Help ander om ‘die dinge wat geskrywe staan te onderhou’
1 Dit is nie genoeg om die woorde van die profesieë in die boek Openbaring te “hoor” nie. Om ten volle daarby baat te vind, moet ’n mens “onderhou” wat geskrywe staan (Op. 1:3). Die verspreiding van lektuur is slegs ’n vroeë stap in die proses om dissipels te maak. As ons belangstellendes gevind het wat bereid is om te hoor, moet ons gou teruggaan om hulle te help om meer te leer. Waaroor kan ons tydens ons herbesoek praat?
2 As jy tydens jou eerste besoek oor die simboliese vier perderuiters gepraat het, kan jy jou gesprek so begin:
◼ “Ons het voorheen oor die boek Openbaring gepraat en oor hoe die profesieë daarvan vandag in wêreldgebeure vervul word. Openbaring hoofstuk6 het die rit van die simboliese vier perderuiters voorspel, wat groot geweld en benoudheid op die aarde tot gevolg sou hê. Ons het dit met ons eie oë sien plaasvind. Baie wonder wanneer hierdie benoudheid sal eindig sodat ons die lewe in ’n vreedsame wêreld kan geniet. Wat dink jy? [Laat die huisbewoner antwoord.] Jesus se dissipels het in die antwoord op daardie vraag belanggestel.” Lees Matteus 24:3, waar die vraag geopper word, en dan vers 34, waar Jesus die antwoord gegee het. As die reaksie positief is, kan jy meer oor die laaste dae verduidelik.
3 As jy tydens die eerste besoek God se Koninkryk bespreek het, besluit jy dalk om verder te gaan deur hierdie vraag te stel:
◼ “Watter soort regering meen jy is nodig om in al die mensdom se behoeftes te voorsien? [Laat die huisbewoner antwoord. Lees Jeremia 10:23.] Soos jy kan sien, was dit nooit God se voorneme dat die mens sy eie sake moet rig nie. Pogings om dit sonder God se hulp te doen, is die oorsaak van die meeste van ons probleme. God se Koninkryk is die enigste regering wat kan voorsien wat ons nodig het.” Blaai na bladsy 250 in die Redenering-boek, en bespreek die tekste onder die laaste tussenhofie. Sit die gesprek voort deur te verduidelik waarom ons ons volle vertroue in God kan stel.
4 Jy wil dalk die volgende probeer om ’n skriftuurlike bespreking te begin:
◼ Wys die prent op bladsy 302 van die Openbaring-boek en verduidelik: “Die mensdom sal hierdie toestande geniet wanneer God se wil op die aarde soos in die hemel geskied. Maar party is bang dat slegte toestande sal terugkeer. Dit sal onmoontlik wees, aangesien daar geen goddelose mense meer sal wees nie.” Lees Psalm 37:10, 11. Nooi die huisbewoner om van ons Bybelstudieprogram gebruik te maak om meer te leer.
5 As jy die traktaat “Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld” by iemand gelaat het, kan jy na die prent op die voorkant wys en dan paragraaf1 onder die tussenhofie “Die lewe in God se nuwe wêreld” lees. Sê dan:
◼ “As ons in so ’n wêreld wil lewe, is daar iets belangriks wat ons moet doen.” Lees die laaste paragraaf en bied die Openbaring-boek aan.
6 Aangesien dit ons doelwit is om Bybelstudies te begin, moet ons doeltreffende herbesoeke doen. Sit tyd daarvoor opsy en berei goed voor. Op dié manier kan ons die opregtes van hart werklik help.—Op. 22:6,7.