„Julle is die sout van die aarde”
„Julle is die sout [van] die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout?”—MATTHEÜS 5:13, NAV.
1. Wat is gewone sout?
SOUT is ’n verbasende stof. Dit is ’n chemiese verbinding van natrium, ’n buitengewone, metaalagtige element, en chloor, ’n gifgas. Die feit dat hierdie twee gevaarlike elemente ’n nuttige verbinding kan vorm, is ’n wonderlike gawe van die Skepper tot voordeel van die mensdom. —Psalm 104:24.
2. Lig toe hoe sout bederf voorkom en ’n preserveermiddel kan wees.
2 Sout is onder andere ’n baie doeltreffende middel teen bederf. Ter toeligting: ’n Sekere man het twee nat skaapvelle in die bagasiebak van sy motor gesit en op ’n lang reis vertrek in die hitte van die Afrikason. Toe hy uiteindelik die bagasiebak oopmaak, was die stank ondraaglik en het die velle gekrioel van die maaiers! Die vagte is nietemin gewas en deeglik met sout ingevryf. Die gevolg? Hulle het sagte vloermatjies geword wat jare lank gebruik is.
3. Wat kan oor die waarde en beskikbaarheid van sout gesê word?
3 Hieruit blyk dit dat sout ’n baie waardevolle preserveermiddel is. Dit het ook ander waarde. Trouens, in antieke China was dit byna so kosbaar soos goud. Die Latynse woord vir „sout” is sal, en in die dae van keiserlike Rome het soldate ’n deel van hulle soldy (salarium) in die vorm van sout gekry. Vandaar die woord „salaris”. Vandag is sout natuurlik op die meeste plekke betreklik algemeen en goedkoop. Die oseane bevat sowat 19 miljoen kubieke kilometer sout—genoeg om die hele Verenigde State 1,6 kilometer diep te begrawe! Selfs toe Jesus op aarde was, was sout taamlik volop. Die waters van die Dooie See was byvoorbeeld ’n goeie bron, en daar was heuwels wat sout gelewer het naby die plek waar Lot se vrou „’n soutpilaar” geword het.—Genesis 19:26.
4. Waarom kan ons sê dat sout lewensbelangrik is?
4 Sout het ook geneeskragtige waarde. Ons liggame bevat sowat 230 gram sout, waarsonder ons sou sterf. Sout is dus lewensbelangrik. Maar volgens Bybelse gebruik het sout ook figuurlike betekenis wat met die Christelike lewenswyse en bedrywighede verband hou.
„Met sout besprinkel”
5. Wat is die doel van sout waar dit by voedsel kom?
5 Wanneer ’n kok vergeet om sout by te gooi wanneer hy ’n gereg voorberei, kan die kos so smaakloos wees dat mense dit nie wil eet nie. Soos Job gesê het: „Word iets wat laf is, sonder sout geëet?” (Job 6: 1, 6). Sout bring die smaak van kos na vore. Hierdie eienskap van sout sowel as die nut daarvan as preserveermiddel word figuurlik in die Skrif gebruik. Sout word veral gebruik om die regte soort spraak te beskryf.
6. Hoe is Kolossense 4:6 op die bediening van Jehovah se Getuies van toepassing?
6 Die apostel Paulus het geskryf: „Laat julle woord altyd aangenaam [„minsaam”, NW] wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” ’n Ander vertaling stel dit so: „Laat julle gesprekke altyd minsaam wees, en nooit flou nie” (Kolossense 4:6; The New English Bible). Ware Christene bestee baie ure daaraan om met ander oor God se Koninkryk te praat. Logieserwys is nie al Jehovah se Getuies van nature wel ter tale nie. Maar as hulle die boodskap opreg waardeer en met oortuiging en hartlikheid praat, kan hulle die harte van baie mense na die waarheid van God se Woord rig. Hoe noodsaaklik is dit dus dat die woorde van Jehovah se knegte altyd aangenaam en minsaam is!
7. Watter goeie uitwerking kan ’n Christen se ,besprinkelde’ woorde hê?
7 ’n Christen se ,besprinkelde’ woorde stel die hoorder nie net in staat om die aangename geur van die Bybel se boodskap te geniet nie, maar kan mense ook in die lewe hou as hulle daarna luister. Net soos sout lewensnoodsaaklik is, kan die woorde van Jehovah se knegte dus die lewe beteken vir die wat met waardering luister na hulle boodskap aangaande God se voorneme en Koninkryk.—Vergelyk Johannes 6:63, 68.
