Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 3/8 bl. 14-18
  • Die raaisel van cahokia

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die raaisel van cahokia
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Beskermde geskiedkundige terrein
  • Waarom hier?
  • Die lewe en opvattings van die Cahokiane
  • ’n Toer van die heuwels
  • Monnikeheuwel—Waarom so spesiaal?
  • Wat het van die Cahokiane geword?
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Termiethoop-ventilasie
    Ontwaak!—2008
  • Newgrange—Meer vrae as antwoorde?
    Ontwaak!—2001
  • Die piramides van Mexiko
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 3/8 bl. 14-18

Die raaisel van cahokia

WATTER name kom by jou op wanneer jy aan geskiedkundige stede dink? Rome, Londen, Parys? Wat van Cahokia? ‘Cahokia?’ vra jy dalk. Ja, Cahokia—wat in Illinois, 13 kilometer oos van St. Louis, Missouri, VSA, geleë is.a Hierdie groot, hoogs ontwikkelde en goed beplande stad was 500 jaar lank ’n uitstaande Indianestad. Toe die beskawingspeil van Cahokia op sy hoogste was, om en by 1150 G.J., was dit groter as Londen en Rome van daardie tyd.

Cahokia het meer as 13 vierkante kilometer beslaan en was volgens een bron “ongetwyfeld die grootste prehistoriese stad noord van Mexiko” (Encyclopedia of North American Indians). Ook is daar al langs die vallei van die Mississippirivier oorblyfsels van grondheuwels—stille herinneringe aan ’n florerende beskawing wat vroeër hier bestaan het. Trouens, St. Louis self het die bynaam Heuwelstad gehad voordat stadsuitbreiding die 26 heuwels binne sy grense platgevee het.

’n Beskermde geskiedkundige terrein

Sommige Indiane beskou Cahokia as die plek waar baie stamme hulle oorsprong gehad het. Die boek The Native Americans sê dat “afstammelinge van die Mississippiese heuwelbouers die Chickasaw, die Seminole en die Choctaw geword het”. ’n Ander bron sê dat hulle die voorouers van die Creek, die Cherokee, die Natchez en ander was.

Daar was oorspronklik 120 grondheuwels in Cahokia. Maar ná baie jare van boerdery en stadsuitbreiding in die gebied is daar nou net 80 oor, waarvan 68 binne die grense van die huidige terrein van 890 hektaar lê.

Cahokia word sedert 1925 as ’n geskiedkundige terrein van die staat Illinois beskerm. En in 1982 het die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur die Cahokia-heuwels ’n Wêrelderfenisgebied verklaar omdat dit so ’n belangrike bron van inligting is om die vroeë geskiedenis van Noord-Amerika te verstaan.

Waarom hier?

Die gebied om Cahokia is reeds in 700 G.J. deur Indiane van die Laat Woudland-kultuur bewoon. Maar die heuwels is eers sowat 200 jaar later gebou. Waarom is Cahokia hier gebou? Om dieselfde redes as wat St. Louis daar naby gebou is. Die terrein is naby die kruising van drie groot riviere—die Mississippi, die Missouri en die Illinois—op die vrugbare vloedvlakte wat geoloë die Amerikaanse Vlakte noem.

Die riviere en hulle sytakke was vol vis en migrerende watervoëls. In die omliggende woude was daar nie net timmerhout nie, maar ook wild, veral witsterttakbokke—’n vername bron van vleis. Ander hulpbronne, soos basalt, rooiklei, galeniet en graniet, het van die nabygeleë Ozark-plato gekom. En die aangrensende prêries het genoeg lang grassoorte voorsien om huise en ander geboue te bou vir ’n bevolking wat tot 20 000 of meer kon wees. Die vloedvlakte het ’n oorvloed oeste opgelewer, waaronder mielies, amarante, pampoene, skorsies en sonneblomme. Die Cahokiane kon ook pekanneute, okkerneute, braambessies en wildepruime oes. En die riviere het grootskaalse handel in alle rigtings moontlik gemaak. Seeskulpe uit die Golf van Mexiko, koper uit die Groot Mere-gebied in Noord-Amerika en mika uit die Appalachiese Gebergte is alles in Cahokia gevind.

Die lewe en opvattings van die Cahokiane

In die besoekersentrum by die terrein is ’n lewensgroot uitstalling wat die daaglikse bedrywighede in Cahokia uitbeeld, onder meer hoe takbokke afgeslag en mielies gemaal word. Kennis van mielieverbouing tesame met toegang tot ander natuurlike hulpbronne was die hoeksteen van Cahokia se beskawing.

’n Argeoloog het Cahokia as “’n Noord-Amerikaanse Jerusalem” beskryf, aangesien godsdiens blykbaar elke aspek van die samelewing beïnvloed het. ’n Ander bron sê dat “Cahokia gedurende sy bloeityd (1000-1150 n.C.) ’n hoogs gesentraliseerde teokrasie gehad het”. Artefakte wat hier ontdek is, toon dat die Cahokiane godsdiens en die samelewing as onafskeidbaar beskou het. Volgens die boek Cahokia—City of the Sun “was hulle wêreld een van teenstellings—donker en lig, orde en wanorde, die goeie wat beloon is en die kwaad wat gestraf is”.

