STUDIEARTIKEL 45
LIED 111 Ons redes tot vreugde
Behou jou vreugde as ’n versorger
“Dié wat met trane saai, sal met uitroepe van vreugde oes.” – PS. 126:5.
FOKUS
Hoe versorgers die unieke uitdagings wat hulle het, kan hanteer en hulle vreugde kan behou.
1-2. Hoe voel Jehovah oor versorgers? (Spreuke 19:17) (Sien ook prente.)
“EK EN my vrou is al meer as 32 jaar lank getroud,” sê ’n broer uit Korea met die naam Djin-jeol. “Ek is al die laaste vyf jaar haar versorger. Sy ly aan Parkinson-siekte en kan skaars beweeg. Ek is baie lief vir my vrou, en ek geniet dit om haar te versorg. Sy slaap elke aand in ’n hospitaalbed in ons huis. Ek slaap langs haar, en ons hou hande vas terwyl ons slaap.”
2 Versorg jy iemand vir wie jy lief is, soos jou ouer, huweliksmaat, kind of vriend? Indien wel, waardeer jy heel moontlik die unieke voorreg om hom of haar op so ’n persoonlike manier te help. En deur jou geliefde te versorg, wys jy jou toegewydheid aan Jehovah (1 Tim. 5:4, 8; Jak. 1:27). Maar jy ondervind uitdagings wat ander dikwels nie raaksien nie. Soms voel jy dalk selfs dat jy die enigste een is wat ly. Jy glimlag dalk wanneer jy by ander is, maar wanneer jy alleen is, kan jy nie jou trane keer nie (Ps. 6:6). Al is ander dalk nie bewus van hoe jy sukkel nie, is Jehovah altyd daarvan bewus. (Vergelyk Eksodus 3:7.) Jou trane en opofferings is kosbaar vir hom (Ps. 56:8; 126:5). Hy sien alles raak wat jy doen om jou geliefde te help. Hy voel dat hy by jou in die skuld is en belowe om jou terug te betaal. – Lees Spreuke 19:17.
Versorg jy iemand vir wie jy lief is? (Sien paragraaf 2)
3. Watter uitdagings het Abraham en Sara dalk gehad terwyl hulle Tera versorg het?
3 Die Bybel bevat baie verslae van mans en vrouens wat versorgers was. Kyk na die voorbeeld van Abraham en Sara. Toe hulle Ur verlaat het, was hulle pa, Tera, omtrent 200 jaar oud. Maar hy het saam met hulle gegaan. Hulle het omtrent 960 kilometer na Haran gereis (Gen. 11:31, 32). Abraham en Sara was ongetwyfeld lief vir Tera, maar dink net hoe uitdagend dit moes gewees het om hom te versorg, veral terwyl hulle gereis het. Hulle het heel moontlik op kamele of donkies gereis, wat dalk verskriklik moeilik was vir die bejaarde Tera. Dit sou net normaal gewees het dat hulle soms baie moeg, dalk selfs uitgeput, gevoel het. Wat ook al die geval was, Jehovah het hulle beslis die krag gegee wat hulle nodig gehad het. Net soos Jehovah Abraham en Sara ondersteun het, sal hy jou ondersteun en versterk. – Ps. 55:22.
4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
4 Vreugde kan jou help om as ’n versorger te volhard (Spr. 15:13). ’n Vreugdevolle persoon kan gelukkig bly ten spyte van sy omstandighede (Jak. 1:2, 3). Hoe kan jy sulke vreugde ontwikkel? Een manier is deur in gebed op Jehovah te vertrou en hom te vra om jou te help om positief te bly. In hierdie artikel sal ons bespreek wat versorgers nog kan doen om vreugdevol te bly. Ons sal ook bespreek hoe ander hulle kan help. Kom ons bespreek eerstens hoekom versorgers hulle vreugde moet behou en watter uitdagings hulle daarvan kan beroof.
HOE DIT JOU VREUGDE KAN AFFEKTEER AS JY ’N VERSORGER IS
5. Hoekom moet versorgers hulle vreugde behou?
5 As versorgers hulle vreugde verloor, kan hulle maklik moeg word (Spr. 24:10). En wanneer hulle moeg is, is hulle dalk nie meer so liefdevol en behulpsaam as wat hulle wil wees nie. Watter uitdagings kan veroorsaak dat versorgers hulle vreugde verloor?