8. Waarom moet die woorde van Christenbedienaars deur minsaamheid gekenmerk word?
8 Dit volg dus dat Christene se spraak altyd deur minsaamheid gekenmerk moet word wanneer hulle met ongelowiges praat. Soms reageer hoorders van die Koninkryksboodskap op growwe of onbeleefde wyse. Maar Jehovah se knegte moet nooit so terugantwoord nie. Inteendeel, hulle moet altyd minsaam wees. Wat beteken dit om minsaam te wees? Dit beteken dat ’n mens vriendelik, aangenaam, hoflik en barmhartig is. Die vriendelike, geduldige manier waarop ’n Christen op vrae, besware, kritiek of slegte maniere reageer, maak dikwels ’n groot verskil. Soos ’n spreuk sê: „’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Minsame, hoflike en taktvolle antwoorde in die Christelike bediening kan mense sag maak wat, hoewel hulle hardvogtig en bitter optree, eintlik goeie harte het.—Spreuke 25:15.
9. Hoe moet Christene met medegelowiges praat, en waarom?
9 Hoe moet Christene dan met medegelowiges praat? Op onvriendelike wyse? Nooit! Waarom nie? Omdat hierdie toegewyde knegte van Jehovah ook deel uitmaak van „die kudde van God”, wat met teerheid behandel moet word.—Vergelyk 1 Petrus 5:2-4; Handelinge 20:29, NW.
10. Watter invloed moet Efesiërs 4:29-32 op die taal van Jehovah se knegte hê?
10 Moet ’n kneg van Jehovah lelike taal gebruik teenoor werkmaats wat hom irriteer? Sou dit gepas wees vir ’n Christenvoorman om vuil taal te gebruik wanneer werkers hom teleurstel? Moet Christenhuweliksmaats op mekaar of op hulle kinders skel wanneer hulle ergerlik is? Nooit! Paulus het geskryf: „Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie . . . Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”—Efesiërs 4:29-32.
„Julle moet sout in julle hê”
11, 12. Van watter soort „sout” het Jesus in Markus 9:50 gepraat, en watter soort woorde en dade is volgens daardie vers nodig?
11 Omdat ons onvolmaak is, praat ons almal somtyds op ’n manier wat onvanpas is vir ’n Christen. Soos die dissipel Jakobus openhartig erken het: „Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2, 8-10). Jesus se vroeë dissipels was geen uitsondering nie, en hulle moes berispe word omdat hulle soms onvriendelik met mekaar gepraat het. By een geleentheid het die dissipels ’n kwaai woordewisseling gehad oor wie die grootste onder hulle was. Jesus het die hele groep goeie raad gegee en hulle gewaarsku om mekaar nie te laat struikel en dan „met vuur gesout”, of in Gehenna vernietig, te word nie. Hy het toe afgesluit met die woorde: „Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.”—Markus 9:33-50.
12 Jesus het natuurlik nie hier gepraat van die klein hoeveelheid letterlike sout in die liggame van sy dissipels nie. Hy het eerder bedoel dat hulle in woord en daad bedagsaam, taktvol, opbouend en vredeliewend moes wees, dat hulle optrede teenoor ander van goeie smaak moes getuig. Dit is noodsaaklik sodat ware Christene vrede onder mekaar kan bewaar.
„Die sout van die aarde”
13. Wat het Jesus bedoel toe hy vir sy volgelinge gesê het: „Julle is die sout van die aarde”?
13 Jesus het ook van sy volgelinge gesê: „Julle is die sout van die aarde.” (Mattheüs 5:13). Jesus het nie daarmee bedoel dat sy dissipels letterlik sout was nie. Nee, sout is ’n preserveermiddel, en die boodskap wat Jesus se volgelinge verkondig het, sou baie mense se lewens bewaar. Sy dissipels het inderdaad ’n preserverende invloed gehad op diegene wat na hulle boodskap geluister het en het geestelike en sedelike agteruitgang onder sulke persone verhoed. Daar het geen twyfel bestaan oor die feit dat die goeie nuus wat deur Jesus se volgelinge verkondig is mense se lewens sou bewaar nie.—Handelinge 5:20; 13:46-48.
Sout voorkom bederf
14. Wat is nodig om die verdorwenheid van die wêreld te weerstaan?
14 Uit Jehovah God se verhewe en rein oogpunt moet hierdie ganse goddelose stelsel baie soos die skaapvelle lyk wat vroeër gemeld is. Voordat hulle gewas en met sout bewerk is, het hulle erg gestink en gewriemel van wurms. Wel, almal word in sekere mate beïnvloed deur die toestande in hierdie wêreld, en dit kos moed en volgehoue onkreukbaarheid teenoor God om die verdorwenheid te weerstaan wat op elke lewensterrein te sien is. Dit is al manier waarop ’n mens sedebederf kan voorkom. Ons het nie net minsame spraak nodig nie, maar ook die preserverende eienskap wat ons in staat stel om nee te sê vir alle vorme van verdorwenheid. Daar bestaan ’n dringende behoefte aan „sout”. —1 Petrus 4:1-3.
15. Watter goeie voorbeeld het Jesus en Daniël gestel?
15 ’n Getroue kneg van Jehovah moet weet hoe om nee te sê vir slegte gebruike en versoekinge. Onthou dat Jesus drie keer nee gesê het toe Satan hom in die woestyn versoek het (Mattheüs 4:1-10). En dink aan die voorbeeld wat die profeet Daniël gestel het. Hy het op ’n betreklik vroeë ouderdom geleer om nee te sê. Toe Daniël ’n jong man in die koninklike hof van Babilon was, is hy en sy vriende ,’n daaglikse porsie uit die spys van die koning’ aangebied. Maar Daniël en sy vriende het dit van die hand gewys. Dit was nie asof hulle ’n ruimhartige aanbod van die hand gewys het nie. Die vier jong Hebreërs het eerder op ’n dieet van net groente en water aangedring omdat hulle voedsel wou vermy wat deur Jehovah se Wet verbied of deur heidense ritusse verontreinig is. Daardie besluit het groot moed gekos. Die uitslag was lonend, want aan die einde van die proeftydperk het hulle fisies beter daar uitgesien as die wat die koningskos geëet het. En op geestelike gebied het daardie Hebreërs Jehovah se seën en guns geniet. —Daniel 1:5-17.
16. Waarom kan daar gesê word dat Daniël ’n „goed gesoute” kneg van Jehovah was?
16 Jehovah God het gesorg dat Daniël en sy vriende bewaar is omdat hulle ,sout in hulleself gehad het’. Maar ons kan meer van Daniël leer. Hy is in ’n hoë amp in die Babiloniese regering aangestel. In daardie omstandighede moes hy seker baie keer nee sê, want hy was omring deur heidene, en die koninklike hof was ongetwyfeld vol onsedelikheid, leuens, omkopery, politieke gekonkel en ander verdorwe gebruike. Daniël was dikwels onder kwaai druk. Maar hoewel hy midde-in die „wêreld” van sy dag was, was hy „nie van die wêreld nie” (Johannes 17:16). Daniël was ’n getroue, „goed gesoute” kneg van Jehovah. Daniël se vyande het selfs probeer om hom te vernietig, moontlik uit wrewel omdat sy onkreukbaarheid en eerlikheid hulle in slegte lig gestel het. Hulle moes nietemin erken dat „hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie” (Daniel 6:4, 5). Wat ’n goeie voorbeeld!
17. Voor watter moeilike toetse kom Christenkinders vandag te staan?
17 Soos jong Daniël en sy vriende kom Christenkinders vandag voor moeilike toetse te staan. Veral by die skool het hulle te kampe met dwelms, tabak, sterk drank, vuil taal, onsedelikheid, kullery, ’n gees van opstandigheid, valse aanbidding, nasionalisme, slegte omgang, valse leringe, soos evolusie, en ander kragtige invloede. Dit verg ’n „goed gesoute” jong Christen om ’n rein handhawer van onkreukbaarheid te bly te midde van al daardie versoekinge.
18. (a) Watter vrae kan Christenouers hulleself gerus afvra? (b) Wat word aanbeveel vir ouers wat dit moeilik vind om hulle kinders te help?
