Die veranderende beeld van “die Christelike godsdiens”—Is dit vir God aanvaarbaar?
GESTEL jy vra ’n kunstenaar om ’n portret van jou te skilder. Wanneer hy klaar is, is jy baie opgewonde; dit is ’n volmaakte afbeelding. Jy dink aan jou kinders, kleinkinders en hulle kleinkinders wat met trots na die portret gaan kyk.
Maar ’n paar geslagte later meen een van jou nakomelinge dat die bles in die portret nie baie vleiend is nie, en daarom laat hy hare op die portret skilder. ’n Ander hou weer nie van die vorm van die neus nie en laat dit dus verander. Met verloop van tyd word ander “verbeterings” aangebring, sodat die portret uiteindelik glad nie meer soos jy lyk nie. Hoe sou jy voel as jy geweet het dat dit gaan gebeur? Jy sou ongetwyfeld baie verontwaardig wees.
Ongelukkig is die verhaal van hierdie portret baie soos die verhaal van die sogenaamde Christelike kerk. Die geskiedenis toon dat die amptelike beeld van “die Christelike godsdiens” kort ná die dood van Christus se apostels begin verander het, net soos die Bybel voorspel het.—Matteus 13:24-30, 37-43; Handelinge 20:30.a
Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om Bybelbeginsels op verskillende kulture en tydperke toe te pas nie. Maar dit is iets heeltemal anders om Bybelleringe te verander om by die algemene denke aan te pas. En tog is dit presies wat gebeur het. Kyk byvoorbeeld na die veranderinge wat op ’n aantal belangrike gebiede gemaak is.
Bande word tussen die Kerk en die Staat gesmee
Jesus het geleer dat hy ’n hemelse heerskappy, of Koninkryk, sal hê en dat dit mettertyd alle menslike heerskappye gaan vernietig en oor die hele aarde gaan heers (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Dit sal nie deur middel van menslike politieke stelsels heers nie. “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het Jesus gesê (Johannes 17:16; 18:36). Derhalwe het Jesus se dissipels nie aan die politiek deelgeneem nie, hoewel hulle die wet gehoorsaam het.
Maar teen die tyd van die Romeinse keiser Konstantyn in die vierde eeu het baie verklaarde Christene moeg geword om te wag vir Christus se wederkoms en die oprigting van God se Koninkryk. Hulle gesindheid teenoor die politiek het geleidelik verander. “Voor Konstantyn”, sê die boek Europe—A History, “het Christene nie [politieke] mag probeer verkry as ’n manier om hulle saak te bevorder nie. Ná Konstantyn het die Christelike godsdiens en die politiek hand aan hand gegaan.” Die veranderde Christelike godsdiens het die amptelike “universele”, of “katolieke”, godsdiens van die Romeinse Ryk geword.
As gevolg van hierdie noue band tussen die Kerk en die Staat, sê die ensiklopedie Great Ages of Man, “het die Kerk teen 385 n.C., net 80 jaar ná die laaste groot vlaag van vervolging van Christene, self ketters begin teregstel, en die geestelikes van die Kerk het gesag gehad wat byna gelyk was aan dié van die keisers”. So het ’n era begin waarin die swaard eerder as oorreding gebruik is om mense tot bekering te bring, en die magsugtige geestelikes met hulle titels het die nederige predikers van die eerste eeu vervang (Matteus 23:9, 10; 28:19, 20). Die geskiedskrywer H. G. Wells het geskryf van “die diepgaande verskille tussen” die vierde-eeuse Christelike godsdiens “en die leer van Jesus van Nasaret”. Hierdie “diepgaande verskille” het selfs basiese leringe oor God en Christus geraak.
Die beeld van God word verander
Christus en sy dissipels het geleer dat daar net “een God, die Vader,” is wat onderskei word aan sy persoonlike naam, Jehovah, wat ongeveer 7 000 keer in die vroeë Bybelmanuskripte verskyn (1 Korintiërs 8:6; Psalm 83:18, NW). Jesus is deur God geskep; hy is “die eersgeborene van alle skepsele”, sê die Katolieke Douay-vertaling van die Bybel in Kolossense 1:15. As ’n geskape wese het Jesus dus reguit gesê: “Die Vader is groter as ek.”—Johannes 14:28.
Maar teen die derde eeu het sekere invloedryke geestelikes, by wie die trinitariese leerstelling van die heidense Griekse filosoof Plato byval gevind het, die beeld van God begin verander om by die Trinitariese formule aan te pas. In die daaropvolgende eeue het hierdie leerstelling Jesus op onskriftuurlike wyse tot gelykheid met Jehovah verhef en het dit God se heilige gees, of werkende krag, ’n persoon gemaak.
Die New Catholic Encyclopedia sê aangaande die kerk se aanneming van die heidense opvatting van die Drie-eenheid: “Die formulering ‘een God in drie Persone’ was nie voor die einde van die 4de eeu stewig gevestig nie en was beslis nie voor daardie tyd ten volle in die Christelike lewe en sy geloofsbelydenis opgeneem nie. Maar dit is juis hierdie formulering wat die eerste aanspraak op die titel die Drie-eenheidsleer het. Onder die Apostoliese Vaders was daar niks wat in die minste met so ’n mentaliteit of perspektief ooreengekom het nie.”
The Encyclopedia Americana sê eweneens: “Die vierde-eeuse Drie-eenheidsleer het nie die vroeg-Christelike leer aangaande die aard van God juis weergegee nie; inteendeel, dit was ’n afwyking van hierdie leer.” The Oxford Companion to the Bible noem die Drie-eenheid een van ’n aantal “latere geloofsformulerings”. Maar die Drie-eenheid was nie die enigste heidense opvatting wat deur die kerk opgeneem is nie.
Die siel word verander
Die meeste mense glo vandag dat die mens ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef. Maar het jy geweet dat hierdie kerkleerstelling ook ’n latere byvoeging was? Jesus het die Bybelwaarheid bevestig dat die dooies ‘glad niks weet nie’, dat hulle as ’t ware slaap (Prediker 9:5; Johannes 11:11-13). Die lewe sou teruggegee word deur middel van ’n opstanding—‘om weer op te staan’ uit die slaap van die dood (Johannes 5:28, 29). ’n Onsterflike siel sou, indien dit bestaan het, nie die opstanding nodig gehad het nie, aangesien onsterflikheid die dood onmoontlik maak.
Jesus het selfs die Bybelse lering van die opstanding gedemonstreer deur mense uit die dood op te wek. Neem byvoorbeeld die geval van Lasarus, wat vier dae lank dood was. Toe Jesus hom opgewek het, het Lasarus as ’n lewende mens wat asemhaal uit die graf gekom. Daar was nie ’n onsterflike siel wat uit hemelse saligheid na Lasarus se liggaam teruggekeer het toe hy uit die dood opgestaan het nie. As dit die geval was, sou Jesus hom beslis nie ’n guns bewys het deur hom op te wek nie!—Johannes 11:39, 43, 44.
Wat is dan die oorsprong van die teorie oor die onsterflike siel? The Westminster Dictionary of Christian Theology sê dat die opvatting “eerder aan Griekse filosofie toegeskryf kan word as aan Bybelse openbaring”. The Jewish Encyclopedia verduidelik: “Die opvatting dat die siel ná die dood van die liggaam voortbestaan, is eerder ’n saak van filosofiese of teologiese bespiegeling as van eenvoudige geloof, en word gevolglik nêrens uitdruklik in die Heilige Skrif geleer nie.”
Een valse leerstelling lei dikwels tot ’n ander, en dit is die geval met die leerstelling van die onsterflikheid van die siel. Dit het die weg gebaan vir die heidense idee van ewige foltering in ’n brandende hel.b En tog sê die Bybel duidelik dat ‘die loon wat die sonde betaal die dood is’—nie ewige foltering nie (Romeine 6:23). Die King James Version beskryf die opstanding dus soos volg: “Die see het die dode gegee wat daarin was; en die dood en die hel het die dode gegee wat daarin was.” Die Douay-Bybel sê eweneens dat “die see . . . en die dood en die hel die dode daarin gegee het”. Ja, diegene in die hel is eenvoudig gestel dood, hulle “slaap”, soos Jesus gesê het.—Openbaring 20:13.
Kan ’n mens werklik glo dat die leerstelling van ewige verdoemenis in die hel mense tot God aantrek? Beslis nie. Dit is vir regverdige en liefdevolle mense ’n afstootlike gedagte! Die Bybel leer daarenteen dat ‘God liefde is’ en dat wreedheid, selfs teenoor diere, vir hom iets afskuweliks is.—1 Johannes 4:8; Spreuke 12:10, NW; Jeremia 7:31; Jona 4:11.
Hoe die “portret” in hedendaagse tye geskend word
Die beeld van God en die Christelike godsdiens word vandag nog geskend. ’n Godsdiensprofessor het onlangs die stryd in sy Protestantse kerk beskryf as ’n stryd “oor die gesag van die Skrif en geloofsbelydenis teenoor die gesag van vreemde en humanistiese ideologieë, tussen die kerk se getrouheid aan die heerskappy van Christus teenoor ’n aanpassing en herformulering van die Christelike godsdiens volgens die gees van die tyd. Die kwessie is: Wie besluit wat die kerk gaan doen . . . , die Heilige Skrif of die heersende ideologie van die dag?”
Ongelukkig is dit nog dikwels die geval dat “die heersende ideologie van die dag” seëvier. Dit is byvoorbeeld geen geheim nie dat baie kerke hulle standpunt oor verskillende kwessies verander het sodat hulle progressief en vrydenkend kan voorkom. Die kerke het veral in sedelike sake baie liberaal geword, soos in die eerste artikel gemeld is. En tog sê die Bybel baie duidelik dat hoerery, egbreuk en homoseksualiteit ernstige sondes in die oë van God is en dat diegene wat sulke sondes beoefen “God se koninkryk nie sal beërf nie”.—1 Korintiërs 6:9, 10; Matteus 5:27-32; Romeine 1:26, 27.
Toe die apostel Paulus die woorde hierbo geskryf het, het allerhande soorte goddeloosheid hoogty gevier in die Grieks-Romeinse wêreld om hom. Paulus kon geredeneer het: ‘Ja, God het Sodom en Gomorra vernietig weens ernstige seksuele sondes, maar dit was 2 000 jaar gelede! Dit is sekerlik nie op hierdie verligte tyd van toepassing nie.’ Maar hy het nie gerasionaliseer nie; hy het geweier om Bybelwaarheid af te water.—Galasiërs 5:19-23.
Kyk na die oorspronklike “portret”
Jesus het met die Joodse godsdiensleiers van sy dag gepraat en gesê dat hulle aanbidding ‘tevergeefs was omdat hulle gebooie van mense as leerstellings geleer het’ (Matteus 15:9). Daardie geestelikes het presies dieselfde met Jehovah se Wet gedoen wat hulle deur Moses ontvang het as wat die geestelikes van die Christendom met Christus se leringe gedoen het, en nog steeds doen—hulle het die “verf” van oorleweringe op Goddelike waarheid gespat. Maar Jesus het alle onwaarhede ten behoewe van opregtes van hart verwyder (Markus 7:7-13). Jesus het die waarheid gepraat, of dit nou gewild was of nie. God se Woord was altyd sy gesag.—Johannes 17:17.
Wat ’n teenstelling vorm Jesus tog nie met die meeste verklaarde Christene nie! Trouens, die Bybel het voorspel: “Mense sal ywerig wees vir die jongste nuwigheid en . . . leraars na hulle eie smaak versamel; en dan sal hulle, in plaas van na die waarheid te luister, hulle tot mites wend” (2 Timoteus 4:3, 4, The Jerusalem Bible). Hierdie “mites”, waarvan ons ’n paar bespreek het, is geestelik verwoestend, terwyl die waarheid van God se Woord opbouend is, en dit lei tot ewige lewe. Dít is die waarheid wat Jehovah se Getuies jou aanmoedig om te ondersoek.—Johannes 4:24; 8:32; 17:3.
[Voetnote]
a Soos Jesus in die gelykenis van die koring en die onkruid en in sy illustrasie van die breë en die nou pad (Matteus 7:13, 14) geopenbaar het, sou daar deur die eeue heen altyd sommige mense wees wat die ware Christelike godsdiens beoefen. Maar hulle sou oorskadu word deur ’n onkruidagtige meerderheid, wat hulleself en hulle leerstellings as die ware Christelike godsdiens sou bevorder. Dit is die Christelike godsdiens waarna ons artikel verwys.
b “Hel” is ’n vertaling van die Hebreeuse woord Sjeool en die Griekse woord Hades, wat albei eenvoudig “die graf” beteken. Terwyl die Engelse vertalers van die King James Version die woord Sjeool dus 31 keer as “hel” vertaal het, het hulle dit ook 31 keer as “graf” en 3 keer as “kuil” vertaal, en daardeur het hulle getoon dat hierdie woorde basies dieselfde ding beteken.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Die oorsprong van die naam Christen
Ten minste tien jaar ná Jesus se dood het sy volgelinge bekend gestaan as dié wat aan “Die Weg” behoort het (Handelinge 9:2; 19:9, 23; 22:4). Waarom? Omdat hulle lewe gedraai het om geloof in Jesus Christus, wat “die weg en die waarheid en die lewe” is (Johannes 14:6). Toe is dissipels van Jesus die een of ander tyd ná 44 G.J., in Siriese Antiogië, “deur goddelike voorsienigheid Christene genoem” (Handelinge 11:26). Hierdie naam het gou ingang gevind, selfs onder staatsamptenare (Handelinge 26:28). Die nuwe naam het nie die Christelike lewenswyse verander nie, wat nog steeds op die voorbeeld van Christus gegrond was.—1 Petrus 2:21.
[Prente op bladsy 7]
Deur hulle openbare bediening vestig Jehovah se Getuies mense se aandag op God se Woord, die Bybel
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Derde van links: United Nations/Photo by Saw Lwin