Word jou lewe deur die noodlot bepaal?
“ALA NÒ DON.” In Bambara, ’n taal wat in Mali, Wes-Afrika, gepraat word, beteken hierdie uitdrukking: “Dit is die werk van God.” Slagspreuke soos dié is nogal algemeen in daardie deel van die wêreld. In die taal Wolof lui die spreekwoord: “Yallah mo ko def” (God het dit gedoen). En in een plattelandse dialek van die Dogon sê hulle: “Ama biray” (God het dit veroorsaak).
Soortgelyke uitdrukkings kom in ander lande voor. Gesegdes soos: “Sy uur het gekom” en “Dit was die wil van God” word dikwels gehoor wanneer die dood of ’n tragedie iemand tref. In Wes-Afrika word slagspreuke soos “Die mens wik, maar God beskik” dikwels op openbare voertuie geverf en as tekens in winkels aangebring. Baie mense beskou dit bloot as beeldspraak. Maar dikwels weerspieël dit ’n diepgewortelde geloof aan fatalisme.
Presies wat is fatalisme? The World Book Encyclopedia definieer dit as “die opvatting dat gebeure bepaal word deur magte wat buite die mens se beheer is”. Wat is hierdie “magte”? Duisende jare gelede het die Babiloniërs geglo dat ’n individu se lot sterk beïnvloed word deur die stand van die sterre by sy geboorte. (Vergelyk Jesaja 47:13.) Die Grieke het geglo dat die noodlot bepaal word deur drie magtige godinne wat die lewensdraad spin, afmeet en afknip. Dit was egter die Christendom se teoloë wat met die idee na vore gekom het dat God self ’n mens se lot bepaal!
“Sint” Augustinus het byvoorbeeld die “valse en verderflike opvattings” van astroloë verwerp. Hy het egter geredeneer dat “dit die opperste blyk van dwaasheid is om te bely dat God bestaan en terselfdertyd te ontken dat Hy voorkennis van toekomstige dinge het”. Hy het beweer dat God “alle dinge [moet] weet voor hulle geskied” as hy waarlik almagtig is en dus “alles voorbeskik”. Augustinus het nogtans vurig aangevoer dat die mens steeds wilsvryheid het, ten spyte daarvan dat God alles wat gebeur vooruit weet.—The City of God, Boek V, Hoofstukke 7-9.
Eeue later het die Protestantse teoloog Johannes Calvyn dit verder gevoer toe hy gesê het dat sommige deur God “voorbestem is om kinders en erfgename van die hemelse koninkryk te wees” terwyl ander voorbestem is om “ontvangers van sy gramskap” te wees!
Vandag word geloof aan die noodlot in baie dele van die wêreld ernstig opgeneem. Beskou die ondervinding van Ousmane, ’n jong man in Wes-Afrika. Hy was een van die knapste leerlinge in sy skool, maar toe hy sy finale eksamen aflê, het hy gedruip! Dit het nie alleen beteken dat hy ’n jaar op skool moes oordoen nie, maar ook dat hy voor sy familie en vriende in die verleentheid gebring is. ’n Vriend het hom probeer troos deur te sê dat dit God se wil was. Ousmane se moeder het ook die noodlot daarvoor blameer dat hy gedruip het.
In die begin was Ousmane bly oor hulle simpatie. As dit werklik God se wil was dat hy moes druip, was daar immers niks wat hy kon doen om dit te voorkom nie. Maar sy vader het sake anders ingesien. Hy het vir Ousmane gesê dat dit sy eie skuld is dat hy die eksamen gedruip het—nie God s’n nie. Ousmane het gedruip eenvoudig omdat hy sy skoolwerk verwaarloos het.
Omdat Ousmane se geloof aan die noodlot ’n knou gekry het, het hy besluit om self ondersoek in te stel. Ons nooi jou nou om dieselfde te doen deur die volgende artikel te lees en daaroor na te dink.