18 Christenouers, ondersoek dus noukeurig die toestand van julle gesin. Maak al die gesinslede geestelike vordering? Sorg julle dat julle kinders nie deur wêreldlike verdorwenheid beïnvloed word nie? Weet julle wat hulle omtrent ware aanbidding doen en hoe hulle werklik daaroor voel? Het hulle ’n afkeer van die onrein dinge van hierdie wêreld of loop hulle gevaar om daaraan toe te gee? (Amos 5:14, 15). Indien julle, as ouers, nie na genoeg aan julle kinders is om hulle te help nie, of as julle dit moeilik vind, moet julle dit ’n saak van ernstige gebed tot Jehovah maak. Hy kan julle gewis help om hierdie hindernis te bowe te kom.—1 Johannes 5:14.
19. Meld sommige dinge waarvoor Christenouers nee moet sê.
19 Watter voorbeeld stel julle as Christenouers? Sê julle ferm nee vir skadelike, onmatige etery en drinkery en die baie vorme van onsedelikheid en onreinheid wat rondom julle bedryf word? Sê julle nee vir omkoopgeld, vir geringe diefstal en vir die vuil grappe en taal van wêreldse mense? Is julle by die werk of in die buurt bekend as skoon, eerlike, regskape persone? Dit is noodsaaklik om op die regte tyd nee te sê as ons „die sout van die aarde” wil wees.
Duursaamheid en lojaliteit
20. Hoe is sout in eertydse Israel in verband met Jehovah se aanbidding gebruik?
20 Dit was ongetwyfeld omdat sout ’n simbool van onbedorwenheid was dat dit in Israel se aanbidding van Jehovah gebruik is. Alle offers op die altaar moes byvoorbeeld gesout wees. Die Wet wat deur Moses gegee is, het bepaal: „Jy mag die sout van die verbond van jou God by jou spysoffer nie laat ontbreek nie; by al jou offers moet jy sout bring.” En ’n „soutverbond” is as bindend beskou.—Levitikus 2:13; Numeri 18:19; 2 Kronieke 13:4, 5.
21. Wat word vandag van Jehovah se knegte, as „die sout van die aarde”, vereis?
21 As getuies van Jehovah is sy knegte vandag „die sout van die aarde”. Dit vereis dat hulle onverderflik, getrou en lojaal moet wees. Hulle moet ywerig die vrug van God se heilige gees aankweek—liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Die vrug van die gees is die bron van geestelike, soutagtige eienskappe. Maar die feit dat sommige Jehovah al jare lank dien, is nie op sigself ’n waarborg dat hulle staande sal bly nie (1 Korinthiërs 10:12). Jesus het self hieroor gewaarsku.
22. Wat beteken die laaste deel van Mattheüs 5:13?
22 Onthou dat Jesus, net nadat hy gesê het: „Julle is die sout [van] die aarde”, bygevoeg het: „Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant wegge gooi, en die mense vertrap dit” (Mattheüs 5:13, NAV). Toe Jesus op aarde was, was sout dikwels met ander stowwe gemeng. As die suiwer sout dus deur reën of op ’n ander manier weggespoel het, was die oorblywende stof nutteloos en is dit weggegooi, moontlik op paaie waar dit deur verbygangers vertrap is. As die sout nie in die regte toestand gehou is nie, kon dit maklik waardeloos word.
23. Hoe moet ons, as Jehovah se Getuies, Jesus se woorde: „Julle is die sout van die aarde” beskou?
23 As lojale knegte van Jehovah en sy Seun Jesus Christus moet ons dus altyd waak dat ons nie „verslaan”, of ons suiwer, soutagtige eienskappe verloor nie. Laat ons eerder alles in die stryd werp om die vrug van God se gees aan te kweek. Mag ons altyd minsame woorde gebruik, ywerig die Koninkryksboodskap verkondig en sodoende help om ander se lewens te bewaar. Mag hierdie verdorwe wêreld ons nooit oorweldig nie, maar mag ons altyd gedagtig wees aan die ryk betekenis en die groot voorreg wat vervat is in Jesus se woorde: „Julle is die sout van die aarde.”
Toets jou geheue
◻ Hoe kan ons sorg dat ,ons woorde met sout besprinkel is’?
◻ Waarom is dit noodsaaklik dat Christene ,sout in hulleself het’?
◻ In watter opsig is Jesus se volgelinge „die sout van die aarde”?
◻ Wat is sommige dinge wat „goed gesoute” Christene moet vermy?
◻ Watter beskouing moet Jehovah se knegte vandag huldig, in die lig van Mattheüs 5:13?
[Prent op bladsy 25]
Daniël het op ’n vroeë ouderdom geleer om nee te se