Hoe om diegene met eetversteurings te help
MILJOENE gesinne wêreldwyd het al ’n gesinslid gehad wat aan ’n eetversteuring ly. Bulimie (vergryping aan kos en geïnduseerde vomering), anorexia nervosa (langdurige onvermoë of weiering om te eet) en kompulsiewe ooretery (onbeteuelbare etery) het in party gebiede ’n epidemie geword.
Hierdie versteurings kom hoofsaaklik onder vroue voor. Dit tref vroue van feitlik alle ouderdomme, of hulle nou ongetroud of getroud is. Kinders en tieners, asook ouer vroue, oumas inkluis, is onder die lyers.a Aangesien meer as 90 persent van diegene wat getref word vroue is, sal ons vroulike voornaamwoorde gebruik wanneer ons van diegene praat wat die probleem het.
As iemand vir wie jy omgee aan ’n eetversteuring ly, sal jy haar ongetwyfeld wil help. Maar as jy ’n bulimie-lyer net vra om op te hou om haar aan kos te vergryp en deur vomering van die kos ontslae te raak, is dit soos om vir iemand met longontsteking te sê sy moet ophou hoes. Voor jy iemand met ’n eetversteuring werklik kan help, moet jy die diepliggende emosionele probleme wat dikwels die kern van die probleem is, bepaal en daaraan aandag gee. Gesonde oordeel—nie net goeie bedoelings nie—is dus noodsaaklik. Partykeer spruit die grondliggende probleem voort uit seksuele misbruik wat in die verlede plaasgevind het. Wanneer dit die geval is, sal die lyer gewoonlik spesiale hulp van ’n bekwame raadgewer nodig hê.b
Gee aandag aan die probleem
Dit is nie altyd maklik om uit te vind of jou kind, huweliksmaat of vriendin ’n eetprobleem het nie. Die rede daarvoor is dat diegene wat aan eetversteurings ly dalk geheimsinnig is. (Sien die bygaande venster.) Maar ’n eetversteuring sal gewoonlik nie vanself weggaan nie. Hoe eerder daar met die lyer gepraat word en sy hulp kry, hoe groter is die kanse op herstel.
Maar voor jy met iemand praat wat vermoedelik ’n lyer is, moet jy deeglik beplan wat jy gaan sê en ook wanneer dit die beste is om dit te sê. Dit moet wees wanneer jy kalm is en daar nie sommer ’n onderbreking sal wees nie. Die verkeerde benadering—soos om wilde dreigemente te maak—sal kommunikasie belemmer en dinge dalk vererger.
Wanneer jy met iemand praat wat jy vermoed aan ’n eetversteuring ly, moet jy nie krities wees nie, maar wel spesifiek wees. Jy kan byvoorbeeld sê: ‘Jy het baie gewig verloor. Jou klere lyk asof dit te groot is vir jou. Is daar enige rede daarvoor?’ Of: ‘Ek het gehoor hoe jy in die badkamer opgooi. Ek weet dat dit pynlik is, maar ek wil jou help. Kan ons eerlik met mekaar wees?’ Selfs as die persoon woedend is en alles ontken, kan ’n kalm benadering haar oorreed om die saak te bespreek (Spreuke 16:21). ’n Realistiese doel vir julle eerste gesprek is om ’n openhartige gesprek te voer.
Eetversteurings ontwikkel dikwels wanneer gesinslede oorbewus is van liggaamsgrootte en wanneer kinders hoofsaaklik vir hulle voorkoms of talente geprys word. In ’n gesin waar ’n gesinslid aan ’n eetversteuring ly, sal dit dus vir ander in die gesin moontlik nodig wees om hulle gesindhede en prioriteite te hersien. Die oplossing vir ’n lyer se probleem sal waarskynlik veranderinge deur gesinslede verg. Trouens, hulle pogings is dikwels een van die belangrikste faktore in ’n lyer se herstel.
Vermy kragmetings
In een gesin het verergde ouers letterlik probeer om kos in ’n anoreksie-lyer se mond in te stop, maar die meisie het haar teengesit en sy was in haar noppies met haarself omdat haar ouers haar nie kon dwing om te eet nie. Jy moet dus besef dat jy ’n ander mens nie kan dwing om te eet of om op te hou om haar aan kos te vergryp nie. Hoe harder jy probeer om die lyer te dwing, hoe taaier gaan die stryd word.
“Elke keer as ek ’n geskilpunt van haar etery gemaak het, het dinge vererger”, het Joe erken, wie se dogter Lee byna weens anoreksie gesterf het. “Ek moes heeltemal ophou om oor eetsake te praat.” Sy vrou, Ann, het verduidelik waarby hulle dogter wel baat gevind het: “Ons het haar gehelp om te besef dat sy in beheer van haarself kan wees sonder om tot sulke uiterstes te gaan. Dit het haar lewe gered.” Dit is verstandig om die eetkwessie op die agtergrond te skuif. Help die lyer om te besef dat wanneer sy eet, sy dit vir haarself doen en nie vir jou nie.
Help om selfvertroue op te bou
Die meeste mense wat aan eetversteurings ly, is perfeksioniste. Baie het nog selde met mislukking te doen gekry. Hulle ouers—met goeie bedoelinge—het by tye tot die probleem bygedra. Hoe? Deur te beskermend te wees en te probeer om hulle kind teen enige teenspoed te beskerm.
’n Ouer moet ’n kind dus help om te besef dat haar foute ’n deel van die lewe is en dat haar eiewaarde nie daarvan afhang nie. “Al val die regverdige hoeveel keer”, sê Spreuke 24:16, (NAV), “hy [of sy] staan weer op.” ’n Kind sal teenspoed haar nie laat ondersit nie as sy geleer word dat mislukkings iets normaals, van verbygaande aard is en oorkom kan word.
’n Ouer moet ook aanvaar en besef dat elke kind uniek is. Hoewel ’n Christenouer probeer om ’n kind in die “ernstige vermaning van Jehovah” op te voed, moet hy nogtans die kind toelaat om ’n individu te wees (Efesiërs 6:4, NW). Moenie probeer om ’n kind te dwing om volgens jou eie vooropgestelde idees te lewe of op te tree nie. Om ’n eetversteuring te kan oorkom, moet ’n kind voel dat haar individualiteit gerespekteer en waardeer word.
Ontwikkel openhartige kommunikasie
Swak kommunikasie bestaan in baie gesinne waar ’n kind of ’n huweliksmaat aan ’n eetversteuring ly. Diegene met ’n eetversteuring vind dit gewoonlik moeilik om hulle ware gevoelens uit te druk wanneer hierdie gevoelens van ’n ouer of ’n huweliksmaat s’n verskil. Dit is veral die geval in ’n huis waar die reël nog altyd was: ‘As jy niks goeds het om te sê nie, moet dan liewer niks sê nie.’ Die lyer wend haar dan tot kos om van innerlike frustrasie te vergeet.
Byvoorbeeld, Matthew kon sy vrou nie help om haar kompulsiewe ooretery te bowe te kom nie. “Wanneer sy ook al ontsteld is, huil sy en dan gaan eet sy”, het hy gekla. “Sy vertel my nooit . . . werklik wat haar pla nie.” ’n Raadgewer het voorgestel dat hulle twee elke week ’n uur opsysit om privaat te gesels en dat hulle om die beurt enige klagtes meld sonder om mekaar in die rede te val. “Dit was ’n openbaring gewees”, sê Matthew. “Ek het glad nie geweet dat Monica oor soveel dinge so ongelukkig was nie en dat ek myself so kon regverdig nie. Ek het gedink dat ek ’n goeie luisteraar was, maar ek was nie.”
As jy dus jou huweliksmaat of jou kind wil help, moet jy bereid wees om te luister na haar negatiewe gevoelens en die dinge waaroor sy ontevrede is. Volgens die Bybel is dit gepas om te luister na “die hulpgeroep van ’n arm mens” (Spreuke 21:13, NAV). Joe en Ann moes hierdie les leer.
“Ek moes ophou om ongegronde gevolgtrekkings te maak en te wys dat ek geïrriteerd is wanneer Lee se sienswyse van myne verskil het”, het Joe gesê oor sy dogter wat aan anoreksie ly. Sy vrou, Ann, het gesê: “Luister na wat die kind wil sê. Moenie probeer om jou woorde in haar mond te sit nie. Luister na hoe sy werklik oor dinge voel.”
Ann het die saak met die volgende voorbeeld toegelig: “Wanneer Lee voorheen gekla het dat iemand haar gekrenk het, het ek vir haar gesê dat die persoon dit nie werklik bedoel het nie. Maar dan het sy haar nog meer ontstel. Wanneer sy nou kla, sê ek: ‘Ek besef dat dit jou seergemaak het. Ek kan verstaan waarom dit jou baie sleg laat voel het.’ Ek probeer om haar sienswyse te verstaan pleks van dit dadelik te wil verander.” Jy moet dus werklik luister en nie aanvaar dat jy reeds weet wat iemand anders bedoel of voel nie.
Wanneer daar openhartige kommunikasie is, kan jy gedurende emosioneel stormagtige tye vertroosting vind en sal jy nie genoodsaak voel om jou tot ongesonde eetgewoontes te wend nie. Dawn verduidelik waarom sy haar nooit weer tot kompulsiewe ooretery en bulimie gewend het nie: “Wanneer ek ontsteld is, kan ek altyd met my man praat omdat hy so simpatiek en vertroostend is.”
Toon selfopofferende liefde
’n Treurende pa wie se dogter aan bulimie gely het en aan hartversaking gesterf het, het hierdie raad gegee: “Julle moet julle kinders selfs liewer hê as wat julle dink genoeg is.” Ja, wees vrygewig met liefdesbetuiginge. Help jou kind en jou huweliksmaat om te besef dat jou liefde vir hulle nie van hulle uiterlike of van hulle prestasies afhang nie. Maar dit is nie maklik om iemand lief te hê wat in die greep van ’n eetversteuring vasgevang is nie. Dit is waarom die sleutel selfopofferende liefde is, wat in die Bybel as vriendelik, geduldig en vergewensgesind beskryf word. Dit is ’n bereidwilligheid om iemand anders se belange eerste te stel.—1 Korinthiërs 13:4-8.
Toe een egpaar uitgevind het dat hulle dogter aan bulimie ly, het hulle nie geweet wat om te doen nie. “Ek het gemeen as jy nie werklik weet wat om te doen nie, moet jy die liefdevolle ding doen”, het die pa opgemerk. “Ek het besef dat sy ’n kosbare meisie is wat ’n baie ernstige persoonlike probleem gehad het. Die liefdevolle ding was om haar gerus te stel en haar emosionele ondersteuning te bied.”
Hy het vir sy dogter gevra: “Gee jy om as ek en jou ma jou gereeld vra hoe dit met jou probleem gaan?” Sy het haar waardering vir hierdie liefdevolle besorgdheid uitgespreek, en die ouers het haar dus van tyd tot tyd daarna gevra.
“Daar was tye wanneer daar ’n paar dae, dan ’n paar weke, dan ’n paar maande sou verbygaan voor sy teruggeval het”, het die pa verduidelik. “Maar wanneer sy erken het dat sy weer teruggeval het, het ons probeer om haar aan te moedig en om nie teleurgesteld te lyk nie.” Die ma het bygevoeg: “Ons het baie gesels. Ek het vir haar gesê dit is duidelik dat sy vooruitgang maak. Ek het gesê: ‘Moet net nie opgee nie. Jy het hierdie keer twee weke lank uitgehou. Kom ons kyk hoe lank jy nou kan uithou.’”
“Een van die redes waarom ons nie agtergekom het dat ons dogter vreemde eetgewoontes het nie, was omdat ons selde saam aandete geëet het”, het die pa opgemerk. “Ek het dus my werkrooster verander sodat ek vir aandete by my gesin kon wees.” Deur daardie verandering te maak om saam te eet, asook deur geduldige en liefdevolle aandag, het hulle hulle dogter gehelp om ten volle te herstel.
