Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/09 bl. 6-7
  • Ouers—Gee leiding aan julle kinders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers—Gee leiding aan julle kinders
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Begin vroeg!
  • Kinders het “wysheid en denkvermoë” nodig
  • Kinders en die Internet—Wat ouers kan doen
    Ontwaak!—2008
  • Help jongmense om die uitdaging die hoof te bied
    Ontwaak!—2007
  • Hoe raak tegnologie jou kinders?
    Ontwaak! – 2021
  • Die skielike groei in tegnologie
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 11/09 bl. 6-7

Ouers—Gee leiding aan julle kinders

“In die verlede was ons net besorg oor te veel blootstelling aan TV. Nou is daar videospeletjies, rekenaars en selfone. Dit is oorweldigend vir jong kinders en skep gedragspatrone wat met dié van verslawing ooreenkom . . . Hulle verstand raak gewoond aan te veel gehoor- en visuele stimulasie—en sonder hierdie stimulasie weet hulle nie wat om met hulleself te doen nie.”—Mali Mann, M.D.

ONS lewe in ’n wêreld wat al hoe meer aanlyn is weens die vooruitgang in kommunikasietegnologie en die Internet. Talle jongmense kan nie by die huis uitloop sonder hulle draagbare mediaspeler of selfoon nie. En namate hierdie en ander toestelle kragtiger, veelsydiger en goedkoper word, sal die huidige vloedgolf van kommunikasietegnologie dalk net toeneem en selfs meer uitdagings vir ouers skep wat die toesig, opleiding en dissiplinering van hulle kinders betref.

Ouers kan hierdie uitdagings die hoof bied deur twee belangrike dinge te doen. Eerstens: Erken die waarheid van die volgende stelling wat in die Bybel in Spreuke 22:15 gevind word: “Alle kinders is dwaas, maar ferm teregwysing sal hulle laat verander” (Contemporary English Version). Tweedens: Besef watter krag tegnologie het om kinders op ’n positiewe of ’n negatiewe manier te beïnvloed, en probeer dit positief maak.

Begin vroeg!

In baie huise is die TV ’n kind se eerste kennismaking met tegnologie. Trouens, die TV word dikwels die babaoppasser. Maar party deskundiges op die gebied van geestesgesondheid meen dat voortydige en oormatige blootstelling aan TV onverskilligheid teenoor fisiese oefening, verwarring tussen die werklikheid en fantasie, emosionele probleme en later onoplettendheid in die klaskamer kan bevorder. Party kinders, sê dr. Mali Mann, word dalk selfs “verkeerd gediagnoseer met aandaggebreksindroom [AGS] of aandaggebreksindroom met hiperaktiwiteit [AGSH] of selfs met bipolêre versteuring”. Gevolglik beveel party kenners aan dat kinders onder twee jaar glad nie televisie kyk nie.

“Die belangrikste ding wat in die eerste paar jaar van ’n kind se lewe gebeur, is dat hulle ’n hegte band met hulle ouers vorm”, sê dr. Kenneth Ginsburg, die woordvoerder van die Amerikaanse Akademie vir Kindergeneeskunde. Hierdie band word gesmee wanneer ouers met hulle kinders praat en speel en vir hulle lees. En soos baie ouers weet, word kinders lief vir lees as daar gereeld vir hulle gelees word, en dit is nog ’n belangrike voordeel.

Kennis van rekenaars en verwante tegnologie is dalk wel belangrik, selfs noodsaaklik, vir miljoene kinders. Maar as jy agterkom dat jou kinders te behep raak met rekenaars, rekenaarspeletjies, die Internet, ensovoorts, sal dit moontlik verstandig wees om hulle te help om hulle belangstellings uit te brei. Hoe? Probeer gerus om by hulle ’n belangstelling in ’n interessante vaardigheid of ’n musiekinstrument te wek—enigiets heilsaams wat moontlik anders, boeiend en stimulerend is.

’n Goedgekose bedrywigheid bied dalk meer as net verkwikkende afleiding. Dit kan jou kind ook help om geduld, volharding, selfbeheersing en kreatiwiteit te ontwikkel—eienskappe wat noodsaaklik is om suksesvol te wees in die lewe, waar probleme nie altyd net met die kliek van ’n muis opgelos kan word nie.

Kinders het “wysheid en denkvermoë” nodig

In die Bybel word volwassenes en kinders aangespoor om hulle “denkvermoë” te ontwikkel (Romeine 12:1; Spreuke 1:8, 9; 3:21). Dit sal ons in staat stel om nie net tussen reg en verkeerd te onderskei nie, maar ook tussen wat wys en onwys is. Ter toeligting: Dit is nie onwettig om ure aan rekenaarspeletjies of TV te bestee nie, maar is dit wys? Dit is nie onwettig om die nuutste toestelle of sagteware te koop nie, maar weer eens, is dit wys? Hoe kan jy dan jou kinders help om ten opsigte van tegnologie ’n wyse hart te ontwikkel?

◼ Verduidelik wat die gevare is. Wanneer dit by tegnologie en die Internet kom, leer kinders dalk gou, maar omdat hulle wysheid en ondervinding kortkom, is hulle geneig om naïef te wees. Wys hulle dus watter gevare hulle moet vermy en hoe om dit te vermy. Bespreek byvoorbeeld sosiale netwerke op die Internet met hulle. Hierdie netwerke bied jongmense weliswaar die geleentheid om uitdrukking te gee aan hulle identiteit en om ander jongmense te ontmoet, maar die webwerwe is ook ’n “mark” vir seksuele uitbuiters en ander met slegte beweegredes (1 Korintiërs 15:33).a Verstandige ouers sal hulle kinders dus vermaan om nie persoonlike besonderhede aanlyn bekend te maak nie.b

Kinders het natuurlik ’n reg tot privaatheid wat pas by hulle vlak van volwassenheid. Maar as ’n ouer het jy die godgegewe gesag sowel as die verantwoordelikheid om jou kinders op te lei en oor hulle toesig te hou (Spreuke 22:6; Efesiërs 6:4). Hopelik sal hulle jou besorgdheid nie as onnodige inmenging beskou nie, maar as ’n blyk van onselfsugtige liefde.

“Maar”, sê jy dalk, “hoe kan ek my kinders help as ek niks weet van die toestelle wat hulle gebruik nie?” Wel, jy kan gerus ten minste die basiese dinge daaromtrent leer. Melba, wat in haar 90’s is, het vir die eerste keer aan ’n rekenaar geraak toe sy al oor die 80 was. “Toe ek die ding die eerste keer probeer gebruik het”, sê sy, “wou ek dit by die venster uitgooi. Ná ’n paar maande het ek dit begin baasraak, en nou is e-pos en ander funksies vir my redelik maklik.”

◼ Stel gepaste perke aan jou kind se gebruik van tegnologie. As jou kind hom ure lank afsonder om TV te kyk, op die Internet rond te snuffel of rekenaarspeletjies te speel, kan jy dit gerus oorweeg om reëls te maak oor tegnologievrye tye en plekke in die huis. Dit kan jou seun of dogter help om die waarde van die volgende Bybelbeginsel te besef: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd.” Dit beteken dat daar ’n tyd is vir gesinslede, ’n tyd vir vriende, ’n tyd vir huiswerk, ’n tyd om te eet, ’n tyd om oefening te doen, ensovoorts (Prediker 3:1). Redelike reëls, wat konsekwent toegepas word, verleen orde aan die gesinslewe en help kinders om goeie maniere aan te leer, sowel as om bedagsaam en gesellig te wees.

In die laaste artikel van hierdie reeks sal ons na ’n paar beginsels kyk wat ons almal—volwassenes en kinders—kan help om tegnologie nie net op ’n bedagsame wyse te gebruik nie, maar ook op ’n ekonomiese wyse.

[Voetnote]

a Ouers sal dit nuttig vind om die artikel “Kinders en die Internet—Wat ouers moet weet” in die Ontwaak! van Oktober 2008 te lees. In die nommers vir Maart en Desember 2007 en Januarie 2008 sal jy nuttige artikels oor pornografie, videospeletjies en die Internet vind.

b Party tieners gebruik ook selfone om gewaagde foto’s van hulleself aan hulle vriende te stuur. Dit word “seksteks” (sexting) genoem en is nie net verlagend nie, maar ook dwaas, want die foto’s word dikwels vir ander gewys ongeag die bedoeling van die sender.

[Prent op bladsy 7]

Kinders het ’n wye verskeidenheid bedrywighede nodig om die verstand te ontwikkel en geduld en volharding aan te kweek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel