Bied die goeie nuus aan—Op doeltreffender wyse deur te luister
1 As ons doeltreffender in ons bediening wil wees, moet ons besef dat geen mens dieselfde is nie. Elke mens het sy eie ondervindinge in die lewe sowel as sy eie persoonlike belange en begeertes. Dit is ’n uitdaging om die Koninkryksboodskap persoonlik te maak, dit wil sê, om vir die persoon met wie ons praat te toon wat dit vir hom as individu beteken. Om dit doeltreffend te doen, moet ons ook aandagtig luister.
2 Baie verkondigers gebruik taktvolle vrae in hulle inleidings, en dit help om die huisbewoner by die gesprek te betrek. Beskouingsvrae wat die huisbewoner nie in die verleentheid stel nie, is die doeltreffendste. Maar wanneer ’n huisbewoner praat, is dit belangrik dat ons luister na wat hy sê. Wanneer ons luister, toon ons naasteliefde en respek, en sodoende kan ons uitvind wat die persoon dink. As ons weet wat ’n persoon se omstandighede is, stel dit ons in staat om empatie te hê, om onsself in sy posisie te stel. Ons kan dan die vertroosting en hoop uit die Bybel aan hom meedeel.
WEES AANPASBAAR
3 Die apostel Paulus se raad was: “Leer om so goed as moontlik met elke persoon wat jy ontmoet te praat” (Kol. 4:6, New English Bible). Hoewel ons nie vooruit weet wat ’n persoon presies gaan sê nie, is ons bewus van die probleme waarmee baie mense vandag te kampe het. Ons kan dus “leer” en geestelik voorbereid wees om op verskillende situasies te reageer.
4 Byvoorbeeld, ons het moontlik voorberei om oor wêreldvrede te praat, maar die huisbewoner meld dat hy sy werk verloor het. Moet ons hierdie opmerking ignoreer? Die probleem om vir sy huisgesin te sorg, druk ongetwyfeld swaar op sy gemoed. Hoe kan jy hom help? Jy kan empatie toon en jou opregte besorgdheid oor sy situasie uitspreek. Vestig dan sy aandag vriendelik op die tekste wat toon hoe God se regering nie net bevredigende werk sal voorsien nie, maar al ons behoeftes sal bevredig.—Jes. 65:17, 21, 22, 24.
5 Ons vind miskien uit dat die persoon of ’n lid van sy gesin onlangs die slagoffer van ’n misdaad was of die een of ander onreg gely het. Ons simpatieke besorgdheid en persoonlike belangstelling onder hierdie omstandighede kan die persoon se hart sag maak, sodat ons vir hom kan wys dat Jehovah God wel baie bewus is van hierdie pynlike probleme en dat hy binnekort sal optree om alle goddeloosheid te verwyder.—Sien Redenering uit die Skrif, bladsye 10, 12, 249, par. 4–252, par. 4.
6 Dikwels ontstaan ’n slegte verhouding tussen mense omdat hulle nie goed kommunikeer nie. Wanneer die een praat, skenk die ander persoon moontlik nie werklik met sy hart en verstand aandag nie. Sulke slegte luistergewoontes kan lei tot misverstande of verspeelde kanse om iemand te help. As ons die goeie gewoonte aankweek om beleef te luister, kan ons die goeie nuus doeltreffender aanbied, Jehovah se onselfsugtige belangstelling in ander weerspieël en mense help om ’n goeie verhouding met ons liefdevolle Skepper en sy volk op te bou.—Jak. 1:19; gAF75 3/22 bl. 18-20.