Terwyl ’n mens daarna streef om te doen wat die beste vir die lyer is, is dit belangrik om die nodige dissipline, wat ’n blyk van liefde is, te gee (Spreuke 13:24). Moenie die lyer beskerm teen die gevolge van haar dade nie. As sy haar eie geld moet gebruik om die kos te vervang waaraan sy haar vergryp het of as jy vereis dat sy ná selfgeïnduseerde vomering die gemors in ’n badkamer skoonmaak, kan jy haar leer dat sy verantwoordelik is vir haar gedrag. As jy daarop aandring dat sy haar aan redelike huishoudelike reëls onderwerp, toon jy jou vertroue in haar dat sy in beheer van haar lewe kan wees. Dit kan die eiewaarde opbou wat gewoonlik ontbreek onder diegene wat aan eetversteurings ly.
’n Lyer kan as gevolg van innerlike verwarring in woede uitbars. As sy dit doen, moet jy probeer om verby die uitbarsting te kyk. Probeer om die oorsaak van die “ergernis” te vind en aandag daaraan te gee (Job 6:2, 3, NW). Dit was vir Joe en Ann ’n groot uitdaging toe hulle dogter wat aan anoreksie ly rebels geword het en skeltaal begin gebruik het.
“Ons het voortdurend probeer om liefdevol teenoor haar te wees pleks van haar net uit die huis uit te sit”, het Ann gesê. Haar man het bygevoeg: “Ons het aangehou om vir haar hulp te soek en vir haar gesê hoe baie ons vir haar omgee.” Die gevolg? Sy het uiteindelik besef dat haar ouers haar baie lief moes hê, en sy het begin om met hulle te kommunikeer.
Wanneer die lyer ’n kind is, is die druk op die ouers, veral die ma, geweldig. Mans moet hulle vrou dus die noodsaaklike emosionele ondersteuning gee. Moenie jou huwelik vir jou kind se siekte opoffer nie. Aanvaar jou beperkings.
In party gevalle moet jy dalk buite die gesin hulp gaan soek. Evalueer al die faktore wat daarby betrokke is, en bepaal watter soort hulp die beste is. Dit sal vasberadenheid vereis as die lyer teensinnig is. Laat haar besef dat jy sal optree om haar lewe te beskerm indien dit nodig is, maar moenie dinge sê wat jy nie kan doen nie.
Daar sal tye wees wanneer jy magteloos voel en die situasie hopeloos lyk, maar moenie vergeet om sulke probleme in gebed voor die God van liefde te stel nie. Hy kan help! “Ons het besef dat ons dit nie kon hanteer nie”, erken Joe. “Die belangrikste ding wat ons geleer het, is om ons vertroue ten volle in Jehovah God te stel. Hy het ons nooit teleurgestel nie.”
[Voetnote]
a Sien “Wie kry eetversteurings?” in ons nommer van 22 Desember 1990.
b Sien “Hulp vir die slagoffers van bloedskande” in ons medetydskrif Die Wagtoring van 15 Desember 1983.
[Venster op bladsy 13]
PARTY TEKENS VAN EETVERSTEURINGS
◼ Eet baie min, soos deur ’n streng dieet te volg of deur te vas
◼ Aansienlike gewigsverlies of gewigswisseling
◼ Vreemde eetgewoontes, soos om kos in klein stukkies op te sny
◼ Groot vrees om vet te word, ten spyte van lae gewig
◼ Gedurige besorgdheid en praatjies oor kos en/of gewig, wat dikwels met strawwe oefening gepaardgaan
◼ Menstruasie hou op
◼ Raak afgetrokke, tekens van geheimsinnigheid, veral wanneer daar ’n lang tyd in die badkamer bestee word
◼ Emosionele veranderinge, soos depressie en geïrriteerdheid
◼ Ooretery wanneer kwaad, senuweeagtig of opgewonde
◼ Misbruik van uriendrywers, dieetpille of purgeermiddels, soos lakseermiddels
[Prent op bladsy 15]
it is noodsaaklik om met empatie te luister