Pasop vir die dodelike “seeperdeby”!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DIT was ’n pragtige someroggend in noordelike Queensland, Australië—’n volmaakte dag om in die soel water te swem en van die hitte weg te kom. Maar daardie oggend het die plaaslike radiostasie in Townsville herhaaldelik gewaarsku dat dodelike kubuskwalle, ’n soort jellievis, in die omgewing opgemerk is en dat enigiemand wat daardie dag gaan swem, versigtig moet wees.
’n Jong egpaar het nie hierdie waarskuwings oor die radio gehoor nie. Hulle het rustig in die blou water van die Stille Oseaan gesit waar dit maar sowat ’n halwe meter diep was, toe die vrou—wat 34 weke swanger was—skielik begin skreeu het. Sy het opgespring en verskeie tentakels van haar bobeen en maag probeer aftrek. Nadat haar man—wat ook deur die tentakels gebrand is—gespook het om haar tot op die strand te help, het hy inderhaas hulp gaan soek. Toe hy ’n paar minute later terugkeer, het dit gelyk of sy vrou reeds opgehou asemhaal het, en haar gesig en ledemate was al blou. Die jong vrou het dit gelukkig oorleef omdat mond-tot-mond-asemhaling onmiddellik toegepas is en ’n ambulans gou op die toneel was. Haar baba, wat ’n paar weke later gebore is, het dit ook oorleef.
Honderde baaiers word elke jaar deur kubuskwalle gebrand. ’n Paar het binne ’n minuut nadat die tentakels aan hulle geraak het, gesterf. Dit is dus geen wonder nie dat ’n kubuskwal of “seeperdeby” se verskyning somerbaaiers in ’n oogwink uit die see kan laat vlug! Sy bondel lang tentakels—40 tot 60 by groot spesies—kan gevaarlik wees.
Is daar enige voorsorgmaatreëls?
Party verkies om glad nie in die see te swem wanneer kubuskwalle in die omtrek is nie. Maar vir diegene wat dit wel gedurende die warmer maande in die water wil waag, is ’n vollengte duikpak dalk die beste manier om ’n pynlike ontmoeting te voorkom.
Baie strande in Noord-Australië word gereeld gepatrolleer, en wanneer kubuskwalle gesien word, word die meeste van hulle met nette gevang. Herhaalde waarskuwings word ook oor die plaaslike radiostasie uitgesaai. Ten spyte van hierdie voorsorgmaatreëls is daar altyd gevaar wanneer die kubuskwal begin trek. Hulle broei vermoedelik in gety-inhamme en -riviere uit. Wanneer hulle volwasse is, hou hulle blykbaar meer van strande.
Gelukkig is die brandwonde van die kubuskwal gewoonlik nie noodlottig nie. Baie hang af van hoeveel kontak daar met die tentakels was, hoeveel gif vrygestel is, hoe volwasse die kubuskwal is en die slagoffer se ouderdom en gesondheid. Nietemin kan die slagoffer binne ’n minuut nadat hy met die tentakels in aanraking was, weens hartversaking sterf as hy nie onmiddellik behandeling ontvang nie. Die rede hiervoor is dat die tentakels rye netelselle het wat soos pyltjies uitskiet wanneer dit met ander lewende wesens in aanraking kom. Dit is natuurlik hoe hulle hulle voedsel, soos garnale, jag.
Die kubuskwal het tot agt oë, wat, selfs as dit na die binnekant van sy deursigtige lyf gedraai is, ’n hindernis soos ’n mens of ’n roofdier kan raaksien. Dit beteken nie dat hierdie kwalle mense doelbewus aanval nie. Nee, want die kubuskwal beweeg om die hindernis as hy genoeg tyd het. Hy kan dit doen deur sy kubusvormige skerm te gebruik, wat soos ’n blaasbalk werk, om water in te trek en uit te stoot.
Die probleem is dat mense dikwels in die water inhardloop of daarin duik, wat die kubuskwal geen tyd gee om uit die pad uit te kom nie. En wanneer die tentakels met die mens se vel in aanraking kom, reageer dit onmiddellik—dit klou aan die vel vas en stel gif vry. Die slagoffer ervaar intense pyn. Die gif word deur etlike selle wat nematosiste genoem word, ingespuit en gou geabsorbeer. As die slagoffer hardloop of worstel, word die gif vinniger geabsorbeer. Nog ’n groot probleem is dat die tentakels, al breek hulle van die kwal af, aan die slagoffer se vel bly vaskleef, en as die slagoffer die tentakels probeer aftrek, stel dit meer gif vry.
’n Teenmiddel?
Ja, daar is ’n teenmiddel, en die onmiddellike toediening van die regte teenmiddel het al baie lewens gered. Jare lank is daar verkeerdelik gemeen dat die beste noodbehandeling om die vrystelling van die gif te vertraag, is om brandspiritus oor die tentakels wat aan die slagoffer vasklou, te gooi. Nuwe navorsing het egter aan die lig gebring dat brandspiritus eintlik die vrystelling van die gif stimuleer.
Daar word nou gemeen dat asyn—wat goedkoop en maklik verkrygbaar is—die beste vloeistof is om oor die tentakels te gooi. Asyn neutraliseer die nematosiste heeltemal en voorkom dat dit gif vrystel. Deesdae plaas die meeste plaaslike munisipaliteite in die gevaarsones dus bottels asyn op opvallende plekke—asook groot borde wat waarsku teen seekwalle.
Hoewel dit dus aangenaam, selfs verkwikkend, kan wees om in Australië se lou tropiese waters te swem, moet die swemmer op sy hoede wees tydens die kubuskwalseisoen!
[Venster/Prent op bladsy 27]
EENVOUDIGE VOORSORGMAATREËLS OM JOU TEEN KWALLE TE BESKERM
• Swem slegs by gepatrolleerde strande
• Dra ’n vollengte duikpak tydens die kubuskwalseisoen
• Hou ’n noodhulpstel, asook asyn, byderhand
• Moenie die tentakels probeer aftrek as jy gebrand word nie
• As die slagoffer se hart gaan staan of hy ophou asemhaal, moet mond-tot-mond-asemhaling onmiddellik toegepas word
[Prent op bladsy 26]
’n Naby foto van die kubuskwal se tentakels
[Erkenning]
Courtesy of Surf Life Saving Queensland