Ons beskou die wêreld
Babas met ’n oor vir musiek
“Selfs voordat babas leer praat, is dit duidelik dat hulle die vermoë het om op musiek te reageer”, sê die tydskrif Scientific American. Volgens die berig kan babas verskille in musikale tone sowel as veranderinge in die tempo en ritme van musiek agterkom. Hulle kan ook ’n melodie herken al word dit in ’n ander sleutel gespeel. Babas van net twee maande verkies harmoniese klanke bo onharmoniese klanke. “Peter Hepper van Queen’s-universiteit in Belfast”, sê die berig, “het gevind dat fetusse ongeveer twee weke voor geboorte kan onderskei tussen die temamusiek van [’n gewilde] TV-program wat hulle moeder weke lank elke dag gehoor het, en ’n nuwe liedjie wat hulle nie ken nie.”
Vrede in die motor en padveiligheid
Volgens die koerant Berliner Morgenpost waarsku die TÜV, ’n Duitse vereniging wat toesig hou oor tegniese sake, dat “argumente in ’n motor sover moontlik vermy moet word. Die bestuurder raak onwetend aggressiewer agter die wiel, wat die risiko van ’n ongeluk vergroot.” ’n “Krisissituasie” in ’n motor kan vinnig handuit ruk, sê die artikel, veral omdat daar nie plek in ’n motor is om jou te onttrek nie. Daarom word daar aanbeveel dat die insittendes sensitiewe onderwerpe vermy wat tot argumente kan lei. Dit sal goed wees as almal in die motor hulleself beskou as deel van ’n span met ’n gemeenskaplike doel. Die artikel stel voor: “Voordat julle vertrek, moet daar besluit word hoe die voorste passasier die bestuurder kan help om by julle bestemming uit te kom, die radio in te stel of moeilike situasies te hanteer.”
Die Swart See aan die herstel
Die Swart See het meer dolfyne, krappe en garnale—diere wat nie gewoonlik in besoedelde water lewe nie—as in die verlede, sê Demokratychna Ukraina, ’n Oekraïense koerant. Selfs die hawe van Odessa, wat gewoonlik beskou word as die mees besoedelde deel van die Swart See, het weer eens ’n wydverspreide seeperdjiebevolking. “Ekosisteme in die Swart See en die See van Azof is stadig maar seker besig om te herstel nadat dit lank siek was”, het Boris Aleksandrof, hoof van die Odessa-kantoor van die Suid-Seë se Biologie-instituut, gesê. Waarom herstel dit? “Met die ineenstorting van Kommunisme”, sê Science News, “het ekonomiese druk in Rusland, die Oekraïne, Moldowa, Roemenië en Bulgarye landboubesteding aan kunsmis skerp laat daal. In die 1990’s het nitraatafloop in die Swart See dus vinnig afgeneem.” Hoewel die verminderde gebruik van kunsmis die Swart See bevoordeel het, “is ekonomiese ineenstorting of ’n afname in landboubedrywighede ’n swak strategie om dooie sones [in die see] te bekamp”, sê Science News. Laurence Mee, ’n professor van mariene en kusbeleid aan die Universiteit van Plymouth, Engeland, stel ’n ander oplossing voor. Hy sê: “Ons moet leer om op landbougebied ’n bietjie slimmer te wees, sodat ons die afloop van hierdie voedingstowwe beperk.”
Natgelei met rioolwater
“Wêreldwyd word een tiende van alle plante wat ekonomiese waarde het, met rioolwater gekweek”, berig Der Standard, ’n Oostenrykse koerant. Alles van tamaties tot kokosneute word op dié manier gekweek. “Die rioolwater is meestal nie behandel nie, en dit vloei direk van megastede in die besproeiingstelsel in”, sê die koerant. Die koerant haal Chris Scott, van die Internasionale Waterbestuur-instituut in Sri Lanka, as ’n gesaghebbende aan en verduidelik: “In baie gebiede naby snelgroeiende megastede is dit die enigste manier om waterskaarstes die hoof te bied.” Wêreldwyd het boere wat sowat 20 miljoen hektaar landbougrond bewerk, nie veel van ’n keuse nie—rioolwater voorsien nie net gratis bemesting nie, maar is dikwels die enigste water wat beskikbaar of bekostigbaar is, sê die berig.
Handel in mense
“Na dwelms en wapens het die handel in mense die derde grootste bron van inkomste geword vir internasionale misdaadsindikate, wat hulle ongeveer 6 miljard tot 9 miljard dollar [R36 miljard tot R54 miljard] elke jaar in die sak bring”, berig die internasionale uitgawe van The Miami Herald. By ’n onlangse perskonferensie in Mexiko-stad het John Miller, die direkteur van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se Kantoor om Mensehandel te Monitor en te Bestry, vir joernaliste gesê dat sowat 17 500 mense per jaar in die Verenigde State ingebring word, waarvan een derde van of deur Mexiko kom. “Ek praat nie van onwettige immigrante nie, maar van mans, vroue en kinders wat deur ander gedwing word om soos slawe te lewe”, het Miller gesê. Hy het mensehandel vir seksuele uitbuiting en dwangarbeid “een van die belangrikste menseregtekwessies van die 21ste eeu” genoem.
Die son en swanger vroue
“In ’n studie van die vitamien D-vlakke van swanger vroue is daar gevind dat ’n onrusbarende aantal ’n gevaarlike tekort aan hierdie vitamien het, wat hulle ongebore babas in gevaar stel”, berig die Australiese koerant Sun-Herald. Babas wat ’n tekort aan vitamien D het, kan krom bene ontwikkel, stuipe kry en die beensiekte ontwikkel wat as ragitis bekend staan. In ’n studie onder 1 000 swanger vroue, wat by die St. George-hospitaal in Sydney gedoen is, is gevind dat “een uit 10 vroue met ’n ligte vel, en een uit vyf vroue met ’n donker vel, ’n tekort aan vitamien D het”. Die oplossing vir hierdie probleem is blykbaar eenvoudig. Mense vervaardig ongeveer 90 persent van die vitamien D wat hulle nodig het, deur blootstelling aan matige sonlig. “Die meeste vroue het net sowat 10 minute sonlig per dag of ongeveer een uur per week [nodig] om voldoende vitamien D te kry”, sê die koerant.
Sindroom onder atletiese vroue
Vroue wat dikwels uitermatig strawwe oefeninge doen, kan die risiko loop om osteoporose, eetversteurings en amenorree te ontwikkel—die onderbreking van die maandstondsiklus, het die Brasiliaanse koerant Folha berig. Turíbio Leite de Barros Neto, koördineerder van die Sentrum vir Liggaamlike en Sportgeneeskunde by die Universiteit van São Paulo, het gesê: “Ideaal gesproke moet ’n vrou 10 persent meer liggaamsvet as ’n man hê. Met ander woorde, sy behoort nie minder as 15 persent liggaamsvet te hê nie.” As ’n vrou minder vet as dit het, sal haar liggaam dit dalk moeilik vind om die hormone te vervaardig wat nodig is om haar maandelikse siklus te reguleer, en dit kan die kalsium in haar bene beperk, wat tot osteoporose lei, het Folha gesê.