunis nie. Ander wat Bybelwaarhede geleer het, is ook daarheen verban. Ek het hulle dus opgesoek en ons het die Bybel gereeld saam bestudeer. Hulle het my gehelp om meer kennis van die Skrif en ’n beter begrip van ons betroubare God, Jehovah, te verkry.
In 1947, toe my vonnis uitgedien was, is ek na die kantoor van die staatsaanklaer ontbied. Hy het vir my gesê dat hy beïndruk was met my gedrag en het gesê dat ek sy naam vir ’n karaktergetuienis kon gee as ek ooit weer verban sou word. Toe ek in Atene aankom, waarheen my gesin intussen verhuis het, het ek met ’n gemeente van Jehovah se Getuies begin omgaan en is ek weldra gedoop as simbool van my toewyding aan Jehovah.
Aangekla weens proselitisme
Griekeland het Jehovah se Getuies dekades lank vervolg kragtens wette wat in 1938 en 1939 aangeneem is en proselitisme verbied het. Van 1938 tot 1992 was daar gevolglik 19-147 inhegtenisnemings van Getuies in Griekeland, en die howe het vonnisse van altesaam 753 jaar opgelê, waarvan 593 in werklikheid uitgedien is. Ek self is meer as 40 keer in hegtenis geneem omdat ek die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het, en ek het altesaam 27 maande in verskillende tronke uitgedien.
Een van die kere dat ek in hegtenis geneem is, het gevolg op ’n brief wat ek aan ’n Grieks-Ortodokse geestelike in Khalkis geskryf het. In 1955 is gemeentes van Jehovah se Getuies aangespoor om die boekie Die Christenheid of Christelikheid—Watter een is “die lig van die wêreld”? aan alle geestelikes te stuur. Een van die hooggeplaaste geestelikes aan wie ek geskryf het, het my weens proselitisme gedagvaar. Gedurende die verhoor het die Getuieprokureur sowel as die plaaslike regsgeleerde ’n meesterlike verdediging gelewer en verduidelik dat ware Christene ’n verpligting het om die goeie nuus oor God se Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:14.
Die presiderende regter van die hof het die argimandriet (’n hoogwaardigheidsbekleër in die kerk net onder ’n biskop) gevra: “Het jy die brief en die boekie gelees?”
“Nee”, het hy heftig geantwoord, “ek het dit opgeskeur en weggegooi onmiddellik nadat ek die koevert oopgemaak het!”
“Hoe kan jy dan sê dat hierdie man jou probeer bekeer het?” het die presiderende regter gevra.
Vervolgens het ons prokureur voorbeelde aangehaal van professors en ander wat hele boekrakke vol boeke aan openbare biblioteke geskenk het. “Sou jy sê dat daardie mense ander probeer bekeer het?” het hy gevra.
Dit was duidelik dat sulke dade nie proselitisme genoem kan word nie. Ek het Jehovah gedank toe ek die uitspraak hoor: “Onskuldig.”
My seun se dood
My seun George is ook voortdurend getiranniseer, gewoonlik op aanstigting van Ortodokse geestelikes. Hy is ook talle kere in hegtenis geneem weens sy jeugdige ywer in die bekendmaking van die goeie nuus van God se Koninkryk. Uiteindelik het die teenstanders besluit om van hom ontslae te raak en terselfdertyd vir die res van ons ’n vreesaanjaende boodskap te stuur om op te hou preek.
Die polisieman wat na ons huis toe gekom het om ons van George se dood te vertel, het gesê dat die plaaslike Grieks-Ortodokse priester en ’n paar paramilitêre leiers saamgespan het om ons seun dood te maak. Sulke “ongelukke” was algemeen gedurende daardie gevaarlike tye. Ondanks die droefheid wat sy dood veroorsaak het, het dit ons net meer vasbeslote gemaak om in die predikingswerk bedrywig te bly en om ten volle op Jehovah te vertrou.
Ander word gehelp om op Jehovah te vertrou
Gedurende die middel-sestigerjare het my vrou en kinders die somermaande in die kusdorpie Skala Oropos, omtrent 50 kilometer van Atene af, deurgebring. Omdat geen Getuies destyds daar gewoon het nie, het ons informeel vir die mense daar getuig. Party plaaslike boere het gunstig gereageer. Aangesien die mans bedags lang ure in hulle lande gewerk het, het ons laat in die aand Bybelstudies met hulle gehou, en ’n hele paar het Getuies geword.
Ons het gesien hoe Jehovah ons pogings seën en het daarom ongeveer 15 jaar lank elke week soontoe gery om Bybelstudies met belangstellendes te hou. Nagenoeg 30 mense met wie ons daar gestudeer het, het dermate gevorder dat hulle gedoop is. ’n Studiegroep is aanvanklik gevorm en ek is gevra om die vergaderinge te hou. Later het die groep ’n gemeente geword, en vandag maak meer as honderd Getuies van daardie gebied die Malakasa-gemeente uit. Ons is verheug dat vier van die mense wat ons gehelp het nou as voltydse bedienaars dien.
’n Ryk erfenis
Kort nadat ek my lewe aan Jehovah toegewy het, het my vrou geestelik vordering begin maak en is sy gedoop. Gedurende die moeilike tydperk van vervolging het haar geloof sterk gebly en het sy haar onkreukbaarheid ferm en onwankelbaar gehandhaaf. Sy het nooit gekla oor die baie ontberinge wat sy gely het as gevolg van die talle kere dat ek opgesluit is nie.
Deur die jare heen het ons saam baie Bybelstudies gehou, en sy het talle mense op bekwame wyse met haar eenvoudige en geesdriftige benadering gehelp. Sy het tans ’n tydskrifroete wat tientalle mense insluit by wie sy gereeld Die Wagtoring en Ontwaak! aflewer.
Dit is grootliks te danke aan die ondersteuning van my liefdevolle vrou dat ons drie lewende kinders en hulle families, wat ses kleinkinders en vier agterkleinkinders insluit, almal in Jehovah se diens bedrywig is. Hoewel hulle nie die vervolging en bitter teenstand moes verduur wat ek en my vrou deurgemaak het nie, het hulle hulle volle vertroue in Jehovah gestel en wandel hulle voortdurend in sy weë. Watter vreugde sal dit tog nie vir ons almal wees om met ons dierbare George herenig te word wanneer hy in die opstanding terugkom nie!
Vasbeslote om op Jehovah te vertrou
Gedurende al hierdie jare het ek gesien hoe Jehovah se gees op sy volk werksaam is. Sy geesgerigte organisasie het my gehelp om te sien dat ons nie ons vertroue in die pogings van mense kan stel nie. Hulle beloftes vir ’n beter toekoms is waardeloos en is in werklikheid niks anders as ’n groot leuen nie.—Psalm 146:3, 4.
Ondanks my klimmende jare en ernstige gesondheidsprobleme is my oë op die werklikheid van die Koninkrykshoop gerig. Ek is innig spyt oor die jare wat ek gewy het aan valse godsdiens en aan pogings om beter toestande deur politieke middele te bewerkstellig. As ek my lewe moes oorlewe, sou ek beslis weer besluit om Jehovah, die betroubare God, te dien.
(Kimon Progakis is onlangs oorlede. Hy het ’n aardse hoop gehad.)
[Prent op bladsy 26]
’n Onlangse foto van Kimon saam met sy vrou, Giannoula