6. Hoekom ly party versorgers aan uitbranding?
6 Versorgers ondervind dalk uitbranding. ’n Suster met die naam Leah sê: “Om iemand te versorg, is emosioneel uitputtend selfs op ’n goeie dag. Aan die einde van die dag voel ek dikwels dat ek niks oorhet om te gee nie. Soms het ek nie eers die emosionele energie om ’n teksboodskap te beantwoord nie.” Ander vind dit moeilik om genoeg rus te kry of om ’n baie nodige blaaskansie te vat. ’n Suster met die naam Inés sê: “Ek sukkel om genoeg te slaap. In die aand moet ek dikwels elke twee ure opstaan om my skoonma te versorg. En ek en my man kon jare laas op vakansie gaan.” Party versorgers moet sosiale uitnodigings en selfs teokratiese toewysings van die hand wys omdat hulle geliefde voltydse sorg nodig het. As gevolg daarvan voel hulle dalk eensaam en vasgevang in hulle omstandighede.
7. Hoekom sukkel party versorgers met skuldgevoelens of hartseer?
7 Versorgers sukkel dalk met intense skuldgevoelens of hartseer. ’n Suster met die naam Jessica sê: “Ek sukkel met my eie beperkings. Wanneer ek tyd maak om na myself te kyk, laat dit my skuldig en selfsugtig voel.” Party versorgers voel skuldig omdat hulle soms baie ongelukkig voel oor hulle situasie. Ander is bekommerd dat hulle nie genoeg doen om hulle geliefde te help nie. En ander voel skuldig omdat hulle in ’n oomblik van frustrasie iets leliks gesê het vir die persoon wat hulle versorg (Jak. 3:2). Party is hartseer omdat hulle die lewendige en gesonde persoon wat hulle voorheen geken het, verloor het. ’n Suster met die naam Barbara sê: “Een van die grootste uitdagings vir my is om te sien hoe die persoon vir wie ek lief is, elke dag ’n bietjie meer agteruitgaan.”
8. Vertel ’n ondervinding van hoe ’n paar woorde van waardering ’n versorger kan raak.
8 Party versorgers voel dat hulle nie waardeer word nie. Hoekom? Omdat hulle baie min bedank of geprys word vir hulle harde werk en opofferings. ’n Paar woorde van waardering kan baie beteken (1 Tess. 5:18). ’n Suster met die naam Melissa sê: “Ek het soms al gehuil uit frustrasie. Maar wanneer dié wat ek versorg vir my sê: ‘Dankie vir alles wat jy vir my doen,’ laat dit my baie beter voel! Daardie kommentare help my om die volgende dag gereed en gretig wakker te word om hulle weer te versorg.” ’n Broer met die naam Ahmadu verduidelik hoe woorde van waardering hom raak. Hy en sy vrou versorg haar susterskind wat by hulle bly; sy kry epileptiese aanvalle. Hy sê: “Al verstaan sy dalk nie heeltemal hoe baie opofferings ons maak om haar te versorg nie, swel my hart van vreugde wanneer sy vir ons sê hoe baie sy ons waardeer of wanneer sy vir ons ’n briefie skryf met die woorde ‘Ek is lief vir julle’.”
HOE OM VREUGDEVOL TE BLY
9. Hoe kan ’n versorger beskeie wees?
9 Wees beskeie (Spr. 11:2). Ons almal het beperkte tyd en energie. So jy sal perke moet stel wanneer dit kom by wat jy kan en nie kan doen nie, en soms sal jy moet nee sê. En dit is oukei! Dit wys dat jy beskeie is. As ander aanbied om jou te help, aanvaar hulle hulp gewillig. ’n Broer met die naam Jay sê: “Ons kan net soveel op een slag doen. As jy jou beperkings verstaan en nie meer doen as wat jy kan nie, sal dit jou help om jou vreugde te behou.”
10. Hoekom is dit belangrik dat versorgers insig toon? (Spreuke 19:11)
10 Toon insig. (Lees Spreuke 19:11.) Wanneer jy insig toon, is jy meer geneig om kalm te bly wanneer iemand jou kwaad maak. ’n Persoon met insig probeer verstaan hoekom iemand op ’n sekere manier optree. Dit is te verstane dat party kroniese siektes kan veroorsaak dat ’n persoon irrasioneel optree (Pred. 7:7). Byvoorbeeld, ’n persoon wat oor die algemeen liefdevol en bedagsaam is, word dalk stryerig of bakleierig. Of hy word dalk veeleisend, krities of moeilik om tevrede te stel. As jy iemand versorg wat ’n ernstige siekte het, sal dit jou dalk help om meer oor sy siekte te leer. Hoe meer jy sy siekte verstaan, hoe groter is die kans dat jy sal besef dat hy so optree as gevolg van sy toestand, nie as gevolg van wie hy as ’n persoon is nie. – Spr. 14:29.
11. Vir watter belangrike dinge moet versorgers elke dag tyd maak? (Psalm 132:4, 5)
11 Maak tyd om jou vriendskap met Jehovah te versterk. Soms sal jy sekere aktiwiteite opsy moet sit om ander dinge te doen wat “belangriker” is (Fil. 1:10). Een van hierdie belangriker dinge is om jou verhouding met Jehovah te versterk. Koning Dawid het Jehovah se aanbidding ’n prioriteit gemaak. (Lees Psalm 132:4, 5.) Net so is dit belangrik dat jy elke dag tyd moet maak om ’n deel van die Bybel te lees en om te bid. ’n Suster met die naam Elisha sê: “Ek kan my vreugde behou deur te bid en deur na te dink oor vertroostende psalms. Gebed is vir my ’n lewenslyn. Ek vind dat ek regdeur die dag tot Jehovah bid om kalm te bly.”
12. Hoekom moet versorgers tyd maak om na hulle gesondheid te kyk?
12 Maak tyd om na jou fisiese gesondheid te kyk. Besige mense – soos versorgers – vind dit dalk moeilik om by ’n gesonde dieet te bly omdat hulle min tyd het om vars kos te koop en dit voor te berei. ’n Goeie dieet en ’n goeie oefenprogram is noodsaaklik vir jou fisiese en verstandelike gesondheid. So probeer goed gebruik maak van jou beperkte tyd deur gesonde kos te eet en gereeld te oefen (Ef. 5:15, 16). En probeer genoeg slaap (Pred. 4:6). Studies wys dat slaap kan help om gifstowwe uit ons brein te verwyder. Die artikel “Watter uitwerking slaap op stres kan hê”, uitgegee deur Banner Health, sê dat genoeg slaap ook angstigheid kan verminder en ons kan help om stres te hanteer. Jy sal ook tyd moet maak vir ontspanning (Pred. 8:15). Een versorger het gesê wat haar help om vreugdevol te bly. Sy sê: “Wanneer dit mooiweer is, probeer ek buite kom en die sonskyn geniet. En ten minste een keer ’n maand maak ek planne om iets lekkers met ’n vriend te doen.”
13. Hoekom is dit gesond om te lag? (Spreuke 17:22)
13 Behou ’n sin vir humor. (Lees Spreuke 17:22; Pred. 3:1, 4.) Om te lag, is goed vir jou fisiese en verstandelike gesondheid. Wanneer jy iemand versorg, verloop alles selde, indien ooit, presies soos jy beplan het. Maar as jy humor kan vind in frustrerende situasies, sal dit heel moontlik vir jou makliker wees om dit te hanteer. En as jy en die persoon wat jy versorg, saam lag, kan dit julle band versterk.
14. Hoe kan dit jou help om met ’n betroubare vriend te praat?
14 Praat met ’n betroubare vriend. Al probeer jy hoe hard, sal jy soms nog steeds oorweldig voel. Gedurende sulke tye sal dit jou dalk help om jou gevoelens met ’n goeie vriend te deel – een wat nie sal oorreageer of jou sal oordeel nie (Spr. 17:17). Sy of haar luisterende oor en vertroostende woorde is dalk net wat jy nodig het om jou vreugde te behou. – Spr. 12:25.
