Teedrinkery op die Chinese manier
HOE hou jy van jou tee? Waar ek grootgeword het, in Brittanje, is dit met melk en soms met suiker bedien en was dit ’n sterk, geurige treksel. Om die waarheid te sê, ons het ons ma geterg en gesê dat sy dit só sterk maak dat die lepel regop daarin sal kan staan! Die swarttee wat sy gebruik het, is Indiese tee genoem omdat dit van Indië of Sri Lanka af gekom het. In ons huis was daar ook ’n houer met Chinese tee, wat ook swart is, maar wat ’n ander geur en aroma het. Ek het self glad nie van tee gehou nie, al het my ma altyd ’n bietjie tee by my melk gegooi.
Later in my lewe is ek aan ’n heel ander soort tee bekend gestel. ’n Japannese vriend het my vir tee genooi. Hy het ’n liggroen tee in klein koppies sonder handvatsels bedien, maar dit het nie gesmaak soos die tee wat ek geken het nie. Hierdie tee was vir my lekker! Maar ’n vriendin wat saam met my was, het die gasheer geskok toe sy melk en suiker by haar tee gevra het! Ons gasheer het verduidelik dat Japannese tee nie so gedrink word nie. Toe ek later in Japan gewoon het, was ek baie bly dat vriende en besoekers altyd meer as genoeg Japannese tee bedien word.
Daarna het ek na Taiwan getrek. Ek het gewonder of die tee wat my ma bedien het, die drankie is wat die meeste Chinese sou verkies. Hoe bly was ek tog dat groentee ook in Taiwan gedrink word, al is die geur effens anders as dié van die tee wat in Japan geniet word. En dan is daar oelongtee, nog ’n ander soort, wat ook baie gewild is. Dalk wonder jy hoe hierdie drie heeltemal verskillende soorte tee geproduseer word, en waarom dit so verskillend smaak.
Waar tee vandaan kom
Tee, waarvan die wetenskaplike naam Camellia sinensis is, groei wild in China en Japan, en die bome is tot nege meter hoog. Jy het dalk al teen dié tyd uit die Latynse naam afgelei dat die pragtige kameliasierstruik (Camellia japonicus) met sy blink, donkergroen blare en mooi pienk, wit of rooi blomme na verwant is aan tee. Trouens, die Chinese naam vir die kamelia is tsja hua, wat “teeblom” beteken.
Maar waar kom tee, soos ons dit ken, vandaan? Volgens The Encyclopedia Americana verskyn die eerste betroubare vermelding van tee in die biografie van ’n Chinese amptenaar wat in 273 G.J. gesterf het, hoewel ’n werk onder redaksie van Confucius, wat van omtrent 551 tot 479 v.G.J. gelewe het, melding maak van ’n plant wat vermoedelik tee is. Die eerste Engelse verwysing na tee is in 1615 gemaak deur R. Wickham, ’n agent van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie. In die middel van die 18de eeu is ’n aansienlike hoeveelheid tee gekoop deur Thomas Garway, die eienaar van ’n Londense koffiehuis wat later as Garraway’s bekend gestaan het.
Tee word in baie verskillende wêrelddele gekweek. In 1826 het die Nederlanders tee na Java geneem en omstreeks 1836 het die Britte, wat beroemde teeliefhebbers is, tee na Indië geneem. Daarna, in die 1870’s, toe skimmel Sri Lanka se koffiebome uitgewis het, is teebosse in die plek daarvan geplant.
Teekwekery in Taiwan
Taiwan is nie ’n baie groot eiland nie, maar het nou ’n belangrike teeprodusent geword. Die bergagtige streek rondom Nant’ou is baie beroemd omdat tee van hoër gehalte op groter hoogtes groei. Kom gerus saam op ’n besoek aan een van die teegebiede in hierdie pragtige groen berge.
Ons besoek die Boerekoöperasie in LuGu (Hertvallei), waar daar ’n teemuseum is. Ons is heel verbaas om uit te vind dat oelongtee en groentee voor die drogingsproses gerol word. In die verlede is dit gedoen deur die tee in ’n sak toe te bind en dit dan met die voete te rol. Deesdae is daar natuurlik ’n masjien wat dié werk doen. Nou kan ons sien waarom ’n klein bietjie Chinese tee in ’n pot ooprol en die pot vol maak wanneer warm water bygevoeg word. Ons is baie verbaas wanneer ons uitvind dat goeie tee nogal duur is! Ons word ’n heerlike oelongtee bedien wat teen omtrent R650 per kilogram verkoop word. ’n Duurder tee kos moontlik R840, en ’n tee wat by ’n kompetisie ’n prys gewen het, kan tot R20 650 per kilogram haal.
Verskillende soorte tee
Vir die meeste Westerlinge is die gewildste soort tee nog steeds swarttee. Oosterse teedrinkers noem dit rooitee, weens die drankie se kleur. Hierdie tee word geproduseer deur die blare te laat verlep, dit te rol en dan ten volle te laat gis, waarna die blare gedroog word.
In die geval van die uiters gewilde oelongtee word die teeblare toegelaat om natuurlik te gis nadat dit gepluk en in groot, byna plat mandjies gepak is. Wanneer die verlangde vlak van gisting bereik is, word die blare in panne geroer teen ongeveer 120 grade Celsius. Dit laat die gistingsproses ophou. Die heerlike tee wat so gemaak word, word gedrink sonder enige melk, suiker of suurlemoen.
