Help ongereelde verkondigers
1 Jesus het gesê: “Elkeen... wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het” (Matt. 7:24). As ons Jesus se woorde verstaan en die regte beweegrede het, sal ons goeie werke, waaronder die verkondiging van die goeie nuus, voortbring. Sulke gehoorsaamheid uit die regte beweegrede voorsien ’n rotsagtige fondament wat nie tydens storms van teenspoed sal wegspoel nie.
2 Dit is om goeie rede dat ons mekaar wil help om soveel moontlik in die predikingswerk te doen as wat ons individuele omstandighede toelaat. Sommige onder ons is ongereelde verkondigers en dit wek groot kommer. Waarom laat iemand ’n hele maand verbygaan sonder om aan die lewensbelangrike predikings- en dissipelmaakwerk deel te neem?
3 Sommige was moontlik ernstig siek, en ander het miskien velddiens tot laat in die maand uitgestel en is toe weens onvoorsiene omstandighede verhinder om in die diens uit te gaan. Ander het miskien ’n gebrek aan waardering vir die bediening as ’n diensskat wat die voorkeur moet geniet (2 Kor. 4:7). Druk van ’n ongelowige huweliksmaat of ander familielede was soms ’n ontmoedigende faktor. Nog ander is beïnvloed deurdat hulle goeie persoonlike studiegewoontes en gereelde vergaderingbywoning verwaarloos het, met die gevolg dat hulle nie meer ’n gevoel van dringendheid ervaar vanweë die nabyheid van die einde van Satan se wêreld nie (2 Pet. 3:11, 12). Iets het hulle hart aangetas. Daarom word hulle nie meer aangevuur om uit die oorvloed van hulle hart te spreek nie (Matt. 12:34). Wat ook al die rede, ons wil hulle help.
WAT DIE OUERE MANNE KAN DOEN
4 Ouere manne moet probeer om die omstandighede en behoeftes van almal in die gemeente te ken sodat hulle liefdevolle hulp kan verleen. In hulle vergaderinge moet die ouere manne kennis neem van enige persone wat ongereelde verkondigers geword het en besluit wie hulle kan help en hoe dit gedoen kan word. Hulle kan ook die probleem aanroer wanneer plaaslike behoeftes vir die Diensvergadering bespreek word. Die sekretaris moet let op enige neiging tot ongereeldheid in die velddiens wanneer hy die Gemeentelike Verkondigerverslagkaarte invul.
WAT BOEKSTUDIEHOUERS KAN DOEN
5 Die sekretaris moet Gemeentelike Boekstudiehouers elke maand voorsien van ’n lys van diegene wat nie velddiensaktiwiteit rapporteer nie, sodat hulp onmiddellik verleen kan word. (Kyk Ons Koninkryksbediening vir Julie 1984, bladsy 7.) Die boekstudiehouer moet ongereelde verkondigers vriendelik nader om vas te stel wat hulle moontlik terughou en hoe hy hulle kan help (Spr. 27: 23). Die meeste ongereelde verkondigers sal hulp waardeer. Nadat die boekstudiehouer die persoon se omstandighede te wete gekom het, kan hy definitiewe reëlings tref om persoonlik saam met hom te werk of dat ’n ander bekwame verkondiger of pionier dit doen. Dit kan ook nuttig wees om ongereelde verkondigers praktiese wenke te gee oor hoe ’n rooster uitgewerk kan word wat by hulle persoonlike omstandighede pas. Kan hulle beplan om gereeld op die eerste Sondag van elke maand of op die tweede en vierde Saterdae aan die velddiens deel te neem? As vervoer ’n probleem is of hulle hulp met klein kinders nodig het, kan die boekstudiehouer ander gewillige verkondigers vra om te help.
6 Wanneer die diensopsiener die boekstudiegroepe besoek, kan hy reëlings tref om ongereelde verkondigers saam met die boekstudiehouer te besoek. Twee bekwame broers kan dus raad gee en sulke persone dan help om ’n rotsagtige fondament te bou van gehoorsaamheid aan Christus se bevel om te preek en dissipels te maak. Hulle kan sodoende aangespoor word om die predikingswerk hoog op hulle lys van voorkeure te plaas (Rom. 10:10). Laat ons ons op hierdie manier inspan om ons liefde vir “die huisgenote van die geloof” te betoon.—Gal. 6:10.