15. Hoe kan dit jou help om vreugdevol te wees as jy op jou hoop fokus?
15 Dink aan julle lewe saam in die Paradys. Probeer onthou dat jou rol as ’n versorger tydelik is en dat dit nie ’n werk is wat Jehovah oorspronklik wou hê mense moes doen nie (2 Kor. 4:16-18). “Die werklike lewe” lê nog voor (1 Tim. 6:19). Jy sal dit heel moontlik baie geniet om met jou geliefde te praat oor wat julle saam in die Paradys sal doen (Jes. 33:24; 65:21). ’n Suster met die naam Heather sê: “Ek vertel dikwels vir dié wat ek versorg, dat ons binnekort saam sal naaldwerk doen, saam sal hardloop en saam sal fietsry. Ons sal brood bak en etes kook vir ons geliefdes wat opgewek is. Saam dank ons Jehovah vir ons hoop.”
HOE ANDER KAN HELP
16. Hoe kan ons ’n versorger in ons gemeente help? (Sien ook prent.)
16 Help versorgers om tyd vir hulleself te hê. Dié van ons in die gemeente kan help deur aan te bied om die versorger se geliefde te help. As gevolg daarvan gee ons versorgers tyd om te rus en om persoonlike dinge te doen (Gal. 6:2). Party verkondigers het ’n weeklikse rooster vir hierdie doel opgestel. ’n Suster met die naam Natalya, wat haar verlamde man versorg, sê: “’n Broer in die gemeente kom een of twee keer ’n week oor om tyd met my man te spandeer. Hulle doen velddiens, hulle gesels en hulle kyk selfs films. Hierdie oomblikke is baie kosbaar vir my man en gee my tyd om na my persoonlike behoeftes om te sien, soos om te gaan stap.” In party gevalle kan jy selfs aanbied om gedurende die aand na die versorger se geliefde te kyk sodat die versorger ’n goeie nagrus kan kry.
Hoe kan jy ’n versorger in jou gemeente help? (Sien paragraaf 16)a
17. Hoe kan ons versorgers gedurende gemeentelike vergaderinge help?
17 Help versorgers gedurende gemeentelike vergaderinge. Versorgers kry dalk min uit gemeentelike vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste omdat hulle besig is om hulle geliefde te versorg. Dié in die gemeente kan aanbied om te help deur gedurende party van hierdie vergaderinge of ’n deel daarvan by die persoon wat versorging nodig het, te sit. As hierdie persoon nie die huis kan verlaat nie, kan jy aanbied om na sy huis toe te gaan en saam met hom by ’n vergadering in te skakel sodat die versorger die vergadering in persoon kan bywoon.
18. Wat kan ons nog vir versorgers doen?
18 Prys versorgers en bid vir hulle. Dit sal goed wees as ouermanne versorgers gereeld besoek (Spr. 27:23). En maak nie saak wat ons omstandighede is nie, almal in die gemeente moet aanhou om versorgers gereeld te prys. Ons kan Jehovah ook vra om aan te hou om hulle te versterk en om hulle te help om hulle vreugde te behou. – 2 Kor. 1:11.
19. Waarna kan ons uitsien?
19 Jehovah sal binnekort die trane van pyn van alle gesigte afvee. Siekte en die dood sal nie meer daar wees nie (Op. 21:3, 4). “Die kreupele [sal] soos ’n takbok spring” (Jes. 35:5, 6). Die hartseer gevolge van bejaardheid en die pyn wat ’n mens ondervind wanneer jy ’n geliefde versorg wat siek is, sal deel wees van ‘die vorige dinge waaraan daar nie gedink sal word nie’ (Jes. 65:17). Selfs nou, terwyl ons wag op die vervulling van ons wonderlike hoop, sal Jehovah ons nie verlaat nie. As ons aanhou om op hom te vertrou vir krag, sal hy ons help om “ten volle [te] volhard met geduld en vreugde”. – Kol. 1:11.
LIED 155 Vir ewig ons vreugde
a BESKRYWING VAN PRENT: Twee jong susters besoek ’n ouer suster sodat haar versorger tyd kan hê om te gaan stap.