Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/8 bl. 25-27
  • Kom ons eet kassawe!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kom ons eet kassawe!
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit groei maklik
  • Die verwerking daarvan is harde werk
  • Etenstyd!
  • Kassaweblare—daaglikse voedsel vir miljoene
    Ontwaak!—1996
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/8 bl. 25-27

Kom ons eet kassawe!

Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië

MET sy kapmes in die hand kap Janyere sy pad oop deur die toegegroeide kassawe-land. ’n Strooihoed beskut hom teen die skroeiende ekwatoriale son. Nadat hy op ’n plant van ongeveer drie meter hoog besluit het, kry hy die stam met albei hande beet en trek liggies daaraan. En skielik kom die wortels en knolle bo die grond te voorskyn. Hy kap hulle met sy kapmes af en plaas hulle in ’n vlak bak saam met ander knolle wat hy so pas uitgetrek het. Ngozi, sy vrou, tel die pan op, sit dit op haar kop en dan stap hulle saam huis toe.

Hierdie eenvoudige oesprosedure is regdeur die trope aan miljoene bekend wat dit geniet om gereeld kassawe te eet.a In Afrika alleen maak ongeveer 200 miljoen mense op kassawe staat vir meer as die helfte van hulle daaglikse kilojoule-inname. En die gewildheid daarvan neem toe. Party kenners sê dat daar teen die jaar 2000 moontlik twee keer soveel mense van kassawe afhanklik sal wees as wat die geval was gedurende die middel-tagtigerjare.

Het jy al kassawe geëet? As jy in ’n gematigde deel van die aarde bly, sal jy dalk nee sê. Maar moenie so seker wees nie! Kassawe-stysel is ’n belangrike bestanddeel van souse, babakos, mosterd, tapiokaprodukte, verdikkingsmiddels, fyngebak en brood. Selfs die vleis wat jy eet of die melk wat jy drink, kom dalk van diere af wat verpoeierde kassawe as deel van hulle dieet gevoer is.

Bo en behalwe kassawe se bydrae tot die voedselindustrie, word dit in kleefmiddels, pastas en verf gebruik.

Dit groei maklik

Maar die meeste Afrikane, soos Janyere en Ngozi, plant kassawe om te eet. Hoewel die proteïeninhoud laag is, is die groot knolle ryk aan koolhidrate. Kassawe bevat twee en ’n half keer meer kilojoules per kilogram as mielies of jam, die tweede belangrikste stapelvoedselsoorte van Afrika. Die jong spruite en blare is gesond—dit is ryk aan vitamiene, minerale en proteïene.

Een groot faktor wat daartoe bydra dat kassawe so belangrik is, is die feit dat dit so maklik groei. Dit is nie nodig om die grond enigsins ekstensief voor te berei nie, behalwe om bossies en rankplante uit te trek en seker te maak dat dit ’n bietjie son kry. Wanneer die grond nat is, plant die boer steggies waarvan die kassawe sal groei. Dit is nie nodig om veel onkruid om die kassawe uit te roei nie, en dit het min of geen bemesting, swamdoder of insekdoder nodig. Dit kan ook enige tyd van die jaar geoes word.

Kassawe is merkwaardig gehard. Dit groei goed in goeie en skraal grond. Dit groei geil van seevlak tot op ’n hoogte van 2000 meter. Dit floreer in gebiede met ’n hoë reënval, maar is ook vrugbaar in ’n klimaat waar daar nege maande van die jaar geen reën val nie. Selfs as kassawe tot op die grond afbrand, loop dit weer uit!

Die verwerking daarvan is harde werk

Kassawe is dus relatief arbeidsvry vandat dit geplant word totdat dit geoes word. Die ware werk begin egter eers wanneer dit uit die grond gehaal word. Trouens, vandat dit geoes word totdat dit op die etenstafel beland, verg dit net soveel of selfs meer werk as al die bedrywighede voor die oes.

Hierdie werk moet vinnig aangepak word. As Janyere wou, kon hy die kassawe-knolle vir tot twee jaar wegbêre deur hulle bloot onversorg in die grond te laat. Maar sodra hulle uit die grond gehaal word, moet die knolle binne 48 uur verwerk word of hulle begin verrot.

Ngozi wil gari maak, ’n gunsteling van die Nigeriërs. Sy skil eers die kassawe met ’n mes; dan was sy dit af. Ngozi en Janyere vat nou die geskilde kassawe na hulle vriend Alex toe wat ’n meul het. Die meul maal die knolle tot ’n fyn pulp. Die pulp word dan in ’n poreuse sak gesit en die vloeistof word in Alex se pers uitgedruk.

Maar die werk is nog nie klaar nie! Die kassawe-pulp moet nou ’n paar dae lank gedroog word. Janyere sif dit dan met ’n raffiasif. Daarna braai Ngozi dit terwyl sy dit met ’n spaan roer sodat dit nie aanbrand nie. Die kassawe word nou, in hierdie verwerkte stadium, gari genoem.

Hoewel Ngozi net een van die baie maniere gekies het om haar kassawe te verwerk, word die meeste kassawe in Afrika deur vroue op die plaas of by die huis voorberei. Dit is nie raadsaam om kortpaaie te kies nie, aangesien kassawe klein hoeveelhede sianied bevat wat baie giftig vir mense en diere is. Deeglike verwerking verminder die sianiedinhoud tot ’n veilige vlak.

Etenstyd!

Nou is dit uiteindelik tyd om te eet! Gari, gemeng met kokosmelk, is ’n heerlike nagereg. Daar kan ook beskuitjies van gemaak word. Maar Ngozi en Janyere besluit om eerder eba te eet, wat gemaak word deur gari eenvoudig in kookwater te roer.

Regdeur Afrika is kassawe-geregte so verskillend soos die name wat daarvoor gegee word. In Côte d’Ivoire word dit met vleis en groente as attieke voorgesit. In Ghana vorm kassawe saam met ’n vis- of eiersous ’n eengeregmaaltyd genaamd garifoto. As jy in Tanzanië vir ugali vra, sal jy met kassawe (in die vorm van ’n stywe pap) saam met sop bedien word. In Kameroen geniet mense dit om kumkum te eet. En in Sierra Leone dring kassawe-liefhebbers, veral op Saterdae, op hulle foofoo aan!

Wat jy kassawe ook al noem, dit maak ’n groot deel van die lewe in Afrika uit. Trouens, dit maak so ’n groot deel daarvan uit dat baie mense meen as hulle nie kassawe geëet het nie, selfs al het hulle iets anders gehad, hulle nog glad nie werklik geëet het nie!

[Voetnoot]

a Dit word ook maniok, tapioka en broodwortel genoem.

[Prente op bladsy 26]

Kassawe word geskil en afgewas

Gemaal

Gesif

Gebraai

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel