’n Besoek aan Omdoerman se kameelmark
“WAAR is die Mowalee?” vra ons. Ons vierwielaangedrewe voertuig het ons van die hoofstad, Khartoem, tot by die westelike grens van die ou Omdoerman, die grootste stad in Soedan, geneem.
Daar is geen padtekens nie, net ’n doolhof van spore in die sand. Daarom vra ons die vraag hierbo aan ’n paar mans wat op hulle donkies ry. Hulle pakdiere is met dromme drinkwater gelaai. Die ruiters is behulpsaam en dui vir ons die rigting aan. Ná nog agt kilometer ry ons oor ’n hoë sandduin en sien ’n merkwaardige skouspel, Omdoerman se kameelmark, die Mowalee.
Waarom hier?
Dit is heeltemal anders as die winkelsentrums met lugversorging in die Weste. Die mark doen sake in die ope lug in die skroeiende hitte van die Saharawoestyn. Die mark is ongeveer drie vierkante kilometer groot, het geen definitiewe grense nie en het geen bome of plante nie. Trouens, daar is sand so ver as ’n mens kan sien. Maar jy kan ook honderde kamele sien, asook herders in die tradisionele volksdrag wat djalabeeja genoem word.
Terwyl ons kyk hoe fyn, gelerige stof oor die onherbergsame woestyn waai, wonder ons: ‘Waarom het hulle die mark hier begin?’ Die antwoord word gou duidelik. Die eentonigheid van die plat vlakte word verbreek deur ’n groot watertenk wat in die lug hang en deur ’n artesiese put gevoed word. Hierdie bron van kosbare water maak dit ’n ideale plek vir so ’n mark. Van hier af sal die meeste van die diere na Egipte en Libië uitgevoer word.
Terwyl ons nader kom, word ons deur glimlaggende Arabiese herders verwelkom. Elke kameeleienaar hou sy kamele bymekaar. Ons sien dat baie van die diere se voorste linkerbeen in ’n gebuigde posisie vasgebind is. Waarom maak hulle hulle diere tydelik kreupel? Daar is ’n bygeloof dat die linkerbeen aan Satan behoort! Of dit nou ’n bygeloof is of nie, die gebruik om die diere se een been vas te maak, voorkom dat hulle rondbeweeg en maak dit vir klante makliker om hulle te ondersoek.
’n Groot aanvraag na kamele
Waarom is daar so ’n groot aanvraag na kamele? Omdat hulle uiters goed toegerus is vir die strawwe woestyntoestande; dit is ’n geskikte vervoermiddel in hierdie droë gebied. In ’n woestynstorm maak sy lang, spleetagtige neusgate vinnig toe. Sy ore is ver agter op sy kop geleë en is vol haartjies wat voorkom dat sand die oor binnedring. Sy groot bult, wat hoofsaaklik uit vet bestaan, dien as voedselbergplek gedurende lang reise. Eeltkussings op sy bors en knieë beskerm hom teen die warm sand en die gevaarlike insekte. Daarbenewens kan kamele die taaiste en doringagtigste woestynplante eet en kan hulle etlike dae lank reis sonder om water te drink.a
Dit is interessant dat baie kamele nie as vervoermiddel dien nie. Party word eenvoudig as ’n belegging gekoop. Trouens, kamele is tot onlangs nog gebruik om die bruidsprys vir huwelike te betaal! Baie van hierdie diere sal selfs in die pot beland. Reg daar in Omdoerman self spesialiseer verskeie eetplekke in gebraaide kameelvleis. Nog ’n gewilde dis, ’n soutkameeldis wat basterma genoem word, word dikwels van kameelvleis gemaak en word in Egipte en ander Midde-Oosterse lande as ’n lekkerny beskou.
Dit is dus geen wonder nie dat Omdoerman se kameelmark ’n miernes van bedrywigheid word wanneer hierdie eenbultige Arabiese kamele twee keer per week, meestal van Wes-Soedan af, ingebring word. Kopers word feitlik oorval deur Arabiese herders wat vasbeslote is om hulle onderskeie kuddes ten toon te stel.
Intense onderhandelinge
’n Voornemende koper sal die diere eers met ’n geoefende en kritiese oog ondersoek. Hy sal aan die bult voel om te sien of daar ’n gesonde voorraad vet is. Die prys van kamele word egter volgens hulle grootte en ouderdom bepaal. ’n Jaar oue kameel word heowar genoem, ’n twee jaar oue kameel word mafroed genoem, terwyl kamele wat drie jaar oud is as wad laboen bekend staan. Die waardevolste diere is egter dié wat puberteit bereik het. Wyfies bereik hierdie stadium wanneer hulle ongeveer vier jaar oud is en mannetjies wanneer hulle ongeveer agt jaar oud is. Hulle word onderskeidelik heek en sudaies genoem. Wanneer een van hierdie volgroeide diere aan ’n voornemende koper gewys word, sal hy die dier ondersoek om vas te stel of die dier werklik puberteit bereik het.
Wanneer ’n kameel eers in ’n koper se smaak geval het, begin die onderhandelinge. Die vermoë om te onderhandel, is ’n onontbeerlike kuns in die Midde-Ooste! “Be esm Allah” (In die naam van God) is die eerste woorde wat gespreek word. Nou begin die prysoorlog. Die onderhandelinge geskied rustig, sonder enige geskreeu, en sonder haas. As die koper en die verkoper nie ’n ooreenkoms bereik nie, beëindig hulle hulle onderhandelinge eenvoudig deur te sê “Jeftaa Allah” (God sal nog ’n geleentheid skep).
Ons het egter gekom om waar te neem, nie om te koop nie. Nadat ons maar ’n kort tydjie in die skroeiende middagson deurgebring het, is ons gereed om huis toe te gaan. Dit lyk egter nie of die hitte die kamele pla nie. Ons word dus herinner aan hoe goed hierdie ‘skepe van die woestyn’ by hulle omgewing aangepas is. Dit sal ongetwyfeld voortgesette sakeonderhandelinge hier by Omdoerman se fassinerende kameelmark beteken!
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Die Arabiese kameel—Afrika se meerdoelige vervoermiddel” in die Ontwaak! van 8 Junie 1992.