Inleidings vir die mensdom se soeke na God
1 Daar is vandag baie mense wat van mening is dat hulle godsdienskeuse ’n baie private aangeleentheid is. Dit kan dus ’n uitdaging wees om met ons bure oor hierdie onderwerp te praat. Maar ons het nou die boek Die mensdom se soeke na God, wat ’n waardevolle hulpmiddel is om die predikingswerk onder mense van verskillende godsdiensagtergronde te doen.
2 Wat sal jy sê om die huisbewoner se belangstelling te prikkel sodat hy hierdie boek sal wil lees? Watter punte sal jy beklemtoon wat inslag sal vind by verklaarde Christene? by diegene met nie-Christelike opvattings? of by diegene wat geen geloof aanhang nie? Die volgende wenke sal ons help om daarop voorberei te wees om vir ons bure te toon hoe nodig dit is om ‘Jehovah te soek’ en ‘hom aan te roep terwyl hy naby is’ (Jes. 55:6, vgl. NW). Hierdie wenke kan by plaaslike omstandighede aangepas word.
3 Waarom moet ons nagaan wat ons gaan sê?: Aangesien baie sê dat hulle tevrede is met hulle godsdiens en nie daarin belangstel om te verander nie, sal ons moontlik ons inleiding moet aanpas sodat ons die huisbewoner kan help om sonder vooroordeel ondersoek in te stel na wat ons sê.
4 Nadat jy op gepaste wyse gegroet het, kan jy sê:
◼ “In ons gesprekke met ons bure het ons gevind dat baie mense tevrede is met hulle godsdiens en nie wil verander nie. Maar dink jy dat dit tot beter begrip en minder haat in die wêreld sou lei as mense die moeite sou doen om ander se opvattings te ondersoek? [Laat huisbewoner antwoord.] Let op wat die Bybel oor diegene sê wat God liefhet en hoe hulle oor ander moet voel.” Vestig die aandag op paragrawe 15 en 16 op bladsy 10 van die boek Die mensdom se soeke na God nadat jy Handelinge 17:26, 27 gelees het.
5 Baie het gevind dat dit die huisbewoner se belangstelling sal wek as hulle na die hoofstuk in die boek blaai waar sy godsdiens bespreek word. Let op hoe dit gedoen kan word.
6 Nadat jy jou voorgestel het, kan jy sê:
◼ “Daar is vandag soveel godsdienste. Het jy al gewonder hoe ons kan vasstel of ons godsdiens deur God goedgekeur word?” Laat die huisbewoner antwoord en vestig dan sy aandag op die venster op bladsy 377 van die boek Die mensdom se soeke na God, wat tien maniere uiteensit waarop die ware godsdiens uitgeken kan word, en beklemtoon veral punt nommer 7. Vra die huisbewoner of hy saamstem dat ’n beoefenaar van die ware godsdiens só oor ander rasse en nasionaliteite moet voel. As die tyd dit toelaat, kan jy die drie tekste wat gemeld word, naslaan. Sluit dan af deur te sê dat die ander nege redes wat genoem word ook sulke grondige skriftuurlike ondersteuning het.
7 Ander nuttige dele: Ons kan ook van die uitvoerige onderwerpregister agter in die boek gebruik maak. Wat kan ons byvoorbeeld doen as baie mense in die gebied glo dat alle godsdienste net verskillende weë is wat na God toe lei? Wel, ons kan onder die opskrif “Godsdiens” kyk waar daar ’n onderdeel is met die titel: “‘alle godsdienste gelyk’: 12”. Dit lig toe hoe die register ons kan help om gesprekspunte te vind. Wanneer ons met mense praat wat nie in God glo nie, kan ons hulle paragrawe 1 en 2 op bladsy 329 wys, wat die vraag ten opsigte van moderne ongeloof bespreek. Die vyf “Vrae wat beantwoord moet word” op bladsye 17-18 sal dalk veral die belangstelling wek van mense wat wonder of die Bybel leer wat die meeste godsdienste verkondig.
8 As ons doeltreffende oorgangspunte gebruik om die boek Die mensdom se soeke na God by mense aan te bied, sal ons die mense met wie ons praat, kan help om die een ware God, Jehovah, te soek.