Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 8/22 bl. 19-21
  • Hoe kan ek keer dat ek altyd blameer word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek keer dat ek altyd blameer word?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Beraadslaging” met ouers
  • ‘Stel op die proef wat jou eie werk is’
  • Wanneer dit na voortrekkery lyk
  • Probleemgesinne
  • Waarom is dit altyd mý skuld?
    Ontwaak!—1997
  • Waarom toon my ouers nie groter belangstelling in my nie?
    Ontwaak!—1992
  • Voortrekkery—Wat kan ek daaromtrent doen?
    Ontwaak!—1997
  • Wat moet ek doen as my ouers stry?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 8/22 bl. 19-21

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek keer dat ek altyd blameer word?

“Dit was altyd mý skuld. As die huis nie gesluit was of die stoof nie afgesit is of iets nie op sy plek was of gedoen is nie, was dit Ramon se skuld!”—Ramon.

WANNEER jy ’n tiener is, kan dit soms lyk of jy blameer word vir omtrent alles wat verkeerd loop. In ’n vorige artikel het ons erken dat ouers soms te haastig is om hulle kinders te blameer.a Die redes hiervoor kan wissel van normale ouerlike besorgdheid tot ernstige emosionele ontsteltenis. Wat ook al die rede is, dit kan pynlik en vernederend wees om vir dinge aanspreeklik gehou te word wat nie jou skuld is nie.

As ’n onvolmaakte mens sal jy natuurlik van tyd tot tyd foute maak (Romeine 3:23). Omdat jy jonk is, is jy ook redelik onervare (Spreuke 1:4, NW). Jy sal waarskynlik soms oordeelsfoute maak. Wanneer jy dus ’n fout maak, is dit net reg en regverdig dat jy daarvoor aanspreeklik gehou word.—Prediker 11:9.

Hoe moet jy dan reageer wanneer jy vir iets blameer word wat jy wel gedoen het? Party jongmense tree op asof hulle ’n verskriklike onreg aangedoen word. Hulle gaan te kere oor hoe hulle ouers hulle altyd vir alles blameer. Die gevolg? Gefrustreerde ouers neem strenger maatreëls om hulle punt te laat deurdring. Die Bybel gee hierdie raad: “Sotte verag wysheid en tug. My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 1:7, 8). Wanneer jy jou foute erken en die nodige veranderinge aanbring, kan jy daaruit leer.—Hebreërs 12:11.

“Beraadslaging” met ouers

Maar dit is heeltemal anders wanneer jy vir dinge blameer word wat nie jou skuld is nie of wanneer jy aanhoudend blameer word. Dit is te verstane dat jy dalk kwaad en gegrief sal voel. Jy mag selfs in die versoeking kom om jou sleg te gedra omdat jy meen dat jy in elk geval blameer gaan word (Prediker 7:7, NW). Almal word egter deur kwaadwilligheid seergemaak. (Vergelyk Job 36:18, NW.) Spreuke 15:22 gee ’n beter manier om sake te behartig en sê: “Planne misluk sonder beraadslaging.” Ja, een manier waarop jy jou ouers se optrede teenoor jou kan verander, is deur vir hulle te sê hoe jy voel.

Soek eerstens wat die Bybel die “regte tyd” noem (Spreuke 15:23, NAV). Die skrywer Clayton Barbeau stel voor: “Kies ’n tyd en ’n plek wanneer almal rustig en in ’n goeie bui is.” Die Bybel waarsku verder: “’n Krenkende woord laat die toorn opkom” (Spreuke 15:1). Probeer dus om vriendelik en eerbiedig in jou benadering te wees, nie aggressief nie. Moenie jou humeur verloor nie (Spreuke 29:11). In plaas van jou ouers aan te val (‘Julle blameer my altyd vir alles!’), moet jy probeer verduidelik hoe jy voel omdat hulle jou voortdurend blameer. (‘Ek voel sleg oor myself wanneer ek vir dinge blameer word wat nie my skuld is nie.’)—Vergelyk Genesis 30:1, 2.

Dieselfde kan gesê word vir daardie tye wanneer jou ouers kwaad is weens een of ander misverstand. Toe Jesus nog jonk was, het sy ouers eenkeer ontsteld geword toe hulle nie geweet het waar hy was nie. Maar Jesus het nie geneul of gekla nie. Hy het die situasie kalm verduidelik (Lukas 2:49). Probeer gerus om op ’n volwasse manier teenoor jou ouers op te tree wanneer jy in die moeilikheid is. Jy moet besef dat hulle ontsteld is omdat hulle vir jou omgee! Luister eerbiedig (Spreuke 4:1). Wag totdat hulle bedaar het voordat jy jou kant van die saak probeer verduidelik.

‘Stel op die proef wat jou eie werk is’

Maar wat is die eintlike rede waarom sommige ouers geneig is om haastig verkeerde gevolgtrekkings oor hulle kinders te maak? Om eerlik te wees, kinders gee hulle ouers partykeer rede tot agterdog. Spreuke 20:11 (NAV) sê: “Selfs ’n jongmens word geken aan wat hy doen, uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is.” Watter soort reputasie het jy by jou ouers opgebou? Het jou “optrede” getoon dat jy “opreg” en ernstig of agterlosig en onverantwoordelik is? As laasgenoemde waar is, moet jy nie verbaas wees as hulle dikwels haastig verkeerde gevolgtrekkings oor jou maak nie. “Ek moes eerlik met myself wees”, het Ramon, die jong man wat vroeër genoem is, oor sy ouers se kritiek erken. “Soms was daar seker rede vir hulle agterdog.”

As dit so is in jou geval, sal jy dalk nie anders kan as om jou verlede met goeie gedrag ongedaan te probeer maak nie. As jy ’n patroon van betroubare en verantwoordelike gedrag opbou, sal jy jou ouers dalk geleidelik kan oortuig dat jy veranderinge aangebring het en vertrou kan word.

Ramon se ondervinding lig hierdie punt toe. Sy vriende en familie het hom goedig die verstrooide professor genoem omdat hy geneig was om dinge te vergeet. Het jou ouers jou as “onvolwasse” of “onverantwoordelik” bestempel? Deur hulle kinders te kategoriseer, sê skrywer Kathleen McCoy, dink ouers dalk dat hulle hierdeur sal “uitwys wat verkeerd is sodat die tiener sy foute kan sien en kan verander”. Maar in werklikheid veroorsaak sulke name dikwels diepe gegriefdheid. Ramon het nogtans besef dat die bynaam ’n geldige punt gestel het. “My verstand was altyd op een ding gerig, en daarom het ek dinge soos sleutels of my huiswerk verloor en vergeet van werk wat ek moes doen”, erken hy.

Ramon het dus veranderinge begin aanbring. “Ek het oor verantwoordelikhede en prioriteite begin leer”, sê hy. “Ek het ’n rooster opgestel en persoonlike Bybelstudie ernstiger begin opneem. Ek het geleer dat Jehovah klein sowel as groot dinge belangrik ag” (Lukas 16:10). Deur Bybelbeginsels toe te pas, het Ramon uiteindelik nie meer die reputasie gehad dat hy vergeetagtig is nie. Jy kan gerus dieselfde probeer doen. En as ’n bynaam jou werklik pla, moet jy dit met jou ouers bespreek. Miskien sal hulle verstaan hoe jy voel.

Wanneer dit na voortrekkery lyk

Soms lyk dit of voortrekkery die rede is waarom jy vir dinge blameer word. Ramon sê: “My ouer broers of susters het soms laat by die huis gekom en is nie gestraf nie. As ek laat gekom het, was ek in die moeilikheid.” ’n Guyanese man met die naam Albert onthou dat hy soortgelyke gevoelens gehad het toe hy opgegroei het. Dit het vir hom gelyk of sy ma hom strenger as sy broer gedissiplineer het.

Maar dinge is nie altyd soos wat dit voorkom nie. Ouers gee ouer kinders dikwels groter vryheid, nie weens voortrekkery nie, maar bloot omdat hulle voel dat hulle verantwoordelik sal optree. Of daar is dalk spesiale omstandighede wat in ag geneem moet word. Albert erken dat sy broer nie pak gekry het nie omdat hy “klein en sieklik” was. Is dit voortrekkery as ’n ouer die spesiale behoeftes of beperkinge in ag neem wat ’n sekere kind dalk het?

Soms het ouers natuurlik hulle witbroodjies. (Vergelyk Genesis 37:3.) Albert sê oor sy sieklike broer: “Ma het ’n teer plekkie vir hom gehad.” Gelukkig is Christelike liefde ruim (2 Korintiërs 6:11-13). Selfs as jou ouers dus ’n “teer plekkie” vir een van jou broers of susters het, beteken dit nie dat daar geen liefde oor is vir jou nie. Die eintlike kwessie is: Behandel hulle jou onredelik deur jou te blameer weens blinde liefde vir ’n broer of suster? As dit lyk of dit die geval is, moet jy beslis vir hulle sê hoe jy voel. Jy moet op ’n kalm en redelike wyse vir hulle spesifieke voorbeelde gee van hoe jy meen hulle voortrekkery geopenbaar het. Miskien sal hulle luister.

Probleemgesinne

Nie alle situasies is natuurlik maklik om te verander nie. Vir sommige ouers is dit ’n ingewortelde gewoonte om hulle kinders skaam te laat voel en te beskuldig. Dit kan veral die geval wees onder ouers met emosionele probleme of wat verslawing probeer oorkom. Onder sulke omstandighede sal jy dalk nie veel bereik as jy die saak probeer uitpraat nie. As dit lyk of dit in jou geval so is, moet jy besef dat jou ouers se probleme buite jou beheer is en waarskynlik net met hulp van buite opgelos kan word. Die meeste wat jy moontlik sal kan doen, is om hulle gepaste eer en respek te gee en onnodige konflik te probeer vermy (Efesiërs 6:1, 2). Spreuke 22:3 sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom.”b

Kry terselfdertyd ondersteuning van buite. Praat met ’n ryp volwassene, miskien ’n Christen- ouer man. Liefdevolle aandag van so iemand kan jou baie help om die gevoel teë te werk dat jy altyd die skuld dra vir dinge. Kom terselfdertyd “nader aan God” (Jakobus 4:8). Terwyl ander jou dalk verkeerdelik sal blameer, “sal [God] ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. . . . Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Psalm 103:9, 14, NAV). Die wete dat jy kosbaar in God se oë is, kan jou help om onregverdige blaam te verduur.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom is dit altyd my skuld?” in ons nommer van 22 Julie 1997.

b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek uitskellery verwerk?” in ons nommer van 8 Junie 1989. Sien ook die reeks “Van woorde wat seermaak tot woorde wat heel”, in die Ontwaak! van 22 Oktober 1996.

[Prent op bladsy 21]

As ons ons foute erken, help dit ons om daaruit te leer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel