Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/22 bl. 4-6
  • Waarom kinders goeie soldate maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom kinders goeie soldate maak
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle waarde as soldate
  • Werwing en voorbereiding
  • Terugkeer tot ’n normale lewe
  • Kleingewere, groot probleme
    Ontwaak!—2001
  • Kinders in ’n krisis
    Ontwaak!—1999
  • Wanneer die kinderjare ’n nagmerrie is
    Ontwaak!—1994
  • Kinders in ’n krisis
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/22 bl. 4-6

Waarom kinders goeie soldate maak

HET JY IEMAND DOODGEMAAK? “Nee.”

HET JY ’N GEWEER GEHAD? “Ja.”

HET JY DIE GEWEER OP IEMAND GEMIK? “Ja.”

HET JY DIT AFGEVUUR? “Ja.”

WAT HET GEBEUR? “Hulle het net geval.”—World Press Review, Januarie 1996.

HIERDIE ysingwekkende gesprek tussen ’n maatskaplike werker en ’n kindersoldaat in Afrika openbaar die verwarring in ’n jong verstand wat sukkel om die verlede te aanvaar.

In onlangse jare, in 25 lande, het kinders onder die ouderdom van 16 aan die gevegte deelgeneem. Gedurende 1988 alleen het ongeveer 200 000 kinders aktief aan oorloë deelgeneem. Omdat kindervegters deur volwassenes gemanipuleer is, is hulle ook slagoffers.

Hulle waarde as soldate

In die verlede, toe leërs met spiese en swaarde geveg het, het ’n kind nie veel van ’n kans gehad om in ’n geveg teen ’n volwassene met ’n soortgelyke wapen te oorleef nie. Maar ons lewe in ’n era van liggewig wapens. Vandag is ’n kind wat toegerus is met ’n aanvalsgeweer—’n Sowjet-vervaardigde AK-47 of ’n Amerikaans-vervaardigde M16—opgewasse teen ’n volwassene.

Hierdie wapens is nie net lig nie, maar ook maklik om te gebruik en in stand te hou. ’n AK-47 kan deur ’n tienjarige uitmekaargehaal en weer aanmekaargesit word. Daar is ook baie van hierdie gewere. Ongeveer 55 miljoen AK-47’s is al verkoop. In een Afrikaland kos hulle net R26. M16-gewere is ook volop en goedkoop.

Benewens die feit dat kinders aanvalsgewere kan hanteer, is hulle om ander redes waardevolle soldate. Hulle eis nie salarisse nie, en hulle loop selde weg. Bowendien het kinders ’n sterk begeerte om ouer mense te behaag. Hulle sin vir wat reg en verkeerd is, word oorskadu deur die begeerte om aanvaar te word deur watter bevrydingsgroep of guerrillaleër ook al hulle “gesin” geword het.

Baie van hulle is ook geneig om vreesloos te wees. ’n Militêre waarnemer in Wes-Afrika het verduidelik: “Aangesien [kinders] nie dieselfde begrip van die dood het as ouer soldate nie, sal hulle nie so maklik in hopelose situasies oorgee nie.” ’n Liberiese seun, wat die naam Kaptein Moordmasjien gehad het, het gespog: “Wanneer die groot mans omgedraai en gehardloop het, het ons, die klein seuns, gebly om te veg.”

Hoewel seuns goeie soldate maak, is dit ironies dat hulle gewoonlik beskou word as dié wat die maklikste opgeoffer kan word. Gedurende een oorlog in die Midde-Ooste is troepe kindersoldate beveel om voor die ander uit deur die mynvelde te gaan.

Werwing en voorbereiding

Party kinders sluit by leërs of rebellebewegings aan omdat hulle avontuur soek. Wanneer gevaar dreig en gesinne ontwrig word, bied ’n militêre eenheid ook ’n gevoel van veiligheid en word dit ’n plaasvervanger vir die gesin. Die Verenigde Nasies-kinderfonds sê: “Kinders wat met geweld om hulle grootgeword het, sien dit as ’n permanente lewenswyse. Omdat hulle alleen, wees, bang, verveeld en gefrustreerd is, sal hulle dikwels uiteindelik besluit om te veg.”

Ander kinders sluit by leërs aan omdat dit dalk lyk of daar geen beter keuse is nie. Partykeer, wanneer voedsel skaars is en gevaar dreig, kan dit lyk of hulle op geen ander manier aan die lewe kan bly as om by ’n leër aan te sluit nie.

