Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/8 bl. 21-23
  • Waarom is gholf so gewild?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is gholf so gewild?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe dit begin het
  • Groeiende aantrekkingskrag
  • Die gholfkoors het versprei
  • Gholf op die Hawaise manier
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Die veranderende wêreld van elektroniese speletjies
    Ontwaak!—2002
  • Is mededinging in sport verkeerd?
    Ontwaak!—1995
  • Moet ek elektroniese speletjies speel?
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/8 bl. 21-23

Waarom is gholf so gewild?

Deur Ontwaak!-medewerker in Hawaii

BAIE gholfspelers vlieg van Japan af hier na Hawaii toe om die volmaakte gholfhou te probeer speel. In Japan kan dit tot R4,1 miljoen kos om by die beste gholfklub aan te sluit, en dit sluit nie eers die jaargeld in nie. Dit kos tans gemiddeld R518375 om by ’n klub aan te sluit! Daarom speel net 15 persent van Japan se gholfspelers op ’n regte gholfbaan. Omdat hulle nie daarmee tevrede is om op hulle plaaslike oefenbane balle te slaan nie, kom hulle na Hawaii toe waar hulle bereid is om tot R275 per gholfrondte te betaal—en hulle beskou dit as ’n spotprys.

Wie dit ook al was wat die eerste keer probeer het om ’n bal met so min stokhoue moontlik in ’n klein gaatjie te slaan, sou seker nooit kon dink hoe gewild en gelief hierdie spel eindelik sou word nie. In Hawaii alleen is daar 64 gholfbane, waaronder die Ala Wai wat moontlik die besigste ter wêreld is. In die Verenigde State waar gholf ’n onderneming met ’n omset van R55 miljard per jaar is, speel 1 persoon uit elke 10 ten minste een rondte gholf per jaar, en 5,5 miljoen mense speel dit ten minste een keer elke tweede week. Dit is nie oordrywing om te sê dat die gewildheid van die spel geweldig toegeneem het nie. Maar waarom? Hoe het gholf so gewild geword?

Hoe dit begin het

Hoewel niemand heeltemal seker is wanneer of waar gholf ontstaan het nie, is dit bekend dat daar meer as 500 jaar gelede ’n aantal soortgelyke speletjies in Europa en Groot-Brittanje gespeel is. Maar daar is eers in 1457 melding gemaak van gholf as ’n spel wat in Skotland gespeel is. Dit wil voorkom of die spel so gewild geword het dat koning Jakobus II dit nodig geag het om die spel te verbied sodat sy onderdane meer tyd daaraan kon bestee om boogskiet, ’n noodsaaklike vaardigheid vir die verdediging van sy koninkryk, te oefen.

Teen 1744 het ’n groep Skotte besluit dat dit tyd was om hierdie spel te organiseer, dit ’n stel geskrewe reëls te gee en ’n gholfklub te stig. Sodoende het die Honourable Company of Edinburgh Golfers tot stand gekom. Tien jaar later het ’n ander groep spelers hulle eie klub in St. Andrews, Skotland, gestig, en dit het later as die Royal and Ancient Club of St. Andrews, of net die R. en A., bekend geword. Baie beskou hierdie klub as die een wat die reëls en regulasies van die spel vasgestel het.

Gholf is aanvanklik tussen die heuwels en duine naby die strand gespeel. Dit is om praktiese redes gedoen. Skape en hase het die gras kort gehou. Natuurlike sandkuile is gevorm waar skape wat skuiling gesoek het, die bogrond tot op die sandlaag daaronder weggetrap het. Net vorstelike persone en die rykes het die geld en tyd gehad om na hierdie gholfbane aan die see te gaan. Dit was beslis nie ’n spel vir die gewone mense nie. Trouens, ’n mens moes ryk wees net om die gholfballe te kon bekostig.

Die eerste gholfballe is van beesvel gemaak, met hoender- of gansvere styf gestop en die nate met die hand vasgewerk. Die balle was duur om te maak en het nie lank gehou nie. Nadat die gom van die Palaquium gutta-boom uit Maleisië in 1848 ontdek is, kon ’n nuwe, goedkoper bal vervaardig word. Dit het gholf meer bekostigbaar gemaak en die spel het gou gewild geword.

Groeiende aantrekkingskrag

Benewens die feit dat gholfballe en -stokke goedkoper geword het, het ’n aantal ander faktore tot die groeiende aantrekkingskrag van die spel bygedra. Vanweë die Industriële Revolusie het die gewone mense meer tyd en geld gehad om aan ontspanning te bestee. Die verbeterde spoorweë het dit makliker en goedkoper gemaak om by die gholfbane te kom en gholfspelers kon selfs by verskillende bane kom en daarop speel. Danksy die uitvinding van die grassnyer kon gholfbane gemaak word waar dit vroeër vanweë die lang gras as onprakties beskou is.

Mense hou om verskillende redes van gholf. Dit is vir sommige ’n geleentheid om die buitelug te geniet en terselfdertyd ’n bietjie oefening te kry. Vir ander is dit ’n kans om van die spanning en druk van hulle daaglikse roetine weg te kom en ’n bietjie rus en vrede op die skoonvelde en setperke te geniet. Ander geniet die sosiale aspek van gholf—mense van verskillende ouderdomme, agtergronde en vermoëns kan dit saam speel. En die spel is glad nie gewelddadig nie.

Tog is die vriendskaplike mededinging wat deur die puntetelling moontlik gemaak word ’n deel van die aantrekkingskrag wat gholf inhou. In teenstelling met hoe die meeste ander sportsoorte gespeel word, is dit die laagste punte in gholf wat die beste is. Daar is verskeie maniere om telling te hou. In putjiespel wen die speler wat die bal met die minste houe in die putjie kan slaan daardie putjie, en die speler wat die meeste putjies in al die rondtes wen, wen die wedstryd. In syferspel is die speler met die minste houe vir al die rondtes die wenner.

Omdat al hoe meer mense na die gholfbane toe gestroom het, is daar met toernooie begin om vas te stel wie die beste spelers was. Eers het die wenners van die toernooie ’n medalje ontvang. Later is prysgeld bygevoeg. Spoedig het die beroepsgholfspelers verskyn wat hulle brood verdien het deur in die een toernooi na die ander te speel en deur ’n gholfklub waarvan hulle ’n sekere tyd lank lid was as beroepspelers te verteenwoordig.

Die gholfkoors het versprei

In 1894 is die Amerikaanse Gholfvereniging gestig en die gewildheid van gholf het baie vinnig in Amerika toegeneem. Die koms van die internasionale vervoerwese het die gholfkoors na ander dele van die wêreld laat versprei. Vanweë lugvervoer kon toernooie mettertyd wêreldwyd gereël word, en nou bring satelliettelevisie-uitsendings die opwinding en die natuurskoon van wêreldberoemde gholfbane in die woonkamer in. Die gewildheid van gholf neem beslis baie vinnig toe. En die prysgeld het ook gestyg; dit het van minder as R27 500 tydens die dertiger- en veertigerjare tot heelwat meer as R2750 000 per toernooi deesdae gestyg.

Aangesien gholf hand aan hand gaan met ’n pragtige omgewing het die gholfbaan spoedig die kern van talle gewilde vakansieplekke geword. Die meeste van die wêreld se eksotiese oorde spog met gholfbane wat deur argitekte ontwerp is sodat hulle toeriste kan lok om geld te kom spandeer. Vaste-eiendomsontwikkelaars sien ook die winsmoontlikheid raak en sluit pragtige gholfbane as ’n vername trekpleister van hulle huisbouprojekte in. Die tydskrif Business Week sê dat 70 persent van die gholfbane wat tans gemaak word deel van ’n eiendomsontwikkelingsprojek uitmaak.

Gholf op die Hawaise manier

Hawaii is vandag ’n gholfspeler se paradys, en nog 61 bane word beplan. Selfs dan sal daar moontlik nog nie genoeg wees om in die behoefte te voorsien nie, want namate die hedendaagse gesondheidsbewuste geslag ouer word en sportsoorte soos draf, tennis en muurbal ’n bietjie te veeleisend vind, begin baie van hulle eerder gholf speel.

Vir ander is gholf ’n goeie manier om sake te doen. Die lang ente wat sakemanne tussen putjies moet stap of ry, gee hulle baie geleentheid om hulle transaksies aan te gaan. “Dit het my vyf ure saam met kliënte gegee wat ek nooit voorheen sou gehad het nie”, het ’n bestuurder van ’n finansiële instelling gesê wat die meeste van haar sake op die gholfbaan doen. Sommige meen selfs dat dit noodsaaklik is om gholf goed te kan speel as ’n mens in die sakewêreld vooruitgang wil maak en aanvaar wil word.

Hoewel die meeste mense gholf met die rykes en beroemdes vereenselwig, het openbare gholfbane gehelp om daardie beeld te verander. Hierdie bane help dié wat dit nie kan bekostig om by ’n buiteklub aan te sluit nie om tog die spel te kan geniet. Nasionale statistiek toon dat amper die helfte van die gholfspelers in die Verenigde State kantoorwerkers of ambagsmanne is. Hawaiërs kan byvoorbeeld vir minder as R30 op ’n openbare gholfbaan speel.

Hoewel daar moontlik goedkoper maniere is om ’n dag deur te bring as op ’n gholfbaan is niks vir ’n gholfspeler so aangenaam as om ’n goeie gholfhou te speel en die bal dan oor die skoonveld tot op die setperk te sien trek nie. Die rustige atmosfeer, die geur van pas gesnyde gras, die netjiese terrein en die geselskap van vriende is alles aangename bykomstighede wat die belangrike saak—om die volmaakte gholfhou te probeer speel—bevorder.

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Photo Courtesy of Mauna Kea Beach Hotel

Photo Courtesy of Mauna Kea Beach Hotel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel