Bied die Goeie Nuus Aan—Met takt
1 “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kol. 4:6). Watter goeie raad het die apostel Paulus tog gegee! Dit sal goed wees as ons sy raad onthou wanneer ons die waarheid met ander deel.—2 Kor. 6:3.
IN DIE HUIS-TOT-HUISBEDIENING
2 Takt beteken dat ons weet wat om te doen of te sê om goeie betrekkinge met ander te bewaar en nie aanstoot te gee nie. In ons huis-tot-huiswerk ontmoet ons mense wat sê dat hulle besig is. As ons sien dat hulle regtig besig is, kan ons net kortliks die lektuur aanbied en vir hulle sê dat ons later wil terugkom om met hulle te gesels. As dit lyk of hulle nie regtig so besig is nie, kan ons sê: “Dan sal ek nie baie van u tyd in beslag neem nie.” Daarna kan ons net opsom wat ons wou bespreek, en ons aanbieding tot sowat ’n minuut beperk.
3 Soms sal ons onbeskofte huisbewoners teëkom. Ons wil nie onmanierlik antwoord en ‘kwaad vir kwaad vergeld nie’ (Rom. 12:17). Ons moet taktvol wees en gehoor gee aan die herinnering in Spreuke 15:1: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.” Die materiaal op bladsye 15-24 van die Redenering-boek sal ons help om huisbewoners op ’n sagmoedige, taktvolle manier te antwoord.
TYDENS HERBESOEKE
4 Wanneer ons teruggaan na mense wat lektuur geneem het, vind ons dikwels dat hulle glad nie na die publikasie gekyk het nie. Ons wil sulke mense aanmoedig om die lektuur te lees. Om dit te doen, kan ons taktvol op interessante vrae wys wat in die publikasie beantwoord word. Dit kan hulle geestelike aptyt wek en hulle beweeg om die gedrukte materiaal wat hulle het te lees.
5 Baie van ons het al ’n afspraak vir ’n herbesoek gemaak net om te vind dat die persoon nie tuis is wanneer ons teruggaan nie. Hoewel dit teleurstellend is en tyd en energie van ons verg, moet ons steeds taktvol wees wanneer ons die persoon weer teëkom. Ons kan vir hom sê dat ons jammer is dat ons hom nie tuis gevind het nie en meld dat ons weer ’n spesiale poging sal aanwend om hom te besoek en daarna uitsien om ’n verdere Bybelbespreking met hom te hê.
TYDENS BYBELSTUDIES
6 Mense berei nie altyd vir hulle studies voor nie. As dit die geval is, kan ons tyd daaraan afstaan om vir hulle te wys hoe om voor te berei. Of ons kan hulle op ’n paar van die dinge wys wat hulle kan leer as hulle sou voorberei. Die Studie sal vinniger verloop, en hulle sal vinniger vordering maak.
7 ’n Persoon met wie ons studeer, woon dalk nie al die vergaderinge gereeld by nie. Ons kan tekste soos Psalm 133:1 of Hebreërs 10:24, 25 bespreek en hom vra hoe hy hierdie verse verstaan. Party verkondigers wat die waarheid gou aanvaar het, raak miskien ongeduldig met die wat stadig vorder. Maar ons moet onthou dat nie alle mense dieselfde is nie, en ons moet dus geduldiger met party wees.
8 Paulus het vir Timotheüs gesê dat “’n dienskneg van die Here . . . vriendelik [moet] wees teenoor almal. . . . Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys” (2 Tim. 2:24, 25). As dit vir “weerspanniges” geld, moet diegene wat belangstelling toon en tot ’n studie ingestem het seer sekerlik met sagmoedigheid en takt behandel word. Dit sluit ons kinders en ander familielede in met wie ons studeer.
9 Mag ons almal die uitstekende voorbeeld van die Groot Onderwyser, Jesus, volg terwyl ons die goeie nuus van huis tot huis, tydens herbesoeke of tydens Bybelstudies verkondig. Hy het van homself gesê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart” (Matt. 11:29). Ons moet dieselfde eienskappe toon en sagmoedig en taktvol in ons predikings- en dissipelmaakwerk wees.