Verstaan wat artritis is
“SAANS KYK EK NA MY MISVORMDE VOETE EN HANDE, EN EK HUIL.”—MIDORI, JAPAN.
ARTRITIS teister mense al eeue lank. Egiptiese mummies getuig daarvan dat die siekte eeue gelede bestaan het. Die ontdekkingsreisiger Christophorus Columbus het blykbaar daaraan gely. En miljoene word vandag daardeur geteister. Presies wat is hierdie aftakelende siekte?
Die woord “artritis” kom van Griekse woorde wat “ontsteekte gewrigte” beteken en word geassosieer met ’n groep van meer as 100 rumatiese siektes en aandoenings.a Hierdie siektes kan die gewrigte sowel as die spiere, bene, senings en ligamente wat die gewrigte ondersteun, aantas. Party vorme van artritis kan jou vel, inwendige organe en selfs jou oë beskadig. Kom ons kyk na twee siektes wat gewoonlik met artritis geassosieer word—rumatoïede artritis (RA) en osteoartritis (OA).
Samestelling van die gewrig
’n Gewrig is die punt waar twee bene verbind is. ’n Sinoviale gewrig word deur ’n sterk kapsule omsluit wat dit beskerm en ondersteun. (Sien illustrasie op bladsy 4.) Die gewrigskapsule word deur ’n sinoviale membraan uitgevoer. Hierdie membraan skei ’n smeervog af. Binne die gewrigskapsule word die twee beeneindpunte deur ’n gladde elastiese bindweefsel bedek wat as kraakbeen bekend staan. Dit voorkom dat die bene teen mekaar vryf of skuur. Kraakbeen dien ook as ’n skokbreker wat ’n buffer om die beeneindpunte vorm en stremming eweredig oor die bene versprei.
Wanneer jy byvoorbeeld loop, hardloop of spring, kan die druk wat op jou heupe en knieë geplaas word, vier tot agt keer jou liggaamsgewig wees! Hoewel die meeste van die impak deur die omringende spiere en senings geabsorbeer word, help die kraakbeen dat die bene hierdie vrag kan dra deurdat dit soos ’n spons saamgepers word.
Rumatoïede artritis
In die geval van rumatoïede artritis (RA) loods die liggaam se immuunstelsel ’n volskaalse aanval op die gewrigte. Om die een of ander onbekende rede stroom ’n groot hoeveelheid bloedselle—waaronder T-selle, wat ’n hoofrol in die liggaam se immuunstelsel speel—in die gewrigsholtes in. Dit sit ’n reeks chemiese reaksies aan die gang wat veroorsaak dat die gewrig ontsteek word. Die sinoviale selle begin onbeheers vermenigvuldig en vorm ’n gewasagtige weefselmassa wat ’n pannus genoem word. Die pannus stel op sy beurt vernietigende ensieme vry wat die kraakbeen vernietig. Beenoppervlakke sal dan moontlik teen mekaar vassteek, wat beperkte beweeglikheid—en ondraaglike pyn—tot gevolg het. Hierdie vernietigende proses verswak ook die ligamente, die senings en die spiere, sodat die gewrig onstabiel en gedeeltelik uit lit raak, wat dikwels tot misvorming lei. Gewoonlik versprei RA weerskantig na die gewrigte en tas die polse, knieë en voete aan. Meer as 50 persent van die mense wat met RA gediagnoseer is, ontwikkel ook knobbels of knoppe onder die vel. Party ontwikkel bloedarmoede en droë, seer oë en keel. Tamheid en simptome wat soortgelyk is aan dié van griep, waaronder koors en seer spiere, gaan met RA gepaard.
Die uitwerking, aanvang en duurte van RA-gevalle wissel grootliks. Een persoon sal die pyn en styfheid miskien geleidelik oor ’n tydperk van weke en selfs jare begin voel. ’n Ander sal dit dalk skielik begin voel. Sommige mense ly ’n paar maande aan RA en dan verdwyn dit sonder enige opmerklike skade. Ander vind weer dat die simptome met tye vererger wanneer die siekte skielik terugkom en dat remissieperiodes daarop volg waartydens hulle beter voel. En by sommige pasiënte bly die siekte jare lank aktief, terwyl misvorming meedoënloos voortduur.
Wie loop gevaar om RA op te doen? “Dit kom die meeste onder middeljarige vroue voor”, sê dr. Michael Schiff. Maar Schiff sê verder dat “enigiemand op enige ouderdom dit kan opdoen, wat kinders sowel as mans insluit”. Vir diegene met familielede wat rumatoïede artritis het, is die risiko groter. Verskeie studies dui ook aan dat die rookgewoonte, vetsug en ’n geskiedenis van bloedoortappings almal vername risikofaktore is.
