Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/8 bl. 16-18
  • Die raaiselagtige—eendbekdier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die raaiselagtige—eendbekdier
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kom ons gaan kuier by ’n eendbekdier
  • Daardie verbasende snawel
  • Pasop vir daardie spore!
  • Tyd om eiers te lê
  • Eienaardige diere van Tasmanië se wildernis
    Ontwaak!—2012
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Staan die waarheid voor in ’n goddelose wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Bied terugslae die hoof deur doelwitte te stel
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/8 bl. 16-18

Die raaiselagtige—eendbekdier

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

TOE wetenskaplikes die eerste keer ’n eendbekdier gesien het, het hulle nie geweet wat dit is nie. Hier was ’n lewende paradoks, ’n kilogram of twee teenstrydighede wat ’n paar van hulle wetenskaplike menings omvergegooi het. Ons nooi jou om hierdie unieke Australiërtjie te ontmoet—’n minsame, skaam en lieftallige skepseltjie. Maar laat ons eers teruggaan na die jaar 1799 en kyk na die opskudding wat dit veroorsaak het toe Britse wetenskaplikes die heel eerste keer die vel van ’n eendbekdier gesien het.

“Hy kon letterlik nie [sy oë] glo nie”, sê ’n ensiklopedie aangaande dr. Shaw, assistentkurator in die Natuurhistoriese deel van die Britse Museum. Hy het gemeen dat “iemand ’n eend se snawel op die liggaam van ’n [viervoetige dier] oorgeplant het. Hy het die snawel probeer [afhaal], en die merke van sy skêr kan vandag nog op die oorspronklike vel gesien word.”

Selfs toe daar bevind is dat die vel eg is, was wetenskaplikes dronkgeslaan. Die eendbekdier se voortplantingstelsel kom baie ooreen met dié van ’n voël, maar hulle het ook melkkliere. Hierdie skynbare teenstrydigheid het die vraag laat ontstaan: Lê hierdie onwaarskynlike dier eiers, of nie?

Ná jarelange stryery is daar bevind dat die eendbekdier inderdaad eiers lê. Maar dit het gelyk of elke ontdekking net die raaisel vergroot het. Hoe klassifiseer jy ’n dier wat (1) eiers lê maar melkkliere het; (2) ’n pels maar ook ’n eend se snawel het en (3) ’n skelet met die kenmerke van ’n koudbloedige reptiel het en tog warmbloedig is?

Mettertyd het wetenskaplikes erken dat die eendbekdier ’n soogdier van die orde Monotremata is. ’n Kloaakdier het, soos ’n reptiel, een opening om eiers, sperma, ontlasting en urine deur te laat. Die enigste ander lewende kloaakdier is die mierystervark. Die eendbekdier se wetenskaplike naam is Ornithorhynchus anatinus, wat “eendagtige dier met die bek van ’n voël” beteken.

Kom ons gaan kuier by ’n eendbekdier

Ons kan na ’n dieretuin toe gaan, maar niks kom daarby om die geheimsinnige eendbekdier in die natuur raak te sien nie—iets wat selfs min Australiërs al ooit gedoen het. Ons soektog begin in die ooste van Australië, in die Blouberge wes van Sydney, hoewel baie van die varswaterriviere, -strome en -mere aan die oostelike kant van Australië geskik sou wees.

Ons kom voor sonop by ’n ou houtbrug aan oor ’n spieëlgladde rivier met bloekombome langs die oewers. Geduldig en stil hou ons die water dop vir die verskyning van ’n silhoeët laag op die water. Ons word gou beloon. Ongeveer 50 meter stroomop verskyn ’n gedaante wat in ons rigting beweeg. Ons moet doodstil staan.

Die baie golfies wat deur sy snawel veroorsaak word, bevestig dat dit ’n eendbekdier is. Daardie kenmerkende golfies word gevorm wanneer die eendbekdier die kos fynmaal wat hy op die rivierbodem gesoek en in sy wangsakke bymekaargemaak het. Hoewel sy dieet van seisoen tot seisoen verskil, bestaan dit hoofsaaklik uit wurms, inseklarwes en varswatergarnale.

Is jy verbaas dat die eendbekdier so klein is? Die meeste mense is. Hulle dink dat ’n eendbekdier omtrent so groot soos ’n bewer of ’n otter is. Maar soos jy kan sien, is hy selfs kleiner as die gemiddelde huiskat. Die mannetjies se lengte wissel van 45 tot 60 sentimeter en hulle weeg van een tot twee en ’n half kilogram. Die wyfies is ’n bietjie kleiner.

Voortgedryf deur wisselende hale van sy gewebde voorpote duik hy stilletjies en bly een tot twee minute onder die water terwyl hy stadig onder die brug deurbeweeg. Sy gedeeltelik gewebde agterpote word nie gebruik om hom aan te dryf nie, maar hy stuur hom daarmee en dit werk in harmonie met sy stert wanneer hy swem. Hulle anker ook sy lyf stewig wanneer hy grawe.

Indien die eendbekdier gesteur word, duik hy met ’n hoorbare plas, en dit beteken totsiens! Daarom praat ons net wanneer hy onder die water is. “Hoe bly so ’n klein outjie warm”, fluister jy, “veral in die ysige water van die winter?” Die eendbekdier kom goed reg, danksy twee hulpmiddels: ’n metabolisme wat vinnig energie produseer en hom sodoende van binne af warm maak, asook ’n digte pels wat die hitte binnehou.

Daardie verbasende snawel

Die sagte, rubberagtige snawel van die eendbekdier is baie goed ontwikkel. Dit is vol reseptore wat tasgewaarwordinge en elektriese aktiwiteite waarneem. Op die rivierbodem swaai die eendbekdier sy snawel liggies heen en weer terwyl hy soek, en hy gewaar selfs die dowwe elektriese velde wat deur die spiersametrekkings van sy prooi veroorsaak word. Terwyl die eendbekdier onder die water is, is sy snawel sy vernaamste skakel met die wêreld, aangesien sy oë, ore en neus styf toe is.

Pasop vir daardie spore!

As ons vriendjie ’n mannetjie is, is sy agterbene gewapen met twee spore aan sy enkels wat met buisies aan twee gifkliere in die omgewing van sy dye verbind is. Hy steek albei spore met ’n kragtige beweging in sy aanvaller in, amper soos wat ’n perderuiter sy perd aanspoor. Kort ná die aanvanklike skok ervaar die slagoffer kwaai pyn, en die steekplekke swel op.

In gevangenskap kan die eendbekdier egter so mak soos ’n lammetjie wees. Die Healesville-reservaat, in Victoria, hou hierdie diere al dekades lank aan en berig dat een vroeë inwoner “besoekers ure lank vermaak [het] en om en om gerol het sodat hulle sy maag kon krap . . . Duisende besoekers het gekom om hierdie uitsonderlike diertjie te sien.”

Net toe die son oor die berge oos van ons loer, maak ons eendbekdier sy laaste duik vir die dag. Gedurende die nag het hy meer as ’n vyfde van sy gewig in kos geëet. Terwyl hy uit die water klim, trek die webbe aan sy voorpote terug en sterk naels steek uit. Nou kies hy koers na een van sy talle tonnels, wat wyslik tussen boomwortels gegrawe is vir beskerming teen erosie en ineenstorting. Tonnels waarin daar nesgemaak word, is gewoonlik ongeveer 8 meter lank, maar ander tonnels kan tussen 1 meter en byna 30 meter lank wees en kan baie sytakke hê. Die tonnels bied ook beskerming teen temperatuuruiterstes, wat dit gevolglik knus neste maak waar die wyfies hulle kleintjies kan grootmaak.

Tyd om eiers te lê

In die lente gaan die wyfie in een van haar dieper tonnels na ’n kamer wat met plantmateriaal uitgevoer is en lê een tot drie (gewoonlik twee) eiers wat so groot soos ’n duimnael is. Sy broei haar eiers uit deur haar lyf en vetstert om hulle te krul. Ná ongeveer tien dae breek die babatjies uit hulle perkamentagtige doppe en leef van die melk wat deur die ma se twee melkkliere voorsien word. Terloops, die eendbekdierwyfie maak haar kleintjies alleen groot; daar is geen aanduiding dat hierdie soogdiere as ’n paar lank saambly nie.

Teen ongeveer Februarie, nadat die kleintjies drie en ’n half maande lank vinnig gegroei het, is hulle gereed vir die water. Maar aangesien ’n watermassa net soveel diere kan onderhou, sal die kleintjies dalk uiteindelik na water begin soek wat nie so dig bevolk is nie en in die proses selfs gevaarlike stukke land oorsteek.

In gevangenskap het eendbekdiere al ouer as 20 jaar geword, maar in die natuur lewe die meeste van hulle nie so lank nie. Droogte en vloede eis hulle tol en so ook roofdiere soos iguanas (groot likkewane), jakkalse, groot roofvoëls en, in die verre noorde van Queensland, selfs krokodille. Maar die mens hou die grootste bedreiging vir die eendbekdier in, nie deur hulle opsetlik dood te maak nie (eendbekdiere word nou streng beskerm), maar deur hulle habitat meedoënloos oor te neem.

As jy Australië ooit besoek, kan jy self ons unieke mengseltjie met die eendbek in sy natuurlike habitat sien, aangesien jy nêrens anders in die wêreld een in die natuur sal sien nie. Met vergunning van die eendbekdier sal jy nóg ’n faset van die Skepper se eindelose verbeelding—en ook sin vir humor—ondervind.

[Prent op bladsy 17]

Die eendbekdier dryf homself voort met sy gewebde voorpote

[Erkenning]

Met vergunning van die Taronga-dieretuin

[Prent op bladsy 17]

Die eendbekdier is kleiner as die gemiddelde huiskat en weeg een tot twee en ’n half kilogram

[Erkenning]

Met vergunning van dr. Tom Grant

[Prent op bladsy 17]

Die eendbekdier se hoogs sensitiewe snawel spoor prooi onder die water op. (Hierdie eendbekdier is in die Healesville-reservaat)

[Erkenning]

Met vergunning van die Healesville-reservaat

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Foto: Met vergunning van dr. Tom Grant

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel