Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/8 bl. 24-27
  • Louis Pasteur—Wat sy werk onthul het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Louis Pasteur—Wat sy werk onthul het
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeëre navorsing
  • Pasteurisasie
  • Lewe kom van lewe
  • Die stryd teen aansteeklike siektes
  • Nuttige werk
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Is die Bybel waardeloos?
    Ontwaak!—1994
  • Die moderne geneeskunde—Hoeveel kan dit bereik?
    Ontwaak!—2001
  • Die wetenskap: Het dit die Bybel verkeerd bewys?
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/8 bl. 24-27

Louis Pasteur—Wat sy werk onthul het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

KAN lewe deur spontane generasie ontstaan? In die 19de eeu het sommige wetenskaplikes so gedink. Hulle het gemeen dat lewe vanself uit nielewende materie kon ontstaan, sonder inmenging deur ’n skepper.

Maar op ’n lenteaand in April 1864 het ’n gehoor in ’n vergadersaal by die Sorbonne-universiteit in Parys iets anders gehoor. In ’n meesterlike aanbieding voor ’n kommissie van wetenskaplikes het Louis Pasteur die teorie van spontane generasie puntsgewys weerlê.

Hierdie lesing en latere ontdekkings het hom “een van die wêreld se grootste wetenskaplikes” gemaak, soos The World Book Encyclopedia dit stel. Maar waarom het hierdie man so ’n indruk op sy tydgenote gemaak, en hoe het hy wêreldwyd bekend geraak? Hoe vind ons nóú by sommige van sy ontdekkings baat?

Vroeëre navorsing

Louis Pasteur is in 1822 in die dorpie Dôle, in die ooste van Frankryk, gebore. Sy vader, ’n leerlooier, het hoë ideale vir sy seun gekoester. Ten spyte van die feit dat hy na die kunste toe geneig het, en ook ware kunstalent gehad het, het Louis ’n wetenskaplike geword. Op die ouderdom van 25 het hy ’n doktorsgraad in wetenskap verwerf.

Van sy vroeëre navorsing het te doen gehad met wynsteensuur, ’n mengsel wat voorkom in die droesem wat in wynvate agterbly. Die resultate van daardie navorsing is ’n paar jaar later deur ander navorsers gebruik om die grondslag vir moderne organiese chemie te lê. Pasteur het toe oorgeskakel na die studie van gistingsagense.

Voor Pasteur se navorsing was dit bekend dat gistingsagense, soos suurdeeg, bestaan. Maar daar is gedink dat hulle die gevolg van gisting was. Pasteur het egter bewys dat hierdie gistingsagense nie die gevolg van gisting was nie, maar eerder die oorsaak daarvan. Hy het getoon dat elke soort gistingsagens ’n ander soort gisting veroorsaak. Die verslag wat hy in 1857 hieroor uitgegee het, word vandag as “die geboortesertifikaat van mikrobiologie” beskou.

Van toe af het sy werk en ontdekkings vinnig toegeneem. As gevolg van sy reputasie het die asynvervaardigers in Orléans hom gevra om hulle talle tegniese probleme te help oplos. Pasteur het bewys dat die agens wat wyn in asyn laat verander dít was wat vandag ’n mikro-organisme genoem word en wat op die oppervlak van die vloeistof teenwoordig was. Aan die einde van sy navorsing het hy sy welbekende “Les oor druiweasyn” vir die dorp se asynvervaardigers en hooggeplaastes aangebied.

Pasteurisasie

Pasteur se navorsing oor gisting het hom in staat gestel om tot die gevolgtrekking te kom dat die meeste besmettingsprobleme in die voedselnywerheid deur mikrobes veroorsaak is. Mikrobes was teenwoordig in die lug of in houers wat nie behoorlik gewas is nie. Pasteur het voorgestel dat die bederwing van voedsel deur bakterieë voorkom kon word deur higiëne te verbeter en dat die bederwing van vloeistowwe voorkom kon word deur dit ’n paar minute te hou op ’n temperatuur wat tussen 50 en 60 grade Celsius is. Hierdie metode is heel eerste op wyn toegepas om abnormale gisting te voorkom. Die vernaamste mikrobes is doodgemaak sonder om veel aan die smaak of boeket te verander.

