’n Seisoen vir groter inspanning
1 Die meeste van ons sien na die lente uit. Die lente is ’n seisoen van verkwikkende veranderinge. Die koue van die winter wyk voor die warm lenteweer. Nuwe groei en langer dae verskaf ons vreugde. Maar ’n belangriker rede om na die lente uit te sien, is die feit dat dit vir baie van ons die weg baan om ons kragtiger in die bediening in te span.
2 In die verlede was September en Oktober besonder goeie maande vir baie verkondigers om as hulppioniers te dien. Vanjaar sal diegene wat ’n voltydse werk het dalk vind dat September, wat vyf Sondae het, vir hulle besonder geskik sal wees om 60 uur of meer aan die bediening te wy. Kan jy dit doen? Dan wag daar seëninge op jou.
3 Een broer met ’n voltydse werk het besluit dat hy hulppionierdiens kon doen as hy vroeg in die oggend in die sakegebied begin getuig. Hierdie broer het talle aangename ondervindinge geniet. Hy het onder meer ’n Bybelstudie begin wat hy in die oggend gehou het voordat hy met sy sekulêre werk begin het. ’n Ander broer wat voltyds moet werk, het besluit dat hy hulppionierdiens wou doen. Met hierdie bykomende aansporing het hy moed bymekaar geskraap om informeel by sy werk te getuig. Hoe bly het dit hom tog gemaak toe hy nege intekeninge by sy kollegas gekry het!
4 Dit is geloof wat buitengewone dinge laat gebeur. Hebreërs hoofstuk 11 vertel watter wonderlike dinge God se knegte danksy geloof verrig het. Die ‘werk van geloof’ van Jehovah se volk in ons tyd word ongetwyfeld net so geseën! (1 Thess. 1:3). Sal jou geloof jou ook beweeg om jou hierdie lente kragtiger in te span? As jy weens liggaamlike of ander omstandighede nie ’n hulppionier kan wees nie, kan jy natuurlik jou geloof toon deur soveel moontlik te doen, en dan kan jy eweneens Jehovah se goedkeuring en seën verwag.—Hebr. 11:6.
5 Verkondigers wat wenke nodig het sodat hulle praktiese reëlings kan tref ten einde hulppionierdiens te doen, kan met die diensopsiener of ’n ander ouere man praat. Ouere manne kan die inisiatief neem om met diegene te praat wat hulle weet aan die vereistes voldoen en hierdie bykomende diensvoorreg sal geniet. ’n Paar vriendelike en bemoedigende woorde of praktiese wenke is dalk al wat nodig is (Spr. 25:11). Met die oog op die langer dae en groter velddiensbedrywigheid, kan ouere manne ook gerus reëlings tref vir getuieniswerk in die aand.
ONTOEGEKENDE GEBIED
6 September is die laaste maand van die ontoegekendegebied-kampanje. Kan jy jou sake reël sodat jy hierdie maand aan die diensvoorreg kan deelneem as jy nog nie die geleentheid gehad het nie? Dit sal jou laaste geleentheid vanjaar wees. Bespreek dit gerus biddend as ’n gesin, en tref finale reëlings om ’n aandeel te hê. Hoe wonderlik sal dit tog wees as almal ’n heelhartige poging kan aanwend om hierdie maand in ontoegekende gebied te werk en die kampanje tot ’n groot hoogtepunt te voer!
7 Laat ons bid om Jehovah se seën op ons verenigde poging hierdie lente sodat nog duisende mense “tye van verkwikking” kan geniet deur ’n goeie verhouding met ons Hemelse Vader te verkry.—Hand. 3:19.