Openbaring—’n sleutel tot ware geluk
1 Die apostel Johannes se woorde in Openbaring 1:3 is vir ons goeie nuus, want dit vertel ons hoe om geluk te vind. Hy het geskryf: “Gelukkig is hy wat hardop lees en dié wat die woorde van hierdie profesie hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan.” Die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! het baie mense al gehelp om groot geluk te vind. Ons het goeie rede om dit vir ander aan te bied.
2 Jy sal miskien ’n gesprek met hierdie vraag kan begin:
◼ “Dink jy dat die Bybelboek Openbaring bedoel was om verstaan te word, of moes dit altyd ’n verborgenheid bly? [Laat die huisbewoner antwoord.] Baie ander voel ook so. Kyk wat die Bybel in Openbaring 1:3 sê. [Lees.] Openbaring kán dus verstaan word, en die kennis wat dit bevat, kan vir ons geluk bring. Hoe is dit moontlik?” Hersien gedagtes in paragraaf 2 op bladsy 6 en sê dan: “Hierdie publikasie bied ’n vers-vir-vers-bespreking van die boek Openbaring. Dit sal beslis vir jou die moeite werd wees om dit te lees. Ek sal graag hierdie eksemplaar by jou wil laat teen ’n bydrae van R10,50.”
3 Aangesien baie mense daaroor besorg is om in hulle materiële behoeftes te voorsien, sal die volgende dalk ’n mate van belangstelling wek:
◼ “Wat dink jy is ons grootste behoefte? [Laat die huisbewoner antwoord.] Daar is baie mense wat daarvan oortuig is dat ons meer materiële dinge nodig het.” Blaai na bladsy 73 en hersien die hoofpunte in die venster getiteld “Materialisme versus wysheid”. Gaan voort deur te sê: “Dit toon dat te veel klem op materiële dinge geplaas word; ons behoort meer oor ons geestelike behoeftes besorg te wees. Ware kennis is wat ons werklik nodig het. Maar kennis waarvan?” Lees Johannes 17:3 en verduidelik hoe kennis van God tot die ewige lewe kan lei. Bied aan om die boek by hulle te laat en terug te kom om te wys hoe dit wonderlike inligting openbaar oor God se voorneme om al die behoeftes van die mens te bevredig.
4 Aangesien baie mense besorg is oor die benoudheid in die wêreld, kan jy die volgende probeer:
◼ “Almal met wie ek praat, is besorg oor die toekoms. Party wêreldleiers meen dat ons op die randjie van ’n nuwe eeu van vrede is. Hoe voel jy daaroor? [Laat die huisbewoner antwoord.] Ten spyte van al die mens se pogings neem geweld en benoudheid steeds wêreldwyd toe. Die Bybel sê wat die enigste blywende oplossing vir hierdie probleme is. [Lees 2 Petrus 3:13. Blaai na die illustrasie op bladsy 302 en verduidelik hoe God se hemelse Koninkryk blywende vrede en veiligheid na hierdie aarde sal bring.] Hierdie publikasie sal jou help om te sien hoe jy deel kan wees van hierdie nuwe mensegemeenskap wat ewige lewe onder die heerskappy van God se Koninkryk sal geniet.”
5 As jy iemand ontmoet wat besig is en jy jou boodskap kort moet maak, kan jy die volgende sê:
◼ “Aangesien jy net ’n oomblik het, wil ek graag hierdie traktaat [of tydskrifartikel] met die titel [kies gepaste traktaat of artikel] by jou laat. Lees dit gerus. Wanneer ek weer kom, sal ek graag wil weet wat jy daarvan dink.”
6 Wanneer jy lektuur aanbied, moet jy nie huiwer om die aanbevole bydrae te noem nie. Ons lektuur is nie duur vergeleke met dié wat in die handel beskikbaar is nie. As mense ’n bydrae maak vir hulle lektuur, dra dit by tot die geluk wat hulle sal smaak wanneer hulle die betekenis van die wonderlike profesieë in Openbaring verstaan.—Spr. 3:13.