Voedsame kos binne jou bereik
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
ANGÉLICA en haar gesin van tien het in ’n plattelandse dorpie in die staat Oaxaca, in Mexiko, gewoon. Hulle was arm, en hulle dieet het bestaan uit mieliemeeltortillas, bone, brandrissiesouse, waterige rys, soet brood en tee. “Ons het nie veel gegroei nie”, sê Angélica. “Ons was klein en maer. Ons het dikwels siek geword—maagprobleme, parasiete en verkoues.”
Angélica en haar gesin het besluit om Mexikostad toe te trek, in die hoop dat hulle werk sou kry wat hulle sou help om hulle ekonomiese omstandighede te verbeter. Sy meen dat hulle dieet nou baie beter is omdat dit melk, eiers, vleis, room, ’n paar groentesoorte en ’n verskeidenheid verwerkte kossoorte insluit. Maar het hulle dieet werklik voedsamer geword?
Wanvoeding—Hoe algemeen?
Wêreldwyd loop ongeveer 800 miljoen mense gevaar om weens wanvoeding te sterf. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Wêreldgesondheidsverslag van 1998 hou sowat 50 persent van alle sterftes onder kinders jonger as vyf jaar met wanvoeding verband. Selfs dié wat aan die lewe bly, is dikwels sieklik.
Aan die ander kant sê party dat tot 800 miljoen mense gevaar loop om te sterf omdat hulle te veel eet. ’n Ongebalanseerde dieet kan chroniese siektes soos vetsug, aterosklerose, hoë bloeddruk, diabetes, sirrose en verskeie soorte kanker tot gevolg hê. Die WGO som die situasie soos volg op: “Wanvoeding dek dus ’n groot verskeidenheid kwale, met inbegrip van ondervoeding, tekorte in bepaalde voedingstowwe en oorvoeding; en dit veroorsaak die dood, verminking, gestremdheid, gebreklikheid, blindheid en regoor die wêreld die belemmering van mense se ontwikkeling op ’n ontsaglike groot skaal.”
Ondervoeding en vetsug kan in dieselfde land voorkom. Kinders kan ondervoed wees in dieselfde huis as wat die volwassenes chroniese probleme met vetsug het. In party gevalle sal iemand wat as kind ondervoed is, as ’n volwassene aan vetsug ly. Dit kan met mense gebeur wat van die platteland af stad toe trek.
Baie mense verstaan nie die verband tussen hulle gesondheidstoestand en hulle eetgewoontes nie. Miskien is dit omdat die uitwerking wat ’n swak dieet op ’n mens se gesondheid het, nie dadelik gesien word nie. Maar ’n gesonde dieet kan baie siektes voorkom. Trouens, die WGO skat dat tot 40 persent van kankergevalle voorkom kon word deur beter eetgewoontes en deur oefening. Maar hoe kan jy jou dieet verbeter?
Hoe om jou dieet te verbeter
Party meen dat kos in drie hoofgroepe verdeel kan word. Die eerste groep sluit graan soos mielies, koring, rys, hawermout, rog, gort en giers in, asook knolle soos aartappels en jams. Hierdie koolhidrate word gou in energie omgesit. Die tweede groep sluit peulgroente soos bone, sojabone, lensies, dwerg-ertjies en boerbone in, asook party kossoorte wat van diere afkomstig is, soos vleis, vis, eiers, melk en melkprodukte. Dit is ’n bron van proteïen, yster, sink en verskillende vitamiene. Die derde groep sluit vrugte en groente in. Dit voorsien noodsaaklike vitamiene en minerale. Dit bevat ook vesel en gee energie, en dit verteenwoordig die enigste natuurlike bron van vitamien C.
Volgens dr. Héctor Bourges, direkteur van voeding by die Salvador Zubirán- Nasionale Instituut vir Geneeskunde en Voeding (INCMNSZ) in Mexiko, moet ’n gesonde dieet volledig, voldoende en gebalanseerd wees. Hy stel voor dat ons “ten minste een kossoort uit elke groep by elke maaltyd insluit en die kossoorte wat uit elke groep gebruik word, sowel as die manier waarop dit berei word, soveel as moontlik afwissel”.
Kyk byvoorbeeld na die geval van María. Sy en haar gesin het in Atopixco, ’n plattelandse gemeenskap in die staat Hidalgo, Mexiko, gewoon. Hulle was brandarm, en hulle dieet het hoofsaaklik uit tortillas, bone, pasta, rys en brandrissies bestaan. In teenstelling met Angélica se gesin, wat in die begin genoem is, het hulle dieet ook klein skorsies, soe-soes, sampioene en kruiegroente soos postelein en misbredie ingesluit, waarvan baie in die veld gepluk is. Hulle het probeer om nou en dan seisoensvrugte te eet. Hulle pogings het beter gesondheid tot gevolg gehad.
Dr. Adolfo Chávez, hoof van die afdeling Toegepaste Voeding en Voedingsonderrig van die INCMNSZ, beveel aan dat diereprodukte gebruik word om geregte aan te vul, en nie as die vernaamste deel van die dieet nie. Jy kan byvoorbeeld ’n gereg berei met net ’n paar eiers wat met aartappels, groente of bone gekombineer word. “In die dieetkunde staan dit as ‘aanvulling’ bekend”, sê dr. Chávez. Net ’n waarskuwing: Was vrugte en groente altyd deeglik, veral dié wat rou geëet gaan word.
’n Dieet moet ook vir elke individu geskik wees, en faktore soos ouderdom, geslag en lewenstyl moet in ag geneem word. Party stel voor dat volwassenes by elke maaltyd twee porsies vrugte en/of groente eet en dat meer volgraankossoorte en peulgroente geëet word. Sommige beveel aan dat net klein porsies van die kossoorte wat van diere afkomstig is, by elke maaltyd geëet word en dat voorkeur gegee word aan vis, hoender sonder die vel en maer vleis. Daar word ook voorgestel dat min vet en suiker geëet word.
Selfs mense wat in ontwikkelende lande woon en deur armoede geraak word, kan soms hulle dieet verbeter. Hoe? Deur voedsame kossoorte te kies en dit af te wissel en te kombineer, soos om graan en peulgroente te meng. Deur ’n bietjie vleis of eier te gebruik om die voedingswaarde van ’n gereg aan te vul. Deur die groen plante wat in jou gebied groei, asook seisoensvrugte, te benut.
Ons Skepper laat ‘voedsel uit die aarde voortkom’ vir die mens se genot (Psalm 104:14). Die Bybel sê in Prediker 9:7: “Gaan, eet jou voedsel met blydskap.” As ons gebalanseerd is en matigheid voor oë hou, kan ons ongetwyfeld die voordele geniet van die heerlike en voedsame kossoorte wat die Skepper voorsien het.
[Prent op bladsy 26]
DIE EERSTE GROEP: graan en knolle
[Prent op bladsy 26]
DIE TWEEDE GROEP: peulgroente, vleis, vis, eiers, melk en melkprodukte
[Prent op bladsy 26]
DIE DERDE GROEP: vrugte en groente