Die Cahokiane het aan ’n hiernamaals geglo. Die dooies is dus met eerbetoon en dikwels met oordadige rituele begrawe, veral onder die elite. Party van hulle heuwels was grafte en het moontlik ’n soortgelyke rol gespeel as die piramides van die Egiptiese Farao’s.

’n Toer van die heuwels

Kom ons beskou die heuwels van naderby. Hoewel hulle grootte en vorm verskil, is hulle almal van grond gemaak, wat in mandjies na die heuwelbouterreine vervoer is. Na raming is altesaam sowat 1,5 miljoen kubieke meter grond so verskuif!

Daar is drie soorte heuwels: langwerpige rifheuwels, wat dalk bakens was, hoewel daar grafte in party is; keëlvormige heuwels, wat moontlik ook as grafte gebruik is, en platformheuwels, waarvan die hoogte wissel van omtrent een tot 30 meter en waarop geboue opgerig is. Tempels, raadsale of huise vir die elite is dikwels bo-op platformheuwels gebou.

Ons het eerste gaan kyk na Heuwel 72, wat bo-op drie kleiner grafheuwels gebou is. Dit is 43 meter lank, 22 meter breed en skaars 2 meter hoog. In vergelyking met ander heuwels is dit nie baie groot nie, maar dit het ’n ongelooflike skat van waardevolle artefakte opgelewer wat lig op Cahokia werp. In die heuwel was die graf van ’n man wat moontlik ’n vername leier was, te oordeel aan die byna 20 000 skulpkrale van die Golf van Mexiko wat onder hom uitgesprei was. Daarbenewens is grafoffers saam met hom begrawe, onder meer 800 pylpunte, 15 holronde stene wat in Indiane-speletjies gebruik is, ’n groot hoop mika en ’n rol koper. Sowat 300 ander mense, meestal jong vroue, is ook hier begrawe—talle dalk as menseoffers.

Monnikeheuwel—Waarom so spesiaal?

Kom ons ry nou noord oor Cahokia se sentrale stadsplein na Monnikeheuwel, wat vernoem is na die Trappistemonnike wat in die vroeë 1800’s hier naby gewoon en op die heuwel tuingemaak het. Dit is die grootste heuwel in Cahokia en het die vorm van ’n afgeplatte piramide, maar met vier terrasse op verskillende vlakke. Daar was tot 14 boufases, en dit is na bewering tussen 900 en 1200 G.J. gebou. Die heuwel se basis beslaan meer as ses hektaar, “wat groter is as dié van enige piramide in Egipte of Mexiko”. Die heuwel is 30 meter hoog en meer as 300 meter lank, wat dit die grootste pre-Columbiaanse struktuur in die Westelike Halfrond maak wat met grond gebou is. Aan die suidekant van Monnikeheuwel is ’n lang opgang wat na die plat terrasse lei. Opgrawings toon dat daar waarskynlik trappe op hierdie opgang was.

Niemand van die burgerstand is toegelaat om met hierdie trappe tot bo te klim nie. Heel bo was ’n groot gebou—die woning van Cahokia se heerser, ’n hoofman wat as die Groot Son bekend gestaan het. “Daar het die hoofman en sy priesters waarskynlik godsdiensrituele en administratiewe pligte uitgevoer, oor hulle gebied uitgekyk en gesante uit die agterlande verwelkom”, sê Cahokia—City of the Sun. Vanaf hierdie uitkykpunt kon die hoofman ook ’n ogie hou oor die verskillende gemeenskapsgeboue daaronder, insluitende raadsale, graanskure, geboue waar voedsel geberg is, sweetgeboutjies, lykshuise en die inwoners se huise.

Die hoofman kon ook die verskansing om die stad en al sy uitkyktorings nagaan. Die drie kilometer lange verskansingsmuur is drie keer herbou, en elke keer is tot 20 000 bome gebruik. Party argeoloë meen dat dit ’n sosiale skeidsmuur was. Maar dit is waarskynlik ook vir verdediging gebou. Maar wie die Cahokiane se vyande kon wees, is ’n raaisel.

Wat het van die Cahokiane geword?

Daar is nog iets wat ’n raaisel bly. Teen 1500 G.J. was Cahokia verlate. Wat het gebeur? Daar is baie teorieë. Bewyse wat tot dusver opgegrawe is, toon geen tekens van ’n epidemie, ’n inval of ’n natuurramp nie. Miskien het ’n kombinasie van faktore, waaronder klimaatsveranderinge en ontbossing, tot droogte, honger en maatskaplike oproer gelei.

Sommige wetenskaplikes meen dat Cahokia dalk met dieselfde maatskaplike probleme as moderne stede te kampe gehad het—besoedeling, oorbevolking, onvoldoende afvalverwerking en miskien selfs burgertwis. Maar aangesien die Cahokiane nie hier is om hulle lewenswyse te beskryf nie, is daar nog baie onopgeloste raaisels.

[Voetnoot]

a Die naam Cahokia is gedurende die 1800’s aan die terrein gegee. Party meen dat die woord “stad van die son” beteken. Ander deskundiges meen dat dit “wilde ganse” beteken. Daar is geen geskrewe verslae om te toon wat die plaaslike mense hulle of hulle stad genoem het nie.

[Venster/Prente op bladsy 14, 15]

HOE HET CAHOKIA ONTSTAAN?

Daar word baie bespiegel oor die oorsprong van die Cahokia-beskawing, en deskundiges verskil oor die antwoord. Francis Jennings, afgetrede hoof van die Newberry-biblioteek se Sentrum vir Indianegeskiedenis, is oortuig dat vroeë nedersetters uit Midde-Amerika hulle mielies en hulle boukuns na die Mississippivallei gebring het. Hy skryf: “Die nedersetters het blykbaar deur hulle handelsbedrywighede die inheemse stamme in die Mississippivallei in so ’n mate oorheers dat dit op die kaart baie soos ’n ryk lyk. Hulle het die gebruik om afgeplatte piramides te bou en om tempels en administratiewe geboue bo-op die boonste platforms op te rig, van Midde-Amerika af gebring.”

Maar Jennings erken dat daar nog baie onsekerheid is. “Argeoloë is dit nie eens dat die Mississippiërs in werklikheid nedersetters uit Mexiko was nie, en hulle bespiegel baie oor die saak, maar kom nie met ’n geloofwaardige alternatief vorendag nie.”

George E. Stuart sê in sy boek Ancient Pioneers—The First Americans: “Vir baie argeoloë en kunsgeskiedkundiges dui die platformheuwels, wat sorgvuldig om stadspleine gerangskik is”, en party erdeware, “op merkbare invloede, miskien indirek, uit Midde-Amerika—net soos die soorte mielies en boontjies wat op die terreine is.” Maar ’n saadjie van twyfel word gesaai wanneer hy sê: “Nie ’n enkele artefak wat beslis in Midde-Amerika vervaardig is, is al ooit in die Suidooste gevind nie.” Die raaisel is dus nog nie opgelos nie—wie het die inwoners van Cahokia beïnvloed? Was dit nedersetters uit Midde-Amerika? Miskien sal die tyd en argeologie eendag ’n antwoord voorsien.

[Prente]

Pylpunte en stene van Heuwel 72

[Venster/Prente op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

CAHOKIA SE STERREWAG

’n Ander unieke kenmerk van Cahokia is ’n aantal “volmaakte sirkels waar enorme pilare vroeër ewe ver uitmekaar op die oppervlaktes gestaan het” (Die tydskrif National Geographic, Desember 1972). Dit is al woodhenges genoem omdat dit soortgelyk is aan die antieke sonkalender van rotsblokke by Stonehenge in Engeland.

Een woodhenge is al gerestoureer. Dit bestaan uit 48 enorme rooisederpilare wat in ’n sirkel met ’n deursnee van 125 meter gerangskik is, en party meen dat dit as ’n sterrewag gedien het. Die pilare is “in lyn met die kompasstreke en is so opgestel dat ’n nege-en-veertigste pilaar buite die sirkel ’n waarnemer binne die sirkel in staat gestel het om die sonsopkoms tydens die dag-en-nag-ewenings en sonstilstande in 1000 n.C. waar te neem”.

Argeoloë kon die doel van net drie van die pilare vasstel. Een pilaar dui die dag-en-nag-ewenings aan, die eerste dag van lente en herfs, wanneer die son op dieselfde plek opkom. Die ander twee dui die eerste sonsopkoms van die wintersonstilstand en van die somersonstilstand aan. Die doel van die ander pilare is nog onbekend.

[Prent]

“Woodhenge”

[Erkenning]

Cahokia Mounds State Historic Site

[Prente]

Die sonsopkoms word begroet

’n Mark in Cahokia

Gemeenskapsbedrywighede

[Erkenning]

Drie skilderye in middel: Cahokia Mounds State Historic Site/Michael Hampshire

[Prent]

Kunstenaarsvoorstelling van Cahokia soos dit moontlik omstreeks 1200 G.J. gelyk het. Die stad het gedurende sy bloeityd ongeveer 20 000 inwoners gehad

1. Monnikeheuwel

2. Sentrale stadsplein

3. Tweelingheuwels

4. Verskansingsmuur

[Erkenning]

Cahokia Mounds State Historic Site/William R. Iseminger

[Kaarte op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Vergrote gebied

Illinoisrivier

Mississippirivier

Missouririvier

St. Louis

Cahokia-heuwels

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 15]

Kliptafel van die Cahokia-voëlman

[Prent op bladsy 17]

Langwerpige rifheuwel

[Prent op bladsy 17]

Keëlvormige heuwel

[Prent op bladsy 17]

Platformheuwel

[Prente op bladsy 18]

Cahokia-heuwels se inligtingsentrum

Monnikeheuwel

[Erkenning]

Foto’s bo en onder: Cahokia Mounds State Historic Site

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Alle foto’s: Cahokia Mounds State Historic Site

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel