Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 1/1 bl. 28-31
  • Jehovah—absoluut groots!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah—absoluut groots!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God, ’n Skepper en ’n Onderrigter by uitstek
  • ’n Koning, ’n Maker en ’n Heer
  • Volle erkenning van Jehovah se grootsheid
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Kom jy jou hele verpligting teenoor god na?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Dink aan jou Grootse Skepper!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ons verheug ons in ons Grootse Skepper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 1/1 bl. 28-31

Jehovah​—absoluut groots!

MAJESTUEUS, waardig, verhewe, edel, luisterryk en ontsagwekkend. Dit is maar ’n paar van die talle sinonieme vir die woord “groots” wat in ’n bekende woordeboek aangegee word. En enigeen van hulle kan in der waarheid gebruik word om die “grootse Skepper”, soos Jehovah God in Prediker 12:1 (NW) genoem word, te beskryf.

‘Maar wag so ’n bietjie’, sê jy dalk, ‘my Bybelvertaling gebruik nie hierdie beskrywende woord “groots” nie.’ Is die New World Translation daar juis?

Dit is geensins ’n voorbeeld van byvoeging by God se Woord nie​—iets wat dit onomwonde veroordeel (Deuteronomium 4:2; 12:32; Spreuke 30:6; Openbaring 22:18). Dit is eerder ’n poging om in hedendaagse taal die juiste en volle betekenis van die oorspronklike Hebreeuse teks weer te gee. Die weergawe “Skepper”, hoewel basies korrek, sê nie genoeg nie. ’n Voetnoot vir hierdie teks in die naslaanuitgawe van die New World Translation van 1984 verduidelik: “‘Jou grootse Skepper.’ Hebr[eeus], Bohre’ey’kha. Die deelwoord van die Hebr[eeuse] werkwoord ‘skep’, is in die meervoud om grootsheid of uitmuntendheid aan te dui.”

Bybelskrywers het dus soms, onder goddelike inspirasie, die meervoudsvorm van werkwoorde of selfstandige naamwoorde gebruik om God te beskryf. Dit beteken egter nie dat hulle in ’n meerledige, of moontlik drie-enige, God geglo het nie. Inteendeel. “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader”, het die apostel Paulus geskryf en bygevoeg, “en een Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 8:6). Hulle gebruik van die meervoudsvorm was eenvoudig om Jehovah se onvergelyklike posisie na vore te bring. Hy is majestueus, waardig, verhewe, edel, luisterryk en ontsagwekkend​—en nog meer. Ja, eenvoudig gestel, hy is groots!

God, ’n Skepper en ’n Onderrigter by uitstek

“Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word?” het die psalmis gevra. “Wie onder die hemelwesens is soos die Here?” (Psalm 89:7, NAV). Nie eens die eersgebore Seun wat by die skepping as Sy “meesterwerker” gedien het, kan Jehovah se mate van grootheid ewenaar nie. Hy het dit self erken toe hy as die man Jesus Christus op die aarde was: “My Vader [is] groter . . . as Ek” (Johannes 14:28). En ondanks die feit dat hy sy Vader se “meesterwerker” was, het hy nooit aanspraak gemaak op die titel van medeskepper nie. Hy het God as die enigste Skepper verheerlik.​—Vergelyk Genesis 1:26, 27; Spreuke 8:30, NW; en Mattheüs 19:4.a

Jehovah is nie net ’n magtige persoon, of ’n god, waarvan daar talle is nie, maar hy is die almagtige God, waarvan daar slegs een is (Psalm 82:6; Openbaring 11:17). Met die oog op sy unieke posisie is dit uiters gepas om van hom te praat as “die grootse God”. Dit is wat die profeet Daniël hom genoem het toe hy gevra is om ’n droom van koning Nebukadnesar uit te lê. Hy het gesê: “Die [grootse] God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” Die koning het hierop geantwoord: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse.”​—Daniël 2:45, 47, vgl. NW.

’n Grootse God met die vermoë om te sien wat die toekoms inhou en om geheime te openbaar, is duidelik daartoe in staat om sy volk behoorlik te lei en hulle te onderrig hoe om gevare te vermy. Hy is ’n Onderrigter sonder weerga, die “grootse Onderrigter”, soos Jesaja 30:20, 21 (NW) hom noem. Dit is eerstens waar weens die absolute wysheid in die dinge wat hy leer. God het byvoorbeeld waarskuwings gegee wat sy volk op hulle hoede gestel het vir die gevare inherent aan tabak, dwelmmisbruik, bloedoortappings en geslagsonsedelikheid lank voordat wetenskaplikes en dokters dit ten volle besef het.b

Tweedens, sy onderrigmetode is sonder weerga. Dit is altyd positief, en word liefdevol en geduldig en met volmaakte begrip van die student se individuele behoeftes en vermoëns aangebied. Dit is derhalwe uiters doeltreffend. Geen wonder nie dat ’n eertydse kneg van God, ter vergelyking, eenkeer die vraag gestel het: “Kyk, God handel verhewe in sy krag; wie is ’n leermeester [“onderrigter”, NW] soos Hy?”​—Job 36:22.

’n Koning, ’n Maker en ’n Heer

Jerusalem, die regeringsetel van Jehovah se tipiese teokrasie, is “die stad van die grootse Koning” genoem (Psalm 48:1, 2, NW). Psalm 135:21 identifiseer hierdie grootse Koning as “[Jehovah] wat in Jerusalem woon!” (Kyk ook Psalm 47:9; Mattheüs 5:35.) As universele Soewerein op ’n hemelse troon, het die “grootse Koning” natuurlik nooit letterlik in Jerusalem gewoon nie, maar die mensekonings wat as sy verteenwoordigers geheers het, het wel.​—Psalm 10:16; 29:10; Jeremia 10:10; Daniël 4:34.

Nou heers Jehovah weer eens, sedert 1914, deur middel van ’n verteenwoordigende Koning, hierdie keer sy Seun, Christus Jesus, wat in die “hemelse Jerusalem” gekroon is (Hebreërs 12:22; Openbaring 11:15; 12:10). Sy Messiaanse Koninkryk sal vir ewig die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit bevestig en die heelal bevry van alle teenstanders van die bewind van die grootse Koning.

Volgens Job 35:10 (NW), Psalm 149:2 (NW) en Jesaja 54:5 (NW) is Jehovah ook die “grootse Maker”. Laasgenoemde twee tekste praat van hoe Jehovah Israel ’n nasie gemaak het om sy belange te bevorder. Behalwe om te kan skep, kan Jehovah dus ook sy skepping laat word wat hy wil hê dit moet wees sodat sy voornemens verwesenlik kan word. Dit is in ooreenstemming met die betekenis van die goddelike naam: “Hy laat word.”

So ’n grootse Koning en grootse Maker is ons vertroue waardig. Hy is boonop ons liefde, toewyding en​—bowenal—​ons aanbidding waardig. Hy is geregtig daarop om ons “grootse Heer” genoem te word (Hosea 12:14, NW). Ons moenie optree soos ontroue Israel, deur wie die hedendaagse Christendom afgebeeld is nie. Maleagi het van sulke afvalliges geskryf: “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy [grootse] heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n [grootse] heer is, waar is die vrees vir My? sê die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag!” (Maleagi 1:6, vgl. NW). Ons moet ons grootse Heer met godvrugtige vrees eer, en nie sy naam minag deur dit te probeer verberg​—soos sommige hedendaagse vertalers gedoen het—​of dit uit die Bybel verwyder asof die vermelding daarvan skandelik is nie. Inteendeel, ons moet trots wees om dit te dra en ons as Sy getuies te identifiseer.

Volle erkenning van Jehovah se grootsheid

God is die verpersoonliking van liefde, sowel as van elke ander goeie en positiewe hoedanigheid (1 Johannes 4:8). Dit verbaas ons dus nie dat Jesaja hierdie “ware God, Jehovah . . . die Skepper van die hemele” eenvoudig as “die Grootse” beskryf nie. Hy is die verpersoonliking van grootsheid.​—Jesaja 42:5, NW.

As ons hom ten volle erken as ’n grootse Koning wat nou sedert 1914 in ’n baie besondere sin heers, sal ons streng Christelike neutraliteit in politieke aangeleenthede handhaaf. Ons sal selfs nie op ’n passiewe wyse kant kies nie. En ons sal God se heerskappy op ’n positiewe wyse ondersteun deur ‘eers die koninkryk en sy geregtigheid’ te soek en “hierdie evangelie van die koninkryk” daadwerklik aan ander te verkondig.​—Mattheüs 6:33; 24:14.

As ons hom ten volle as ’n grootse Heer erken, sal ons nie sy goedgekeurde metodes deur woord of daad teenstaan nie. Ons sal nie aarsel om hom te gehoorsaam nie. Met die oog op sy unieke posisie as die grootse God, die grootse Skepper en die grootse Maker, sal ons besef dat hy die reg op uitsluitlike toewyding het. Ons sal nie teen sy vereistes skop nie, selfs dié wat vir ons te streng lyk. Ons sal sy reëlings vir die handhawing van vrede en eenheid in die gemeente en in ons gesinne geredelik aanvaar.​—Kyk Hebreërs 13:17; Efesiërs 6:1-3.

As ons hom ten volle as ’n grootse Onderrigter erken, sal ons nie die onderrigmetodes wat Jehovah se “getroue en verstandige dienskneg”-klas vandag gebruik in twyfel trek of kritiseer nie. Ons sal eerder dissiplinêre stappe wat soms in onderrigting nodig is, ondersteun en terselfdertyd probeer om sover moontlik baat te vind by die uitstekende leermiddele wat God se sigbare organisasie voorsien.​—Mattheüs 24:45-47.

Ter opsomming, as ons Jehovah ten volle as die Grootse aanvaar, sal ons elke geleentheid om hom te dien gretig aangryp. Posisies van mag, roem en rykdom, soos wat politici, persone van die vermaaklikheidswêreld of finansiers geniet, is niks in vergelyking met die voorreg om in diens van die Grootse te wees nie.

Talle mense is moontlik bereid om Jehovah as hulle Skepper en Maker te aanvaar. Maar wanneer hulle hom as hulle God, hulle Onderrigter, hulle Koning, en hulle Heer moet aanvaar, rebelleer hulle. Laat ons nooit daardie fout begaan nie. Onthou, hetsy as Skepper, Maker, God, Onderrigter, Koning of Heer, Jehovah is majestueus, waardig, verhewe, edel, luisterryk en ontsagwekkend​—en nog meer. Ja, Jehovah is groots!

[Voetnote]

a Dit is betekenisvol dat waar Genesis 1:26 van Jehovah en sy “meesterwerker” saam praat, dit sê ‘laat ons maak’, terwyl die volgende vers die woord ‘skep’ gebruik wanneer dit van Jehovah alleen praat. “A Dictionary of the Hebrew Old Testament in English and German” deur Koehler en Baumgartner sê oor hierdie Hebreeuse woord vir ‘skep’: “In die O[u] T[estament] is [hierdie] ’n teologiese uitdrukking waarvan uitsluitlik God die onderwerp is.”

b Hierdie gevare is dekades gelede Skriftuurlik uiteengesit in die Watchtower van 1 Julie 1942, bladsye 205-207; 1 Julie 1945, bladsye 198-201; Die Wagtoring van 15 Februarie 1950, bladsye 63, 64, en in Awake! van 22 Julie 1950, bladsye 13-15.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel