Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/1 bl. 3-4
  • Wie het alles ontwerp?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie het alles ontwerp?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah—Wie is hy?
    Jehovah—Wie is hy?
  • ’n Onderhoud met ’n biochemikus
    Ontwaak!—2006
  • Wie kan vir ons sê?
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • ‘Iets ontbreek’—Wat is dit?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/1 bl. 3-4

Wie het alles ontwerp?

TERWYL Henri Mouhot, ’n 19de-eeuse Franse ontdekkingsreisiger, sy pad deur die oerwoud in Kambodja oopgekap het, het hy ’n tempel ontdek met ’n breë grag rondom. Byna ’n kilometer van waar hy gestaan het, het die vyf torings van die tempel meer as 60 meter in die lug gesteek. Dit was Angkor Wat, die grootste godsdiensmonument op aarde. Toe Mouhot dit ontdek het, het dit die elemente al sewe eeue lank getrotseer.

Mouhot kon met een oogopslag sien dat die mosbedekte geboue die werk van mensehande was. “Dit is deur die een of ander eertydse Michelangelo opgerig en is indrukwekkender as enigiets wat Griekeland of Rome vir ons nagelaat het”, het hy geskryf. Hoewel dit eeue lank verlate was, het hy geensins getwyfel dat die luisterryke geboue deur iemand ontwerp is nie.

Dit is interessant dat ’n boek van wysheid wat eeue gelede geskryf is ’n soortgelyke redenasie gebruik het om te verduidelik waarom die wêreld om ons die werk van ’n Ontwerper moet wees. Dit moes geskep gewees het. Die apostel Paulus het geskryf: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Party stem dalk nie saam met hierdie vergelyking nie en sê: ‘Die werkinge van die natuur verskil van mensgemaakte skeppings.’ Maar nie alle wetenskaplikes is dit eens met daardie beswaar nie. Michael Behe, adjunk-professor van biochemie aan die Lehigh-universiteit erken eers dat “biochemiese stelsels nie lewelose voorwerpe is nie”, en vra dan: “Getuig lewende biochemiese stelsels van intelligente ontwerp?” Hy verduidelik verder dat wetenskaplikes nou basiese veranderinge in lewende organismes ontwerp deur metodes soos geenmanipulering. Dit is duidelik dat lewelose sowel as lewende dinge ontwerp en gemanipuleer kan word! Ná ’n bespreking van die mikroskopiese wêreld van die lewende sel gaan Behe in op die ongelooflik ingewikkelde stelsels wat uit komponente bestaan wat van mekaar afhanklik is om hulle werk te doen. Sy gevolgtrekking? “Die resultaat van al hierdie pogings om die sel te ondersoek—om lewe op molekulêre vlak te ondersoek—is ’n luide, helder, deurdringende uitroep: ‘ontwerp!’”

Kosmoloë en fisici het eweneens die wêreld en die heelal noukeurig ondersoek en het met ’n paar verbasende feite vorendag gekom. Hulle weet byvoorbeeld nou dat die heelal leweloos sou gewees het as daar selfs ’n oneindige klein verandering in die waarde van enige van die universele konstantes was.a Die kosmoloog Brandon Carter het hierdie feite verbasende toevallighede genoem. Maar gestel jy het afgekom op ’n reeks raaiselagtige toevallighede wat onderling verband hou, sou jy nie ten minste gewonder het of iemand dit so ontwerp het nie?

Daar is inderdaad ’n Ontwerper agter al hierdie ingewikkelde stelsels en fyn ingestelde “toevallighede”. Wie? “Dit is uiters moeilik om die ontwerper deur middel van wetenskaplike metodes te identifiseer”, erken professor Behe, en hy laat die vraag aan “die filosofie en teologie” oor om te probeer beantwoord. Jy meen dalk dat die vraag nie op jou as persoon van toepassing is nie. Maar gestel jy het ’n mooi toegedraaide geskenk ontvang met presies wat jy nodig het, sou jy nie wou uitvind wie dit aan jou gestuur het nie?

Ons het as ’t ware so ’n geskenk ontvang—’n geskenk vol wonderlike gawes wat dit vir ons moontlik maak om te lewe en die lewe te geniet. Daardie geskenk is die aarde met al sy merkwaardige stelsels om die lewe te onderhou. Behoort ons nie te wil uitvind wie vir ons hierdie gawes gegee het nie?

Gelukkig het die Persoon wat die geskenk gestuur het ’n briefie daaraan geheg. Die “briefie” is daardie antieke boek van wysheid wat vroeër aangehaal is—die Bybel. Die Bybel se openingswoorde gee met merkwaardige eenvoud en duidelikheid die antwoord op die vraag wie vir ons die geskenk gegee het: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Genesis 1:1.

In sy “briefie” identifiseer die Skepper hom by name: “So sê God, [Jehovah], wat die hemele geskape . . . het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee” (Jesaja 42:5, vgl. NW). Ja, Jehovah is die naam van die God wat die heelal ontwerp het en wat manne en vroue op die aarde geskep het. Maar wie is Jehovah? Watter soort God is hy? En waarom moet al die volke van die aarde na hom luister?

[Voetnoot]

a “Konstantes” is waardes wat blykbaar regdeur die heelal onveranderd bly. Twee voorbeelde is die spoed van lig en die verhouding van swaartekrag tot massa.

[Prent op bladsy 3]

Angkor Wat is deur mense gebou

[Prent op bladsy 4]

Wanneer jy ’n geskenk ontvang, wil jy dan nie weet wie dit gestuur het nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel