Ons beskou die wêreld
GEESTELIKES SE VERHOUDINGS MET GEMEENTELEDE
’n Vierjaarstudie onder geestelikes in die Verenigde State het gevind dat een uit elke tien predikante erken dat hy of sy “’n verhouding met ’n lid van sy of haar gemeente gehad het”, berig Ecumenical Press Service (die nuusdiens van die Wêreldraad van Kerke). Volgens professor Karen Lebacqz, ’n navorser betrokke by die studie, het die geestelikes verduidelik dat “die intimiteit van raadgewingsituasies tot die seksuele verhoudings gelei het”. Sy raai dus aan dat die geestelikes gedurende die dag, in ’n kantoor, raad gee. Op daardie manier, sê professor Lebacqz, ‘kan party versoekings om seksueel betrokke te raak, verminder word’. Sy sê voorts dat ‘raadgewingsessies wat meer as een gesinslid insluit ook kan help’.
VIGS VERSPREI OOSWAARTS
Met die opening van die grense tussen Oos- en Wes-Europa is toestande ideaal vir ’n vinnige verspreiding van Vigs na Oos-Europa, waarsku die voorsitter van die Wêreldgesondheidsorganisasie se program oor Vigs. “Jy kan nie van die siekte verwag om nasionale grense te respekteer nie, en die mense wat heen en weer oor die grense beweeg, gaan die grense laat vervaag”, sê hy. Hy skat dat 500 000 Wes-Europeërs draers van die Vigs-virus is, en dat tussen 10 000 en 30 000 Oos-Europeërs moontlik alreeds met die dodelike virus besmet is. Dit sluit honderde Roemeense kinders in wat besmet is deur onhigiëniese spuite en oortappings van besmette bloed. Volgens die International Herald Tribune van Parys sê dokters nou dat meer as 95 persent van diegene wat oortappings van Vigs-besmette bloed ontvang het met die Vigs-virus besmet sal word.
SLIM BABAS
The Times, ’n Londense koerant, berig dat wetenskaplikes die vermoëns van pasgeborenes beter kan bepaal, en “dit lei tot die erkenning van die pasgebore baba as ’n ‘bevoegde suigeling’”. “Babas word, in teenstelling met die algemene opvatting, met ’n hoë intelligensie gebore.” Pasgeborenes begin gou uitmaak wat hulle sien. Een van die navorsers, dr. Alan Slater, van die Exeter-Universiteit, sê: “Babas kan van die oomblik dat hulle gebore word van die wêreld leer. Die pasgebore baba herken sy moeder en ander deur hulle te sien, te hoor en te ruik. Die feite dui ook daarop dat heelwat in die baarmoeder geleer word.” The Times sê dat ’n aantal internasionale ondersoeke aan die lig bring dat babas “nie net ’n bondel reflekse is wat wag om gevoer te word nie” en dat babas op ’n baie vroeë leeftyd ’n taak deur beplanning eerder as deur die proefmetode kan uitvoer.
BESOEDELING VAN DIE GANGES
Die Ganges, wat 2400 kilometer lank is, is vir Hindoes die heiligste rivier in Indië. Elke jaar word duisende lyke langs die oewers op brandstapels van hout veras en die as word op rituele wyse in die rivier gegooi. Maar weens ’n gebrek aan hout en geld word tienduisende halfveraste lyke nou in die waters gegooi. Dit, tesame met ontelbare dierekarkasse, veroorsaak ’n ernstige gesondheidsgevaar. Soos ’n verslaggewer in Delhi vir The Times van Londen skryf: “Opgeblaasde lyke, met aasvoëls wat op hulle sit, dryf verby terwyl Hindoepelgrims in die vieslike en heilige water plas en baljaar.” In ’n poging om die krisis op te los, beskerm en teel die regering van Uttar Pradesj vleisetende waterskilpaaie wat inheems in die rivier is. “Die jong [waterskilpaaie] begin deur stukkies aas en vis te eet. Hulle sal geleidelik begin om lyke te eet”, beweer die hoofwildbewaarder. Maar hulle sal nie swemmers bedreig nie, verseker hy.
UNIVERSITEITSBENDES
Jeugbendes gewapen met gewere, messe, byle en selfs suur om na hulle slagoffers te gooi—dit klink dalk na ’n nagmerrie uit ’n binnestedelike krotbuurt, maar dit is nie. Volgens die Nigeriese tydskrif Newswatch is baie lede van hierdie bendes kollegestudente uit vooraanstaande gesinne, en hulle “terroriseer die universiteitstelsel in Nigerië”. Die tydskrif sê dat hierdie bendes geassosieer word met studentegildes en dat party deelneem aan vreemde en kultiese rituele. Universiteitsbeamptes sê dat baie lede van studentebendes dink dat hulle weens hulle sosiale status bo die wet verhewe is.
VERDWYNENDE MOERASSE
Kanada het byna ’n kwart van die wêreld se moerasse en vleie. Maar “ondanks ’n toenemende bewustheid dat Kanada se moerasse ’n belangrike deel van die omgewing is”, is hulle, volgens ’n berig in The Globe and Mail van Toronto, besig om vinnig te verdwyn. Landboubeleide en -ekonomie het boere aangemoedig om die moerasse op te vul en produktiwiteit sodoende te verhoog. Maar die moerasse is meer as net ’n tuiste vir wild. Hulle dien as filters vir waterbesoedeling, as buffers teen gronderosie en het dalk selfs ’n positiewe uitwerking op die weer. Moerasse dra na bewering by tot ’n hoër reënval.
DIE KOKAÏENPLAAG
Diegene wat gedink het dat die getal weeklikse kokaïengebruikers in die Verenigde State alreeds onrusbarend hoog was met ’n amptelike skatting van 860 000 is in Mei 1990 onaangenaam verras. ’n Verslag van die Amerikaanse Senaat het gesê dat die werklike syfer nader aan 2,2 miljoen is. Dit sou beteken dat byna 1 uit elke 100 Amerikaners beskou word as ’n ‘geharde kokaïenverslaafde’, ’n uitdrukking wat die verslag se navorsers toepas op diegene wat kokaïen minstens een keer per week gebruik. Volgens die verslag is die staat New York bo-aan die lys met 1 uit elke 40 mense wat ’n gereelde kokaïengebruiker is. Hierdie syfers sluit diegene in wat die kragtige kokaïenderivaat genaamd crack gebruik.
DOL OOR PLASTIEK
“Die Kanadese is dol oor plastiek”, het The Toronto Star, ’n Kanadese koerant, berig. Die Star het die geweldige toename van kredietkaarttransaksies in Kanada as ’n “liefdesverhouding met krediet” bestempel. “Ongeveer die helfte van alle Kanadese vereffen nie hulle kredietkaartskuld gou genoeg om die hoë rente [wat wissel van 20 tot 29 persent] te vermy nie.” Sulke rente kos die Kanadese ongeveer 2,25 miljard rand per jaar. “Die probleem ontstaan wanneer mense onrealisties is oor wat hulle kan bekostig. . . . Sommige mense beland in die skuld omdat ’n onweerstaanbare impuls hulle vir die lekkerte daarvan laat koop”, het die Star gesê. Die bestuurder van ’n kredietvoorligtingsdiens in Toronto raai sulke kompulsiewe kopers gewoonlik aan om “die hulp van ’n sielkundige in te roep”.
TRANSSEKSUELE IN DUITSLAND
Die Duitse koerant Bremer Nachrichten het onlangs berig: “Daar is tussen 30 000 en 50 000 transseksuele in die Bondsrepubliek Duitsland, maar die werklike syfer is nie bekend nie en kan heelwat hoër wees.” Transseksuele, diegene wat hulleself identifiseer met en graag lede van die ander geslag wil word, kies dikwels chirurgie om hulle nader aan hulle doel te bring. By een Duitse hospitaal is die waglys vir sodanige chirurgie meer as ’n jaar lank. Bremer Nachrichten sê ook dat ’n “aansienlike” aantal van hierdie transseksuele vroue is wat graag mans wil word. Terwyl vroue voor duideliker (en onoorkoomliker) probleme te staan kom wat die operasie betref, kom die mans ook voor probleme te staan. Hulle baard hou dikwels aan groei ondanks chirurgie en hormoonbehandeling, en dit verg jarelange pynlike haarverwyderingsprosedures.
WANDELAARSREGTE
Die oeroue voetpaaie wat mense lok om deur die golwende landskap, klipmure en heidevelde van die Engelse platteland te wandel, is die brandpunt van ’n toenemende stryd tussen wandelaars en grondeienaars. Die reg om op voetpaaie oor privaatgrond te loop, wat al eeue lank as ’n openbare voorreg beskou word, is in die dertigerjare in Engeland betwis toe die boere die voetpaaie wat deur hulle grond loop, versper het. Wandelaars het in groot getalle bymekaargekom en protes aangeteken, en formele wette is aangeneem om hulle wandelreg te beskerm. Maar die stryd duur voort. Die regering skat dat twee derdes van Engeland se 174 000 kilometer voetpaaie vandag deur hindernisse soos hakiesdraad en gesaaides versper word. Die Wandelaarsvereniging het ‘voetpadsekretarisse’ om sulke oortredings aan die lig te bring. Die boere kla, op hulle beurt, dat wandelaars op hulle privaatheid inbreuk maak, die vee versteur en die gesaaides beskadig.