’n Brief uit Rusland
’n Reis na “die einde van die aarde”
ONS vliegtuigie het van Jakoetsk af opgestyg en oor die Toeimaada-vallei geleidelik hoër geklim. Ons het tallose bevrore mere van verskeie vorms en groottes agtergelaat en oor die Werchojanski gevlieg, ’n reeks sneeubedekte bergpieke, wat in die sonlig geglinster het. Ná ’n reis van 900 kilometer het ons uiteindelik in die dorpie Depoetatski geland.
Dit was die begin van my reise in die Republiek Sacha, ook bekend as Jakoetië, ’n pragtige maar onherbergsame land, groter as die hele Wes-Europa. Dit is ’n plek waar temperature kan wissel tussen 40 grade Celsius in die somer en -70 grade Celsius in die winter en waar die grond fossieloorblyfsels van reusagtige, lank uitgestorwe diere oplewer. Hoewel etlike jare verloop het sedert my laaste besoek, onthou ek die klein dorpies gehul in dik mis, die flikkerende noorderlig en die opgeruimde, geharde Jakoetiese volk asof dit gister was.
Die dorpie Depoetatski was nie ons eindbestemming nie. Ek en my reisgenoot was op pad om ’n paar ander dorpies te gaan besoek. Die eerste een was Chajir, 300 kilometer verder noordwaarts, naby die Laptef-see, in Noord-Siberië. Waarom het ons besluit om hierdie reis aan te pak? Een van Jehovah se Getuies het vroeër hierdie dorpies besoek en baie mense gevind wat meer oor die Bybel wou leer. Ons wat in Jakoetsk woon, ongeveer 1 000 kilometer daarvandaan, was toe die naaste Getuies aan hulle! Ons het gevoel dat hierdie mense aanmoediging en hulp nodig het.
Toe ons in Depoetatski aangekom het, het ons ’n man gevind wat na Chajir sou ry, en hy het aangebied om ons teen ’n klein bedrag daarheen te neem. Ons was effens huiwerig toe ons sy motor sien—’n ou skedonk uit die dae van die Sowjetunie wat baie sterk na petrol geruik het. Nogtans het ons besluit om dit te waag, en ons het daardie aand saam met hom vertrek. Ons het nie die vaagste benul gehad van wat vir ons voorlê nie.
Die sitplekke in die motor het net so ysig gevoel soos die toendra daarbuite, en dit het ons nie baie lank geneem om te besef dat dit nie gaan ontdooi nie. Ons het die bestuurder gevra om by die eerste geleentheid stil te hou en in ons tasse gegrawe na warm wolklere, wat ons in lae bo-oor ons klere aangetrek het. Maar die bytende koue het nogtans deur murg en been gedring.
Ons bestuurder, ’n geharde man uit die Noorde, was so vrolik as kan kom. Skielik het hy gevra: “Het julle al ooit die noorderlig gesien?” Ek het nog nooit nie; hy het dus stilgehou en ons het uitgeklim. ’n Oomblik lank was alles vergete. Ek het verstom gestaan en my verwonder oor die skitterende en veelkleurige dansende ligte bo ons—’n wonderlike toneel wat gelyk het of dit so naby is dat ’n mens daaraan kan raak.
In die donkerte van die vroeë oggendure het ons êrens op die bevrore toendra in ’n sneeubank vasgesit. Ons het ons bestuurder gehelp om sy motor uit daardie verknorsing te kry—en etlike kere daarna—terwyl ons al nader aan Chajir gekom het op paaie wat deur diep sneeu gebaan is. Ek het eers ná dagbreek besef dat die “paaie” in werklikheid verysde riviere is! Uiteindelik, omtrent twaalfuur die middag, 16 uur nadat ons Depoetatski verlaat het, het ons Chajir bereik. Hoewel ons verwag het om ná hierdie lang blootstelling aan die koue siek te word, het ons die volgende oggend heel goed gevoel toe ons opgestaan het. Net my tone was ’n bietjie gevoelloos, moontlik as gevolg van vriesbrand. Die dorpenaars het my ’n bietjie beervet gegee om aan te smeer.
Gewoonlik besoek ons mense by hulle huise om met hulle oor die goeie nuus te praat. Maar hier in Chajir het die dorpenaars ons dadelik kom opsoek toe hulle van ons aankoms te hore gekom het! Ons het twee en ’n half weke lank elke dag die Bybel met die plaaslike mense gestudeer, soms van vroeg in die oggend tot laat in die aand. Dit was baie opwindend om soveel hartlike, gasvrye mense te ontmoet wat in geestelike dinge belangstel. Etlike bejaarde Jakoetiese vroue het vir ons gesê: “Ons glo in God. Die feit dat julle hierheen gekom het, na die einde van die aarde toe, toon dat daar ’n God is!”
Die plaaslike gebruike het ons gefassineer. Mense stapel byvoorbeeld blokke ys soos vuurmaakhout langs hulle huise op. Wanneer hulle water nodig het, tel hulle eenvoudig een van die blokke op en sit dit in ’n groot ketel op die vuur om dit te laat smelt. Die dorpenaars het vir ons ’n wonderlike Arktiese vis bedien wat tsjir genoem word en heerlik is wanneer dit as stroganina, ’n plaaslike lekkerny, geëet word. Die vis word gevries sodra dit gevang word en dan in dun repies gesny, met ’n mengsel van sout en peper bedek en onmiddellik geëet. Die dorpenaars het dit ook geniet om ons te vertel van die fossieloorblyfsels, soos die mammoettande, en versteende bome wat hulle dikwels in hierdie gebied vind.
Van Chajir af het ek honderde kilometers gereis, hoofsaaklik per vliegtuig, om mense in ander dorpe in Jakoetië te besoek wat in die Bybel belangstel. Hoe hartlik en liefdevol is hierdie mense tog! Ek het eenkeer ’n seuntjie ontmoet wat op die een of ander manier uitgevind het dat dit my senuweeagtig maak om te vlieg. Hy het vir my ’n kaartjie gemaak om my aan te moedig. Hy het twee mossies en ’n vliegtuigie geteken en geskryf: “Sasja, wanneer jy in ’n vliegtuig vlieg, moenie bang wees dat jy gaan val nie. Matteus 10:29.” Hoe het dit tog my hart geraak toe ek die teks nageslaan het! Daar het ek Jesus se woorde oor die mossies gelees: “Nie een van hulle [sal] sonder julle Vader se wete op die grond val nie.”
Ek het net ’n paar van die baie indrukke wat ek van Jakoetië het, gemeld. Hierdie koue, onherbergsame land sal my altyd herinner aan daardie hartlike, wonderlike mense wat waarlik aan “die einde van die aarde” woon.
[Prente op bladsy 25]
Ons het gevind dat die Jakoetiese volk hartlik en gasvry is