Hierdie proses, wat pasteurisasie genoem word en deur Pasteur gepatenteer is, het ’n omwenteling in die voedselnywerheid teweeggebring. Vandag word hierdie tegniek nie meer vir wyn gebruik nie, maar dit is steeds voldoende vir talle produkte soos melk of vrugtesap. Ander metodes, soos sterilisasie teen ’n baie hoër temperatuur, kan egter ook gebruik word.

Nog ’n groot nywerheid wat by Pasteur se navorsing baat gevind het, was die brouerye. Die Franse het op daardie tydstip baie produksieprobleme asook strawwe mededinging van die Duitsers ondervind. Pasteur het aan die werk gespring en die brouers baie raad gegee. Hy het voorgestel dat hulle aandag skenk aan die suiwerheid van die brouerswort en ook sorg dat die lug in die omgewing oor die algemeen skoon is. Daar was onmiddellike sukses, en hy het daarna talle patente uitgeneem.

Lewe kom van lewe

Sedert die vroegste tye is die snaaksste idees al voorgestel om te verklaar waarom insekte, wurms of ander diertjies in verrottende materie voorkom. In die 17de eeu het ’n Belgiese skeikundige byvoorbeeld gespog dat hy muise te voorskyn laat kom het deur ’n vuil bloes in ’n fles vol koring te prop!

Gedurende Pasteur se tyd was daar hewige debatte in wetenskapskringe. Dit was ’n ware uitdaging om die voorstanders van spontane generasie te konfronteer. Maar Pasteur was vol vertroue weens dit wat hy in sy navorsing oor gisting uitgevind het. Hy het dus eksperimente gedoen wat bedoel was om die idee van spontane generasie eens en vir altyd te beëindig.

Sy eksperiment waarin hy swaannekflesse gebruik het, is een van sy bekendstes. ’n Vloeibare voedingstof wat in die ope lug in ’n oop fles gelaat word, word gou deur kieme besmet. Wanneer dit egter in ’n fles met ’n swaannek gelaat word, bly dieselfde vloeistof onbesmet. Waarom is dit die geval?

Pasteur se verduideliking was eenvoudig: Wanneer die bakterieë in die lug deur die swaannek beweeg, bly dit op die oppervlak van die glas agter sodat die lug kiemvry is wanneer dit die vloeistof bereik. Die kieme wat in ’n oop fles ontwikkel, word nie spontaan deur die vloeibare voedingstof geproduseer nie, maar word in die lug versprei.

Om te toon hoe belangrik lug as ’n verspreider van mikrobes is, het Pasteur na Mer de Glace, ’n gletser in die Franse Alpe, gegaan. Op ’n hoogte van 1800 meter het hy geseëlde flesse oopgemaak en hulle aan die lug blootgestel. Van die 20 flesse het net een besmet geraak. Toe het hy na die voet van die Jura-gebergte gegaan en dieselfde eksperiment herhaal. Hier, waar dit baie laer was, het agt flesse besmet geraak. Hy het dus bewys dat daar weens die suiwerder lug op hoër vlakke minder gevaar van besmetting was.

Deur sulke eksperimente het Pasteur onweerlegbaar bewys dat lewe slegs van reeds bestaande lewe kom. Dit ontstaan nooit spontaan, dit wil sê vanself, nie.

Die stryd teen aansteeklike siektes

Aangesien mikrobes nodig is vir gisting, het Pasteur geredeneer dat dieselfde vir aansteeklike siektes moes geld. Sy ondersoeke na sywurmsiekte, ’n ernstige ekonomiese probleem vir syvervaardigers in die suide van Frankryk, het bewys dat hy reg was. Binne ’n paar jaar het hy die oorsake van twee siektes ontdek en streng maatreëls voorgestel om gesonde sywurms te kies.

Terwyl Pasteur cholera onder hoenders bestudeer het, het hy agtergekom dat ’n kultuur van die kiem wat net ’n paar maande oud was nie die hoenders siek gemaak het nie, maar hulle eerder teen die siekte beskerm het. Hy het eintlik ontdek dat hy hulle met ’n verswakte vorm van die kiem kon immuniseer.

Pasteur was nie die eerste om inenting te gebruik nie. Die Engelsman Edward Jenner het dit voor hom gebruik. Maar Pasteur was die eerste persoon wat die werklike siekteagens in ’n verswakte vorm eerder as ’n verwante mikrobe gebruik het. Hy was ook suksesvol met ’n inenting teen miltsiekte, ’n aansteeklike siekte onder warmbloedige diere, soos beeste en skape.

