Kan jy die Bybel glo?
SELFS in hierdie moderne wêreld glo baie mense nog in die Bybel. In ’n Gallup-opname wat onlangs onder Amerikaners gedoen is, het 80 persent gesê hulle glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is. Hetsy die persentasie in jou gebied so hoog is of nie, ’n mens kan begryp dat sulke gelowiges verwag om in die kerk onderrigting uit die Bybel te ontvang. Maar dikwels is dit nie die geval nie. Neem byvoorbeeld die leerstelling dat die siel ná die dood gestraf word.
Leer die Bybel op enige plek dat ’n vaevuur of ’n brandende hel bestaan? Vandag sal baie geleerdes in die Christendom nee antwoord. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Alles in oënskou geneem, berus die Katolieke leerstelling oor die vaevuur op oorlewering, nie op die Heilige Skrif nie.” A Dictionary of Christian Theology sê oor die hel: “In die N[uwe] T[estament] vind ons nie dat die helse vuur deel van die primitiewe boodskap was nie.”
Trouens, die leerstellingskommissie van die Anglikaanse Kerk het onlangs groot nuus gemaak toe dit aanbeveel het dat die leer van die helse vuur heeltemal verwerp moet word. Dr. Tom Wright, deken van Litchfield-katedraal, sê dat beeldspraak wat in die verlede vir die hel gebruik is “van God ’n monster gemaak het en diep sielkundige letsels op baie gelaat het”. Die kommissie se verslag het die hel as ’n toestand van “algehele niebestaan” beskryf.a Die New Catholic Encyclopedia sê eweneens oor die Katolieke beskouing: “Vandag benader die teologie die probleem van die hel uit die oogpunt van afsondering van God.”
Wat die Bybel oor die siel leer, is in werklikheid strydig met die leer van die vaevuur en die helse vuur. Die Bybel praat dikwels van die dood van siele. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Volgens die Bybel is die dooies in ’n toestand van onbewustheid, nie in staat om pyn te voel nie. “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die hoop wat die Bybel vir die dooies bied, is ’n toekomstige opstanding. Toe Jesus se vriend Lasarus gesterf het, het Jesus die dood met slaap vergelyk. Lasarus se suster Marta het die hoop uitgespreek wat in die Bybel geleer word toe sy gesê het: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” Deur Lasarus uit die dood op te wek, het Jesus daardie hoop vir die mensdom bevestig.—Johannes 5:28, 29; 11:11-14, 24, 44.
Geskiedkundiges wys daarop dat die leer dat die mens ’n afsonderlike, onsterflike siel het nie uit die Bybel afkomstig is nie, maar uit Griekse filosofie. Die New Catholic Encyclopedia sê dat die eertydse Hebreërs nie gedink het dat die mens uit ’n stoflike liggaam en ’n onstoflike siel bestaan het nie. Dit sê oor die Hebreërs se opvatting: “Toe die asem van die lewe in die eerste mens wat God uit die stof van die aarde geskep het, ingegaan het, het hy ’n ‘lewende wese’ geword (G[enesis] 2.7). Die dood is nie, soos in die Griekse filosofie, as die skeiding van twee afsonderlike elemente in die mens beskou nie; die asem van die lewe verlaat die mens en hy word ’n ‘dooie wese’ (L[evitikus] 21.11; N[umeri] 6.6; 19.13). In elke geval sal die woord ‘wese’ die Hebreeuse woord [neʹfesj] wees, wat dikwels as ‘siel’ vertaal word, maar in werklikheid feitlik gelykstaande aan die persoon is.”
Daardie selfde ensiklopedie sê dat Katolieke geleerdes onlangs “aangevoer het dat die N[uwe] T[estament] nie die onsterflikheid van die siel in die Hellenistiese [Griekse] sin leer nie”. Dit maak die gevolgtrekking: “Die uiteindelike oplossing vir die probleem word nie soseer in filosofiese spekulasie gevind nie, maar in die bonatuurlike gawe van die Opstanding.”
Die Bybel of tradisie?
Maar hoe het nie-Bybelse opvattings deel geword van die kerkleer? Baie kerke verklaar dat die Bybel hulle hoogste gesag is. Nie lank gelede nie het pous Johannes-Paulus II byvoorbeeld gepraat van die behoefte daaraan “dat [die Skrif] in die volle diepte van sy waarheid en as die belangrikste maatstaf van ons geloof deur die getroues aanvaar moet word”. Maar daar word algemeen aanvaar dat die leringe van die hedendaagse Christendom nie presies dieselfde is as dié van die eerste-eeuse Christene nie. Die meeste kerke beskou die veranderinge as deel van die geleidelike ontwikkeling van die kerkleer. Bowendien neem die Katolieke Kerk die standpunt in dat kerktradisie dieselfde gesag as die Skrif het. Die New Catholic Encyclopedia sê dat die kerk “geen waarheid, onafhanklik van tradisie, op grond van die Skrif alleen aanneem nie, en ook nie, onafhanklik van die Skrif, op grond van tradisie alleen nie”.
Die geskiedenis toon dat kerke in die verlede skriftuurlike leringe met leringe vervang het wat net op tradisie gegrond was. Trouens, baie kerke meen nou dat die Bybel se leringe verkeerd is. Die New Catholic Encyclopedia sê byvoorbeeld dat dit “duidelik [is] dat baie Bybelse stellings eenvoudig onwaar is wanneer dit in die lig van hedendaagse kennis van die wetenskap en geskiedenis beoordeel word”. In verband met die Bybelse lering dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is, sê dit: “Selfs wat godsdienssake betref, getuig die O[u] T[estament] van ’n gebrekkige kennis van . . . die lewe ná die dood.” Die ensiklopedie haal Psalm 6:6 (vers 5 in party Bybels) as ’n voorbeeld hiervan aan: “In die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” Party Protestantse kweekskole en kolleges leer nie meer dat die Bybel onfeilbaar is nie. Die Katolieke Kerk glo daarenteen dat dit die leergesag het om wat in die Bybel geleer word uit te lê. Maar jy wonder moontlik: ‘Sê nou hierdie uitleggings lyk asof dit in stryd is met die Skrif?’
Die belangrikheid van die Skrif
Jesus het herhaaldelik die Skrif as ’n gesaghebbende bron aangehaal en het dikwels dinge wat hy gesê het, laat voorafgaan deur die woorde: “Daar staan geskrywe” (Matteus 4:4, 7, 10; Lukas 19:46). Trouens, toe Jesus oor die mens se huweliksituasie gepraat het, het hy nie die Griekse filosofiese veronderstellings aangehaal nie, maar eerder na die Genesisverslag van die skepping verwys (Genesis 1:27; 2:24; Matteus 19:3-9). Dit is duidelik dat Jesus die Skrif beskou het as iets wat deur God geïnspireer en feitelik is. In gebed tot God het hy gesê: “U woord is waarheid.”—Johannes 17:17.b
Die Bybel bevat Jesus se veroordeling van die godsdiensleiers van sy dag: “Julle stel die gebod van God behendig tersyde om julle oorlewering te behou. . . . So maak julle die woord van God kragteloos deur julle oorlewering” (Markus 7:6-13). Die apostel Paulus het eweneens die druk weerstaan om Griekse filosofie of valse tradisies in sy leringe op te neem. “Pas op”, het hy gewaarsku. “Miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense” (Kolossense 2:8; 1 Korintiërs 1:22, 23; 2:1-13). Daar was sekere tradisies, of leringe, wat Paulus die Christene aangemoedig het om te volg, maar dit was op die Skrif gegrond en was heeltemal in harmonie daarmee (2 Tessalonisense 2:13-15). “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, het Paulus geskryf, “sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 3:16, 17.
Paulus het vooruitgesien dat daar van die Skrif afgewyk sou word. Hy het Timoteus gewaarsku: “Daar sal ’n tydperk wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, . . . en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer.” Hy het Timoteus aangespoor: “Bly jy egter in alles nugter van verstand” (2 Timoteus 4:3-5). Maar hoe? Een manier is om ‘edelmoedig’ te wees. ’n Griekse leksikon definieer hierdie Bybelwoord as “’n bereidwilligheid om te leer en iets redelik te beoordeel”. Lukas het hierdie uitdrukking gebruik om Paulus se toehoorders in eerste-eeuse Berea te beskryf. Paulus se leringe was vir hulle iets nuuts, en hulle wou nie mislei word nie. Lukas het hulle geprys en geskryf: “[Die Bereane] was edelmoediger as dié in Tessalonika, want hulle het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif daagliks sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was.” Die feit dat die Bereane edelmoedig was, het hulle nie skepties, teësinnig om in enigiets te glo, gemaak nie. Die gevolg van hulle eerlike ondersoek was eerder dat “baie van hulle gelowiges geword” het.—Handelinge 17:11, 12.
Die voordele van ’n lewe wat deur die Bybel gerig word
Die vroeë Christene was bekend daarvoor dat hulle by die Bybel gebly het en vir hulle selfopofferende liefde. Vandag het baie mense egter ‘’n vorm van godvrugtige toegewydheid, maar hulle het die krag daarvan verloën’ (2 Timoteus 3:5). Enige hedendaagse vorm van die Christelike godsdiens wat nie getrou is aan die oorspronklike vorm daarvan nie, kan nie werklik ’n krag ten goede in mense se lewens wees nie. Help dit ons dalk om te verstaan waarom ons in die grootste deel van die Christendom ’n toename in geweld, onsedelikheid, gesinsverbrokkeling en materialisme sien? In party “Christelike” lande woed wrede etniese oorloë selfs tussen lede van dieselfde godsdiens.
Het die edelmoedige gees van die Bereane uitgesterf? Is daar vandag enige groep mense wat in die Bybel glo en daarvolgens lewe?
Die Encyclopedia Canadiana sê: “Die werk van Jehovah se Getuies is die herlewing en herinstelling van die vroeë Christelike geloof wat gedurende die eerste en tweede eeu van ons era deur Jesus en sy dissipels beoefen is.” Met verwysing na die Getuies sê die New Catholic Encyclopedia: “Hulle beskou die Bybel as hulle enigste bron van geloof en gedragsreëls.”
Dit is ongetwyfeld ’n vername rede waarom Jehovah se Getuies in alle wêrelddele bekend is vir hulle geestelike voorspoed, vrede en geluk. Ons moedig ons lesers derhalwe aan om meer oor die geestelik gesonde leer van die Bybel uit te vind. Meer kennis kan tot selfs groter vertroue in die Bybel en sterker geloof in God lei. Die ewige voordele van sulke geloof is beslis die moeite werd.
[Voetnote]
a National Public Radio—“Morning Edition”
b Sien die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir verdere inligting oor die betroubaarheid van die Bybel.
[Prent op bladsy 6]
Die apostel Paulus en ander het predikingswerk op die markplein gedoen
[Prent op bladsy 7]
Jehovah se Getuies “beskou die Bybel as hulle enigste bron van geloof en gedragsreëls”