Kinders kan hulleself partykeer sien as vegters vir maatskaplike geregtigheid, godsdiensoortuigings of kulturele identiteite. Kinders wat byvoorbeeld in Peru gedwing is om by guerrillagroepe aan te sluit, ondergaan lang tye van politieke indoktrinering. Maar baie maal is dit nie nodig nie. Brian Milne, ’n maatskaplike antropoloog wat kindersoldate in Suidoos-Asië bestudeer het, het gesê: “Kinders het nie ’n leer of ideologie nie. Hulle word bloot deur een van die kante ingesuig en aan die werk gesit.”

Ander kinders word weer gedwing om aan te sluit. In party oorloë in Afrika val faksies dorpies aan om kinders gevange te neem, wat dan die marteling en teregstelling van hulle eie gesinslede moet aanskou of daaraan moet deelneem. Partykeer word hulle gedwing om hulle ouers te skiet of hulle keel af te sny. As die seuns eers geterroriseer is, word hulle gebruik om ander te terroriseer. Hierdie mishandelde jongmense pleeg dikwels wrede dade wat selfs geharde volwasse soldate sou weier om te pleeg.

Terugkeer tot ’n normale lewe

Dit is nie vir sulke kinders maklik om by ’n lewe sonder geweld aan te pas nie. Die bestuurder van ’n sentrum vir kinders in ’n land in Wes-Afrika het gesê: “Die kinders wat ons behandel het, ervaar almal trauma in meerdere of mindere mate. Hulle het al verkrag, gemoor en gemartel. Die meeste van hulle is alkohol of dwelms gegee, meestal dagga, maar partykeer heroïen. . . . Jy kan jou indink watter verskriklike uitwerking sulke dinge op die verstand van kinders het, waarvan party net agt of nege jaar oud is.”

Die situasie is dieselfde in die naburige Liberië, waar tienduisende kinders gedurende hulle kinderjare die mense op die platteland geterroriseer het. Dit is nie vir tienderjarige majoors en generaals maklik om die status en mag wat ’n AK-47 hulle gee prys te gee nie. ’n Inwoner van Somalië het gesê: “As jy ’n vuurwapen het, het jy lewe. Geen vuurwapen, geen lewe nie.”

Dikwels kan kindervegters nie teruggaan huis toe nie weens weerwraak of verwerping deur hulle familie. ’n Kinderraadgewer in Liberië het gesê: “Ma’s sal vir ons sê: ‘Hou hom. Ons wil hierdie monster nie in ons huis hê nie.’”

Hoewel baie kinders die aanpassing gemaak het om ’n vreedsame lewe te lei, vereis dit baie liefde, ondersteuning en begrip van diegene om hulle. Dit is nie vir die kinders of hulle gesinne maklik nie. ’n Maatskaplike werker in Mosambiek verduidelik: “Vergelyk ’n lewe wat jou in staat stel om te vat net wat jy wil hê, om vir ander te sê wat om te doen, met jou lewe wanneer jy terugkom na die dorp toe. Veral as jy 17 jaar oud is en nie kan lees nie en geen vaardighede het nie. Jy word tot ’n lewe van verveling gedoem. Dit is baie moeilik om terug te keer na waar ander mense vir jou sê wat om te doen en om weer met graad 1 te begin.”

[Venster/Prent op bladsy 5]

Die 13-jarige Anwar woon in Afganistan. Hy was ’n veteraan van ses gevegte en het die eerste keer gedurende die sewende geveg iemand doodgemaak. Hy het twee soldate op kort afstand geskiet en toe met sy geweerkolf aan die liggame gestamp om seker te maak dat hulle dood is. Toe hy gevra is hoe hy oor die voorval voel, het Anwar verbaas gelyk oor die vraag. “Ek was bly omdat ek hulle doodgemaak het”, het hy gesê.

Gedurende dieselfde geveg het Anwar se medesoldate vier vyandelike soldate gevange geneem. Die gevangenes is toe vasgebind, geblinddoek en geskiet. Hoe het Anwar daaroor gevoel? Die jong vegter het sy een wenkbrou opgetrek en stadig en doelbewus geantwoord, asof hy iemand aanspreek wat onnosel is. “Ek was bly.”

[Venster/Prent op bladsy 6]

’n Gevangene in Wes-Afrika wat kort daarna vrygelaat sou word, was geboei, maar die militêre bevelvoerder het die sleutels verloor. Die bevelvoerder het die probleem opgelos deur ’n seunsoldaat te beveel om die gevangene se hande af te sny. “In my drome hoor ek nog die man se gille”, sê die seun. “Elke keer wat ek aan hom dink, voel ek spyt daaroor.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel