Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 11/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jongmense en selfone
  • Bespaar Duitsers te veel water?
  • Keisersneë en allergieë
  • “Die uitsonderlikste binneversiering”?
  • Inplantbare identifikasieskyfie
  • Saamblyery
  • ’n Jaar van uiterste weerstoestande
  • Tier! Tier!
    Ontwaak!—1996
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2001
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 11/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Jongmense en selfone

“Jongmense in Brittanje kan nie hulle lewe sonder hulle selfone organiseer nie”, berig Londen se Daily Telegraph. Navorsers het ’n groep 15- tot 24-jariges se selfone vir twee weke weggeneem. “Dit was ’n vreemde ondervinding”, sê die berig. “Jongmense is gedwing om heel nuwe ondervindinge te hê: soos om met hulle ouers te praat, aan hulle vriende se voordeur te klop en hulle vriende se ouers te ontmoet.” Professor Michael Hulme van die Universiteit van Lancaster, Engeland, sê dat jong gebruikers se selfoongesprekke gewoonlik “’n manier is waarop hulle hulleself vertroos en hulle identiteit bevestig”. Sonder haar selfoon het een tiener “geïrriteerd en gestres” gevoel, berig die koerant, terwyl ’n ander alleen gevoel het en “vooruit moes beplan om mense op spesifieke tye te ontmoet” omdat hy “nie net wanneer [hy] wou met [sy] vriende kon praat nie”.

Bespaar Duitsers te veel water?

Die watertoevoer- en rioolstelsels in Duitsland ondervind probleme omdat verbruikers te veel water bespaar, berig die Frankfurter Allgemeine Sonntagszeitung. In die verlede is groter verbruik voorspel, en netwerke is dienooreenkomstig gebou. Terselfdertyd is waterbesparing bevorder as ’n belangrike manier om die omgewing en hulpbronne te bewaar, en die aanvraag het verminder. Die probleem is nou dat “ons drinkwater op baie plekke in die pype stilstaan”, sê Ulrich Oemichen van die Duitse Vereniging van Gas- en Waterrade. “As die water vir langer tydperke stilstaan, veroorsaak dit pypkorrosie, en die water neem van die metale op.” Wat meer is, wanneer daar nie genoeg water in die rioolpype is nie, bou vaste stowwe daarin op en begin dit vrot. Die enigste oplossing is om kosbare drinkwater deur die varswater- en rioolstelsels te spoel.

Keisersneë en allergieë

“Keisersneë hou dalk langtermynrisiko’s in waaraan ons nog nooit gedink het nie”, sê Sibylle Koletzko van die Ludwig Maximilian-universiteit, München, Duitsland. “Ek sal [dit] afraai in enige geval waar dit nie om mediese redes noodsaaklik is nie.” Navorsers sê dat sulke geboortes dalk bydra tot die toename in asma en allergieë. ’n Studie van 865 babas wat almal gedurende hulle eerste vier maande net geborsvoed is, het getoon dat keisersneebabas meer spysverteringsprobleme gehad het en ’n groter gevaar geloop het om voedselallergieë te ontwikkel. Volgens New Scientist “is die rede dalk dat keisersneebabas gedurende geboorte nie ’n kans kry om nuttige bakterieë te sluk nie; kolonisasie van die ingewande speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die immuunstelsel”.

“Die uitsonderlikste binneversiering”?

“Westerse toeriste en besigheidsmense wat onwettig tiervelle in China koop, is verantwoordelik vir die slagting van een van die wêreld se mees bedreigde spesies”, sê The Sunday Telegraph van Londen. Die tierbevolking in die natuur het afgeneem van omtrent 100 000 ’n eeu gelede tot minder as 5 000 vandag. Die meeste van hulle kom in Indië voor, en daar is ook tiers in ander lande in Suid-Asië en die Verre-Ooste. Die Agentskap vir Omgewingsnavorsing, ’n liefdadigheidsorganisasie in Londen, berig dat kopers die velle beskou “as die uitsonderlikste binneversiering, maar hulle is besig om die tier tot oor die randjie van uitsterwing te dryf. . . . Hierdie diere is so erg bedreig dat elke individu noodsaaklik is vir die oorlewing van hierdie spesie.” Tussen 1994 en 2003 is daar 684 tiervelle gekonfiskeer, maar hierdie syfer is vermoedelik net ’n fraksie van waarmee daar gesmokkel word.

Inplantbare identifikasieskyfie

“Die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad het ’n inplantbare identifikasiemikroskyfie goedgekeur” waardeur toegang tot ’n pasiënt se mediese rekord verkry kan word, berig die Journal of the American Medical Association (JAMA). Die vervaardigers beveel aan dat die skyfie, wat omtrent so groot soos ’n ryskorrel is, onder die pasiënt se vel naby die triseps ingeplant word. Mediese personeel kan die identifikasienommer lees deur ’n skandeerder oor die inplantingsplek te beweeg. Deur middel van ’n beveiligde Internetaansluiting word dit dan gebruik om toegang te verkry tot inligting wat in ’n databasis gestoor is. Die nuwe tegnologie “sal dalk help om vinniger toegang te verkry tot noodsaaklike mediese inligting van bewustelose pasiënte of pasiënte wat nie kan praat nie”, sê JAMA, en dit “kan ook gebruik word vir sekuriteits-, finansiële en persoonlike identifikasiedoeleindes”.

Saamblyery

“Al hoe meer Kanadese tree in gemeenregtelike huwelike as ’n voorloper van ’n wettige huwelik”, berig die koerant Vancouver Sun. Alan Mirabelli, die uitvoerende direkteur van die Vanier-instituut vir die Gesin in Ottawa, sê: “Hierdie geslag Kanadese, wat onder 35 jaar oud is, het meer as enige ander geslag gesien hoe hulle ouers skei of uitmekaar gaan. Hulle is dus versigtig om nie te gou te trou nie.” ’n Landwye opname onder byna 2 100 Kanadese wat tussen 18 en 34 jaar oud is, het getoon dat “22 persent . . . saambly terwyl 27 persent getroud is”, sê die berig. “In ’n vorige studie deur die Vanier-instituut is gevind dat 61 persent in 1975 getroud was terwyl slegs een persent in ’n gemeenregtelike huwelik verenig was.”

’n Jaar van uiterste weerstoestande

“Die jaar 2004, waarin daar vier kragtige orkane in die Karibiese See en dodelike tifone in Asië was, was die vierde warmste jaar op rekord; dit is ’n voortsetting van ’n tendens sedert 1990 waartydens die 10 warmste jare opgeteken is”, sê ’n berig deur die Associated Press. Verlede jaar was ook die duurste nog wat weerverwante skade betref. Volgens skatting het orkane in die Verenigde State en die Karibiese See alleen meer as R288 miljard se skade veroorsaak. Storms en hoë temperature in sekere streke het saamgeval met buitengewoon strawwe winters elders. Suid-Argentinië, sowel as Chili en Peru, het byvoorbeeld in Junie en Julie uiterste koue en swaar sneeuvalle gehad. Volgens die berig “sê wetenskaplikes dat ’n langdurige toename in temperature moontlik sal voortgaan om die wêreldklimaat om te krap”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel