Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 3/1 bl. 16-17
  • ’n Koraalrif in die wolke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Koraalrif in die wolke
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ek weer ná my ongeluk gevlieg het
    Ontwaak!—1991
  • ’n Besoek aan die Groot Barrièrerif
    Ontwaak!—1991
  • Koraal word bedreig en sterf uit
    Ontwaak!—1996
  • “Rooi goud” uit die Middellandse See
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 3/1 bl. 16-17

’n Brief uit Papoea-Nieu-Guinee

’n Koraalrif in die wolke

DIT is vyfuur op ’n bedompige Dinsdagoggend in Lae, Papoea-Nieu-Guinee. Ek en my vrou maak gereed om na Lengbati, op die berg Rawlinson in die Morobe-provinsie, te reis om ’n groep Jehovah se Getuies daar te besoek.

Ons vlug duur net sowat 30 minute in die eenmotorige viersitplekvliegtuig. Ek sit dikwels langs die vlieënier op hierdie vlugte, en weens die geraas van die enjin gesels ons met behulp van kopfone. Hy wys na die instrumente op die paneel voor ons, verduidelik hulle funksies en skerts dat ek die vliegtuig sal moet vlieg as iets met hom sou gebeur. Ek dink dadelik aan wat met ’n ander reisende bedienaar van Jehovah se Getuies hier in Papoea-Nieu-Guinee gebeur het. Toe die vlieënier tydens die vlug sy bewussyn verloor het, het hulle op stuuroutomaat in die lug gesirkel totdat die vlieënier sy bewussyn herwin het en die vliegtuig kon laat land. Gelukkig verloop ons vlug rustig en sonder probleme.

Ons vlieg nou parallel met die bergreeks en draai dan skielik deur ’n opening in die wolke en vlieg oor die top van ’n bergpiek wat slegs 100 meter of wat onder ons is. Voor ons lê die dorpie Lengbati, ’n groepie huise met dik grasdakke wat van boumateriaal uit die bos gemaak is. Die vlieënier kyk af na die landingstrook terwyl ons daaroor vlieg om die toestand daarvan na te gaan en seker te maak dat die dorpskinders nie daarop sokker speel nie. Hy kyk ook dat daar nie gate is wat varke dalk daarin gegrawe het sedert hy laas hier was nie. Terwyl hy terugdraai in die vallei in, sê hy: “Dit lyk redelik goed; ons sal probeer land.” Ons sirkel en begin daal sodat ons op die kort landingstrook kan land, wat die plaaslike dorpenaars uit die kant van die berg gekap het en onlangs met ’n nuwe laag fyngemaakte koraalkalksteen bedek het wat uit ’n nabygeleë berg gekap is.

Op vorige reise hierheen het ek na die gebreekte koraalkalksteen gekyk en gewonder hoe oud hierdie bergreeks werklik is. Stel jou net die geweldige kragte voor wat hierdie gewese koraalrif, wat honderde kilometers lank is, uit die oseaan en vier kilometer die lug in gestoot het! Wanneer ons uit die vliegtuig klim, staan ons op wat ek ’n koraalrif in die wolke noem.

Soos altyd kom die dorpsbewoners vanuit alle rigtings aangehardloop wanneer hulle die geluid hoor van die vliegtuig wat kom land. Terwyl die vlieënier die motor afskakel, sien ek ’n man uit die skare na die vliegtuig toe stap. Dit is Zung. Hy is een van die manne wat plaaslik aangewys is om na die weeklikse onderrigtingsprogramme om te sien wat Jehovah se Getuies oor die hele wêreld hou. Hy is onder sy mense bekend as ’n eerlike, betroubare man wat ’n rein lewe lei. Hy erken dat hy geleer het om so te wees deur Bybelbeginsels in sy lewe toe te pas. Nadat ons mekaar met die hand gegroet het, stap ons saam met Zung en ander Getuies ’n entjie teen die berg af. Kindertjies stap agter ons aan en stry met mekaar oor wie ons rugsakke gaan dra.

Ons kom by ’n klein houthuisie aan wat plaaslike Getuies gebou het vir wanneer die reisende bedienaar elke ses maande of wat kom besoek aflê. Hoewel Papoea-Nieu-Guinee ’n tropiese land is, raak dit op hierdie hoogte taamlik koel. Saans, wanneer ons ons paraffienlamp aansteek, sien ek dikwels hoe die wolke—wat die middag stadig teen die berg op gesweef het vanuit die vallei daaronder—by die huis in kruip deur die openinge tussen die vloerplanke. Dit voel ’n bietjie snaaks om ’n ski-baadjie en denimbroek aan te trek om warm te bly, terwyl ons net ’n paar uur tevore vergaan het van die tropiese hitte onder by die kus.

In die middel-1980’s het ’n man van hierdie dorpie die Bybel saam met Jehovah se Getuies in Lae gestudeer. Toe hy na sy dorpie teruggekeer het, het hy en ’n paar ander ’n klein vergaderplek gebou, waarop hulle baie trots was. Die dominee van die plaaslike Lutherse kerk en sy ondersteuners het toe die vergaderplek afgebrand. Die brandstigters het trots verklaar dat dit uitsluitlik ’n Lutherse gebied was. Sedertdien, en ondanks volgehoue teenstand, het die Getuies ’n ander vergaderplek gebou, en hulle getalle het voortdurend toegeneem tot ongeveer 50 bedrywige verkondigers van die goeie nuus. Party van die mense wat voorheen teen die werk van die Getuies gekant was, is nou self ywerig daarby betrokke.

Deesdae verwelkom die plaaslike inwoners dikwels die besoeke van Jehovah se Getuies, wat hulle uit die Bybel leer. Hoewel min mense in die dorpie kan lees, het die meeste plaaslike Getuies geleer om dit te doen sodat hulle die Bybel se boodskap aan ander kan verkondig. Tot 200 woon die weeklikse vergaderinge by wat in hulle Koninkryksaal gehou word.

Daar is geen elektrisiteit nie. Saans sit ons almal om die vuur in die kookhuis. Ons eet, gesels en lag saam. Die vreugde om Jehovah te dien, kan duidelik gesien word op ons vriende se stralende gesigte, wat in die sagte lig van die vuur verlig word. Dan, wanneer dit laat word, haal party ’n bombom, of stuk brandende palmblaar, uit die vuur, wat hopelik stadig genoeg sal brand sodat hulle ’n bietjie lig sal hê terwyl hulle met die bospaadjies terughardloop na hulle eie huise.

Terwyl ons terug huis toe loop, hoor ons hoe stil dit hier is. Ons word omring deur die geluide van die natuur. Voordat ons gaan slaap, kyk ons nog ’n laaste keer op na die helder naghemel en verwonder ons aan hoeveel sterre ons van hierdie hoogte af kan sien.

’n Week gaan vinnig verby, en ons verwag die vliegtuig môre. Nog net een koel nag in die wolke van Lengbati, en dan moet ons teruggaan na die vogtige hitte van die kus.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel