Beantwoord Jehovah se liefde in julle jeug
1 Sien julle as jongmense in die gemeente die oorvloedige bewys van Jehovah se groot liefde wat julle omring? Beantwoord julle daardie liefde op ’n manier wat hom behaag? Hoe kan julle dit doen?
2 Die meeste van julle het liefdevolle ouers wat met groot opoffering aan hulle kant materieel, geestelik, emosioneel en verstandelik vir julle gesorg het om julle op die been te help. Dit is waarlik ’n ryk seen van Jehovah. Hy het ook deur sy organisasie ’n aantal publikasies en tydskrifartikels spesiaal vir julle beskikbaar gestel om julle te help om suksesvol te wees en die daaglikse sorge te verwerk. As julle hierdie voorsienings benut het, is julle ook goed toegerus om moeilike situasies wat vandag se jeug verwar die hoof te bied. Beskou julle dit alles as ’n bewys van God se liefde vir julle?—1 Joh. 4:8,19.
3 Jehovah het die Bybel vir ons almal beskikbaar gestel, hetsy ons oud of jonk is. En die losprys wat hy deur sy Seun Jesus Christus voorsien het, geld ewe veel vir jongmense wat geloof beoefen as vir getroue ouer persone. Julie het die Koninkrykshoop, tesame met die belofte van ’n paradysaarde, waar julle vry kan wees van lastige sorge wat so baie van vandag se jongmense wat Jehovah nie ken nie, oorweldig.
4 Laat die blote wete dat Jehovah so baie vir julle gedoen het selfs sonder dat julle daarvoor gevra het julle nie aangetrokke tot hom voel nie? (Rom. 5:8). Maar hoe kan julle Jehovah se liefde op ’n praktiese manier beantwoord, behalwe om net dankbaar te wees?
TOON DEUR DADE HOE JULLE VOEL
5 Julle kan dinge doen om die waarheid julle eie te maak. Julle kan dit byvoorbeeld julle doelwit maak om in ’n jaar die hele Bybel deur te lees. Julle kan dit doen deur vasbeslote vier of vyf bladsye per dag te lees. Leer hoe om die Index te gebruik om antwoorde op julle vrae te vind. Navorsing en goeie studiegewoontes sal tot julle geestelike vordering bydra (Spr. 2:2-4; 1 Tim. 4:15). Neem die inisiatief om vir vergaderinge voor te berei en wees voorbereid om kommentaar te lewer. Maak aantekeninge van hoofgedagtes by vergaderinge en byeenkomste en bespreek dit later met ander. Deur sulke ywerige pogings openbaar julle opregte waardering vir wat vir julle gedoen is, en julle sal geestelik groei.—2 Pet. 1: 5-8.
6 Daar is ook dinge wat julle kan doen om die gemeente te help. Om ouer of sieklike broers op praktiese maniere te help, is ’n goeie manier om Jehovah se liefde te beantwoord. Het julle daaraan gedink om gereeld tot Koninkryksaaluitgawes by te dra? As julle Markus 12:41-44 lees, sal dit julle help om te besef dat Jehovah God en sy Seun ’n geringe bydrae van iemand met ’n klein inkomste baie waardeer. Bied julle hulp vrywillig aan wanneer dit nodig is om die Koninkryksaal en die terrein skoon te maak. Daar kan geleenthede wees om by streek- en kringbyeenkomste te werk as hulp nodig is.
HELP ANDER GEESTELIK
7 Die apostel Paulus het Jehovah se liefde beantwoord deur moeite te doen om ander geestelik te help. Selfs al is julle jonk, kan julle dieselfde doen deur julle al hoe meer te bekwaam en meer tyd aan die bediening te wy. Het julle ’n persoonlike uurdoelwit vir elke week of maand? Baie jong verkondigers kon Bybelstudies met skoolmaats of ander hou. Miskien kan julle dit ook doen as julle Jehovah om hulp vra en julleself moedig inspan. As julle gedoop is, bied hulppionierdiens julle ’n goeie geleentheid om ander gedurende julle skoolvakansies geestelik te help. Kan julle ander aanmoedig om saam met julle aan die hulppionierdiens deel te neem?
8 Christene word gewaarsku om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie (2 Kor. 6:1). Mag julle beantwoording van Jehovah se liefde bewys dat julle waardeer wat hy vir julle gedoen het. En as julle in julle jeug aan jul Skepper dink, kan julle daarvan seker wees dat julle tot in ewigheid by sy liefde sal baat vind.—Pred. 12:1.