Osteoartritis
“Osteoartritis”, sê die Western Journal of Medicine, “is in baie opsigte soos die weer—dit is alomteenwoordig, word dikwels nie opgemerk nie en het soms verreikende gevolge.” Anders as RA versprei osteoartritis (OA) selde na ander liggaamsdele toe, maar konsentreer sy verwerende uitwerking op een of net ’n paar gewrigte. Namate die kraakbeen stadig verweer, begin been teen been skuur. Dit gaan gepaard met benige uitgroeisels wat osteofiete genoem word. Siste kan vorm, en die onderliggende been verdik en raak misvorm. Ander simptome is knobbelrige kneukels, skuur- en krakerige geluide afkomstig van die artritiese gewrigte en spierspasmas, asook pyn, styfheid en verlies van beweeglikheid.
In die verlede was dit die mening dat OA maar net deel van bejaardheid is. Maar deskundiges het daardie lank gehuldige opvatting verwerp. The American Journal of Medicine sê: “Daar is geen bewys dat ’n normale gewrig, wat aan gewone stremming blootgestel word, heeltemal sal verweer in iemand se leeftyd nie.” Wat is dan die oorsaak van osteoartritis? Volgens die Britse tydskrif The Lancet word pogings om die presiese oorsaak daarvan te verstaan, “deur allerlei twispunte bemoeilik”. Party navorsers voer aan dat skade aan ’n been, soos haarfyn breuke, dalk eers opgedoen word. Dit kan dan veroorsaak dat benige uitgroeisels vorm en dat die kraakbeen verweer. Ander dink dat OA in die kraakbeen self begin. Hulle meen dat die druk op die onderliggende been toeneem namate die kraakbeen verweer en verbrokkel. Patologiese veranderinge vind plaas terwyl die liggaam die beskadigde kraakbeen probeer herstel.
Wie loop gevaar om OA op te doen? Hoewel ouderdom nie die enigste oorsaak van OA is nie, is die verbrokkeling van gewrigskraakbeen algemener onder ouer mense. Ander wat gevaar loop, sluit moontlik mense in wie se gewrigsoppervlakke nie heeltemal reg inmekaarpas nie of wat swak been- en dyspiere het, wie se bene nie ewe lank is nie of wie se ruggraat wanbelyn is. ’n Gewrig wat beseer is weens ’n ongeluk of weens werk waarin herhaalde bewegings ’n gewrig ooreis, kan ook tot osteoartritis aanleiding gee. Wanneer verwering begin, kan dit die OA vererger as ’n mens oorgewig is.
Dr. Tim Spector sê: “Osteoartritis is ’n komplekse siekte wat deur besliste eksterne risikofaktore beïnvloed word, maar daar is ook ’n sterk genetiese verband.” Middeljarige en bejaarde vroue met ’n familiegeskiedenis van OA is veral vatbaar vir die siekte. Anders as in die geval van osteoporose, word OA voorafgegaan deur ’n hoë en nie ’n lae beendigtheid nie. Party navorsers gee ook die skade wat veroorsaak word deur vrye radikale wat uit suurstof vrygestel word en ’n tekort aan vitamiene C en D as faktore aan.
Behandeling
Die behandeling vir artritis behels gewoonlik ’n kombinasie van medikasie, oefening en verandering in lewenstyl. ’n Fisioterapeut kan ’n terapeutiese oefenprogram aanbeveel. Dit sal moontlik mobiliserings-, isometriese, aërobiese en isotoniese of gewigdraende oefeninge insluit. Daar is al bewys dat hierdie oefeninge verligting bied vir baie van die simptome, onder meer gewrigspyn en -swelling, tamheid, ongesteldheid en neerslagtigheid. Die voordele van oefening word selfs gesien by mense wat redelik oud is. Oefening kan ook ’n verlies van beendigtheid beperk. Party voer aan dat ’n mate van pynverligting ook al verkry is deur verskeie soorte hitte- en kouebehandelings en deur akupunktuur.b
Omdat gewrigspyn grootliks verminder kan word as ’n mens gewig verloor, kan jou dieet ’n groot rol speel in die verligting van artritis. Sommige beweer ook dat ’n dieet wat kalsiumryke voedselsoorte insluit soos donkergroen blaargroente, vars vrugte en kouewatervisse wat ryk is aan omega 3-vetsure—en waarin verwerkte voedselsoorte en versadigde vette beperk word—nie net kan help om gewig te verloor nie, maar ook om pyn te verminder. Hoe? Party sê dat so ’n dieet die ontstekingsproses teëhou. Daar word ook beweer dat diëte sonder enige vleis, melkprodukte, koring en groente wat tot die nagskadefamilie behoort, soos tamaties, aartappels, rissies en eiervrug, ook in party gevalle gehelp het.
Soms word ’n chirurgiese prosedure aanbeveel wat ’n artroskopie genoem word. In hierdie prosedure word ’n instrument reg in die gewrig geplaas, sodat ’n chirurg die sinoviale weefsel kan verwyder wat die vernietigende ensieme vrystel. Maar hierdie prosedure is nie so doeltreffend nie, aangesien ontsteking dikwels weer voorkom. ’n Selfs drastieser prosedure is artroplastiek, waarin die hele gewrig (gewoonlik ’n heup of ’n knie) met ’n kunsgewrig vervang word. Hierdie operasie hou tussen 10 en 15 jaar en is dikwels hoogs doeltreffend om ’n einde aan die pyn te maak.
Korter gelede het dokters minder ingrypende behandelingsmetodes probeer, soos viskoaanvulling, waar hialuronsuur direk in ’n gewrig ingespuit word. Dit word meestal gebruik om knieë te behandel. Middels wat ingespuit word om die herstel van kraakbeen te stimuleer (chondrobeskermende agense), was volgens Europese studies ook in sekere mate suksesvol.
Al is daar nog geen middel om artritis te genees nie, help talle geneesmiddels om die pyn en ontsteking te verminder, en dit lyk of sommige die vordering van die siekte kan vertraag. Pynstillers sowel as kortikosteroïedbehandeling, niesteroïedale anti-inflammatoriese middels (NSAIM’s), siektewysigende antirumatiese middels (SWARM’s), immuunonderdrukkers, middels wat biologiese reaksies wysig en middels wat geneties gemanipuleer is om immuunreaksies te onderdruk, is alles metodes wat gebruik word om verligting te voorsien van die aftakelende simptome van artritis. Maar verligting kom dalk teen ’n hoë prys, aangesien al hierdie soorte geneesmiddels ernstige newe-effekte tot gevolg kan hê. Dit bied ’n uitdaging vir die pasiënt sowel as die dokter om die potensiële voordele en risiko’s teen mekaar op te weeg.
Wat het sommige wat die aftakelende gevolge van artritis ervaar het, in staat gestel om met hierdie pynlike siekte saam te leef?
[Voetnote]
a Dit sluit in osteoartritis, rumatoïede artritis, sistemiese lupus eritematose, rumatoïede artritis by kinders, jig, bursitis, rumatiekkoors, Lyme-siekte, karpale tonnelsindroom, fibromialgie, Reiter-sindroom en ankiloserende spondilitis.
b Ontwaak! staan nie enige terapie, geneesmiddel of chirurgiese prosedure voor nie. Elke lyer het die verantwoordelikheid om enige behandeling in die lig van bekende feite te ondersoek en dit noukeurig te oorweeg.
[Lokteks op bladsy 6]
VETSUG, DIE ROOKGEWOONTE EN ’N GESKIEDENIS VAN BLOEDOORTAPPINGS KAN DIE RISIKO VERGROOT DAT ’N MENS RUMATOÏEDE ARTRITIS ONTWIKKEL
[Venster/Prent op bladsy 8]
ALTERNATIEWE TERAPIEË
Sommige terapeutiese agense is na mening veiliger en het minder newe-effekte as konvensionele behandelingsmetodes. Hieronder tel mondelikse tipe II-kollageen, wat volgens party navorsers gehelp het om die swelling van gewrigte en pyn by rumatoïede artritis (RA) te verminder. Hoe? Deur die werking van proinflammatoriese en vernietigende sitokiene, naamlik interleukien 1 en tumornekrose faktor α, te onderdruk. ’n Paar natuurlike voedingstowwe het na bewering ook die vermoë om die werking van hierdie selfde vernietigende elemente tot ’n mate te onderdruk. Dit sluit in vitamien E, vitamien C, nikotienamied, visolies wat ’n hoë eikosapentanoësuur- en gammalinoleensuurinhoud het, komkommerkruidsaadolie en nagblomolie. In China word Tripterygium wilfordii, ’n kruiemiddel, al jare lank gebruik. Na wat berig word, het dit tot ’n mate gehelp om die gevolge van RA te verminder.
[Diagram op bladsy 4, 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GESONDE GEWRIG
SLYMBEURS
SPIER
KRAAKBEEN
SENING
GEWRIGSKAPSULE
SINOVIALE MEMBRAAN
SINOVIALE VOG
BEEN
GEWRIG MET RUMATOÏEDE ARTRITIS
VERNOUING VAN GEWRIGSRUIMTE
VERNIETIGING VAN BEEN EN KRAAKBEEN
ONTSTEEKTE SINOVIALE MEMBRAAN
GEWRIG MET OSTEOARTRITIS
LOS STUKKIES KRAAKBEEN
VERNIETIGING VAN KRAAKBEEN
BEENUITSTEEKSEL
[Erkenning]
Bron: Arthritis Foundation
[Prente op bladsy 7]
Mense van enige ouderdom kan artritis opdoen
[Prente op bladsy 8]
’n Oefenprogram en die regte dieet kan ’n mate van verligting bring