Die tee wat die minste gegis word, is groentee. In Japan, Indië en Sri Lanka word die blare met stoom gesteriliseer sodat dit so min as moontlik gis, terwyl die Chinese droë hitte vir dieselfde doel gebruik. Groentee word gedrink net soos dit uit die teepot kom!
Hoe die Chinese tee drink
Ons is uitgenooi om by die Tsai-gesin tee te drink. Die groot tafel is in werklikheid ’n skyf uit ’n pragtige boomstomp wat tot ’n baie hoë glans gepoleer is. Voor ons gasheer, Tsai Sjeng Hsien, staan ’n skinkbord met ’n elektriese warmplaat en ’n ketel. ‘Dis vreemd’, dink ons, ‘die teepot is beswaarlik sewe sentimeter hoog, en daar is twee soorte piepklein koppies wat reg staan om gebruik te word.’ Ons wonder waarom en vind spoedig uit. Kookwater word oor die teepot en die klein koppies gegooi en loop deur gaatjies in die binneste skinkbord waarop dit staan. Dan word die regte hoeveelheid tee ingesit, genoeg om die bodem van die teepot te bedek, en warm water word ook oor die teeblare gegooi. Die water word dan afgegiet en weggegooi. Die doel van hierdie stap, vertel ons gasheer vir ons, is om die teeblare te was en die geur “oop te maak”!
Nou word daar nog warm water in die teepot gegooi, en nadat ons gasheer die tee byna ’n minuut lank laat trek het, gooi hy alles in die teepot oor in ’n klein beker. Uit hierdie beker skink hy die warm tee in die langer, silindervormige “geur”-koppies, wat ’n deursnee van twee en ’n half sentimeter het. Hieruit word dit in die drinkkoppies oorgeskink deur die drinkkoppies bo-oor die geurkoppies te plaas en die koppies dan onderstebo te keer. Dan sê hy dat ons die geurkoppies, wat nou leeg is, moet optel sodat ons die aroma kan geniet! “Dit ruik heerlik”, is ons opmerking.
Ons tel die drinkkoppies versigtig aan die boonste rand op—die koppies het nie handvatsels nie en is warm—en vat ’n slukkie. “Regtig smaaklik!” sê ons. Ons besef nou dat die Chinese die aroma sowel as die geur beskou as iets wat geniet moet word. Ons het skaars ons klein koppies tee leeggedrink of dit word weer keer op keer volgemaak. Die geur word ’n bietjie flou ná die sesde of sewende keer, en ons gasheer gooi die teeblare uit. “Wil julle graag ’n ander soort tee probeer?” vra hy. Dit is amper slaaptyd, en daarom wys ons dit beleefd van die hand. Omdat tee kafeïen bevat, is dit redelik stimulerend en ons sal dalk sukkel om aan die slaap te raak nadat ons ’n hele paar koppies van sy eersteklas oelongtee gedrink het.
Tee by ’n teekamer
Ons het nog nooit na ’n teekamer of ’n teewinkel toe gegaan nie en ons besluit om hierdie ondervinding by ons tee-avontuur te voeg. Party teekamers het ’n mooi tuin wat hulle klante kan geniet terwyl hulle tee drink. Ander teekamers is in natuurlike bergagtige omgewings geleë, en die lieflike natuurskoon vergroot die plesier van teedrink.
Ons besluit om teen een van die berge rondom Taipei uit te ry en tee te drink by ’n oulike teekamer wat ’n regte Chinese atmosfeer het. Op die tweede vloer is daar kronkelende waterkanale waarin goudvisse swem en wat ons met behulp van trapklippe moet oorsteek om in die kamertjie in te gaan waar ons ons tee sal drink. Ons kan kies uit soet boontjiekoeke (rooi of wit boontjies wat saam met suiker fyngemaak is), waatlemoenpitte, gedroogde tofoe (sojaboonwrongel), ryskoekies of ingelegde of gedroogde vrugte om saam met ons tee te geniet. Ons kies waatlemoenpitte, gedroogde mango’s en pruime wat saam met teeblare ingelê is. Die soetigheid van die eetgoed komplementeer die heerlike geur van die tee. Wanneer ons tee geskink word, kan ons ons amper verbeel dat ons in antieke China is!
Die voordele van teedrink
Volgens baie Chinese help ’n koppie tee saam met of ná ’n maaltyd om jou kos vinniger te laat verteer. Daar word dus beweer dat dit in sekere mate help om te keer dat ’n mens gewig aansit. As dit waar is, is dit inderdaad ’n groot voordeel! Navorsers het onlangs ook beweer dat groentee in werklikheid ’n kankerwerende middel kan wees. Nog ’n voordeel wat oelong- en groentee ons bied, is dat dit ’n vars nasmaak het wat soet en aangenaam is.
Ons kom dus weer by die vraag: “Hoe hou jy van jou tee?” Noudat jy meer daaroor geleer het, is die antwoord dalk nie meer heeltemal so maklik nie. Probeer gerus iets anders en ontdek self hoe die Chinese tee drink!—Bygedra.
[Prent op bladsy 21]
Oelongtee
[Prent op bladsy 21]
Vroue wat tee pluk
[Erkenning]
Taiwan Tourism Bureau