Wat kan ek sê om belangstelling wakker te hou?
1 ’n Belangrike deel van ons doel in die prediking van die goeie nuus is om dissipels te maak, en nie om net lektuur by mense te laat nie. Nadat ons belangstelling gevind het, moet ons derhalwe die saadjies wat geplant is, kweek en voed en sodoende ons deel doen om ’n gesonde omgewing te skep waarin Jehovah die persoon kan help om geestelik te groei (1 Kor. 3:6). Wat kan jy sê wanneer jy teruggaan om voort te bou op die aanvanklike aanbiedings wat hierbo gemeld word? Hier is ’n paar voorstelle wat jy kan gebruik in verskillende situasies wat jy moontlik sal teëkom.
2 Hou belangstelling wat gevind is wakker: “Toe ons voorheen kortliks gesels het, was jy baie besig, maar jy het tog gesê dat jy bekommerd is oor die toekoms. Soos jy sal onthou, het ons in die Bybel in Openbaring 1:3 gelees dat ‘die tyd naby is’. Dit raak ons almal se toekoms regstreeks. Let op wat hierdie boek oor dié teks sê. [Lees uit paragraaf 11 op bladsy 17 van die Openbaring-boek.] Hierdie publikasie bespreek al die profesieë in die Bybelboek Openbaring en toon hoe ons persoonlik daarby kan baat vind. Wil jy graag meer hieromtrent leer?”
3 Gebruik die Openbaring-boek om ’n Bybelstudie te begin: “Ek is bly om jou weer te sien. Daar is nog ’n gedagte in die boek wat ek by jou gelaat het wat ek met jou wil bespreek, en dit is baie bemoedigend. Die Bybel praat van ’n ‘boek van die lewe’ met betrekking tot diegene wat vir ewig sal lewe. Wil jy graag weet wie se name in daardie boek opgeteken is?” Blaai na bladsy 297 van die Openbaring-boek. Lees paragraaf 11 en vra dan die vrae op daardie paragraaf. Nadat jy ’n paar paragrawe bespreek het, kan jy aanbied om terug te kom en die bespreking voort te sit.
4 Gebruik ’n ander publikasie om ’n Bybelstudie te begin: “Ek is bly om jou vandag tuis te vind. Toe ons die vorige keer gesels het, het ons die Bybel se belofte in Openbaring 1:3 gelees. [Lees weer.] Let op dat die geluk waarvan daar hier gepraat word, nie outomaties verkry word nie. Twee dinge is nodig: Ons moet lees wat die Bybel sê en dan doen, of toepas, wat daarin geskryf is. Hierdie brosjure ‘Kyk, Ek maak alles nuut’ sal jou help om die lektuur wat ek by jou gelaat het met meer genot te lees omdat dit op ’n eenvoudige manier verduidelik wat God se vereistes presies is. Op bladsy 30 is daar ’n lys van 12 vrae wat baie mense vra. Watter een van hulle sou jy graag beantwoord wil hê?” Nadat die huisbewoner geantwoord het, kan jy na die plek in die brosjure blaai waar die vraag beantwoord word en ’n Bybelstudie begin.
5 Gebruik die prente om belangstelling te wek: Die Openbaring-boek bevat talle treffende prente. Hulle kan gebruik word om belangstelling te wek. Wanneer ons byvoorbeeld ’n herbesoek doen, kan ons na bladsy 7 blaai. Wys die prent van Johannes op die eiland Patmos vir die huisbewoner. Openbaring 1:3 beklemtoon dat die openbaring aan Johannes ’n gelukkige boodskap was. Hoe is dit dan moontlik as Openbaring skrikwekkende diere en vernietiging beskryf? Bespreek paragrawe 1 en 2 op bladsy 6 van die boek. Prente op die skutblaaie kan gebruik word, asook tonele wat die Paradysaarde uitbeeld op bladsye 302, 308 en 309.
6 Wanneer ons herbesoeke doen, moet ons voortbou op die fondament wat gedurende die eerste besoek gelê is. As ons noukeurig aandag skenk aan hierdie aspek van ons bediening sal ons en diegene wat na ons luister ryk seëninge van Jehovah ontvang.—1 Tim. 4:16.