Hierna het hy sy laaste en bekendste stryd aangepak, die stryd teen hondsdolheid. Hoewel Pasteur dit nie besef het nie, het hy in sy stryd teen hondsdolheid met ’n heel ander wêreld as dié van bakterieë te doen gehad. Hy het nou met virusse te doen gehad, ’n wêreld wat hy nie met ’n mikroskoop kon sien nie.

Op 6 Julie 1885 het ’n moeder haar negejarige seun na Pasteur se laboratorium toe geneem. Die kind was so pas deur ’n dol hond gebyt. Ten spyte van die moeder se gesmeek, was Pasteur teësinnig om die seun te help. Hy was nie ’n dokter nie en het gevaar geloop om daarvan beskuldig te word dat hy onwettig geneeskunde beoefen. Buitendien het hy nog nie sy metode op ’n mens getoets nie. Hy het nietemin sy medewerker, dr. Grancher, gevra om die seun in te ent. Hy het dit gedoen, en dit was geslaagd. Van die 350 mense wat in minder as ’n jaar behandel is, het net een—wat te laat gebring is—gesterf.

Intussen het Pasteur aan higiëne in hospitale gedink. Kraamkoors het elke jaar die dood van baie vroue by die kraamhospitaal van Parys veroorsaak. Pasteur het steriele tegnieke en streng higiëne, veral van die hande, voorgestel. Latere ondersoeke deur die Engelse chirurg Joseph Lister en ander het bewys hoe akkuraat Pasteur se gevolgtrekkings was.

Nuttige werk

Pasteur het in 1895 gesterf. Maar sy werk was van groot waarde, en ons trek selfs vandag nog voordeel uit sekere aspekte daarvan. Dit is waarom hy al ’n “weldoener van die mens” genoem is. Sy naam word steeds gekoppel aan die entstowwe en metodes waarvan hy oor die algemeen as die uitvinder erken word.

Die Pasteur-instituut, ’n instituut wat gedurende Pasteur se leeftyd in Parys gestig is vir die behandeling van hondsdolheid, is vandag ’n hoogaangeskrewe sentrum vir die studie van aansteeklike siektes. Dit is veral bekend vir werk aan entstowwe en geneesmiddels—en veral sedert 1983 toe ’n span wetenskaplikes daar, onder leiding van professor Luc Montagnier, die eerstes was om die vigs-virus te identifiseer.

Die debat oor die spontane generasie van lewe, waarby Pasteur betrokke was en wat hy gewen het, was nie net wetenskaplike haarklowery nie. Dit was meer as net ’n interessante punt wat ’n paar wetenskaplikes of intellektuele onder mekaar kon bespreek. Dit het ’n baie groter betekenis gehad—dit het bewyse behels wat met die bestaan van God te doen het.

François Dagognet, ’n Franse filosoof wat in die wetenskap spesialiseer, sê dat Pasteur se “teenstanders, materialiste sowel as ateïste, geglo het hulle kan bewys dat ’n eensellige organisme uit verrottende molekules kan ontstaan. Dit het hulle in staat gestel om God uit die skepping te haal. Maar wat Pasteur betref het, was ’n oorgang van dood na lewe nie moontlik nie.”

Tot vandag toe wys al die getuienis van eksperimente, geskiedenis, biologie, argeologie en antropologie steeds op dít wat Pasteur bewys het—dat lewe net van bestaande lewe kan kom, nie van lewelose materie nie. En die getuienis toon ook duidelik dat lewe ‘volgens sy soort’ voortplant, soos die Bybelverslag in Genesis sê. Die nageslag is altyd dieselfde “soort” as die ouers.—Genesis 1:11, 12, 20-25.

Of hy dus daarvan bewus was of nie, Louis Pasteur het deur sy werk kragtige bewys en getuienis gelewer teen die evolusieteorie en vir die gebiedende noodsaaklikheid van ’n skepper sodat lewe op die aarde kon ontstaan. Sy werk het die nederige psalmis se woorde weerspieël: “Weet dat Jehovah God is. Hy het ons gemaak‚ en nie ons onsself nie.”—Psalm 100:3, NW.

[Prente op bladsy 25]

Die apparaat hierbo is gebruik om wyn te pasteuriseer en ongewenste mikrobes dood te maak; dit word in die tekening hieronder getoon

[Prent op bladsy 26]

Pasteur se eksperimente het die teorie van spontane generasie weerlê

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Alle foto’s op bladsye 24-6: © Pasteur-instituut

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel