Spesiale uitgawe van die Ontwaak! wat in September aangebied gaan word
1 Die meeste mense geniet dit om na sangvoëls te luister of na ’n sonsondergang te kyk. Baie erken egter nie dat ’n liefdevolle hemelse Vader hierdie dinge geskep het nie. Ons sal ’n unieke geleentheid hê om te getuig van die feit dat Jehovah die Skepper is deur ’n spesiale uitgawe van die Ontwaak! te versprei (Jes. 40:28; 43:10). Die Ontwaak! van September word uitsluitlik gewy aan die onderwerp “Is daar ’n Skepper?”
2 In die gebied: Indien moontlik, reël om elke Saterdag saam met die gemeente aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Jy kan natuurlik die spesiale uitgawe ook by ander geleenthede gedurende die week aanbied. Onderwysers en ander wat by die opvoedkunde betrokke is, sal hierdie uitgawe waarskynlik baie interessant vind. Spesiale reëlings kan dus getref word om hierdie mense in julle gebied te besoek.
3 As iemand belangstelling toon, kan jy hom ’n vraag vra wat jy tydens die volgende besoek sal beantwoord. Jy kan byvoorbeeld ’n vraag opper oor waarom ’n liefdevolle Skepper soveel lyding sou toelaat. Tydens die herbesoek kan jy dan die aandag vestig op hoofstuk 1 of hoofstuk 11 van die Leer Bybel-boek. Of jy kan ’n vraag opper oor die Skepper se voorneme met die aarde en dan hoofstuk 3 bespreek wanneer jy teruggaan.
4 By die skool: As jy op skool is, kan jy gerus die spesiale Ontwaak! as ’n geskenk vir jou onderwysers en skoolmaats gee. As jy net ’n eksemplaar op jou lessenaar sit, kan dit dalk vrae oor ons oortuigings uitlok. Jy sal heel moontlik geleenthede hê om inligting daaruit te gebruik wanneer jy jou geloof tydens klasbesprekings verdedig en wanneer jy skooltake voorberei. Om jou te help, bevat hierdie nommer ’n “Jongmense vra”-artikel met die titel “Hoe kan ek my geloof in die skepping verdedig?”
5 Jehovah verdien om eer en heerlikheid te ontvang vir wat hy geskep het (Op. 4:11). Ons kan eer aan ons Skepper betoon en ander help om dit te doen deur die Ontwaak! van September ywerig aan te bied.