Van ons lesers
Liggaamsgebreke Die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek ’n liggaamsgebrek hê?” (22 Mei 1993) het hierdie probleem realisties bespreek. Ek is gebreklik in albei my bene en baie gevoelig wanneer mense met ’n gevoel van jammerte na my kyk. Wat my die meeste grief, is wanneer iemand vir my ’n donasie gee—asof ek ’n bedelaar is! Wat my vertroos, is die wete dat Jehovah nie na my liggaamlike toestand kyk nie, maar hy “sien die hart aan”.—1 Samuel 16:7.
A. A. A. S., Brasilië
Ek moet beswaar maak teen julle verwysing na serebrale verlamming as ’n siekte. Serebrale verlamming is ’n toestand wat deur breinskade veroorsaak word en vind gewoonlik voor, gedurende of kort ná geboorte plaas. Dit is nie progressief of oordraagbaar nie. Dit is nie ’n siekte nie en daar moet nooit só daarna verwys word nie.
L. Z., Verenigde State
Ons is jammer as ons woordkeuse jou aanstoot gegee het. Ons het die woord “siekte” gebruik in die baie algemene sin wat in “Webster’s New Collegiate Dictionary” gegee word, naamlik “’n toestand . . . wat die werkverrigting van ’n noodsaaklike funksie belemmer”.—RED.
Verminking van vroue Dankie dat julle getoon het wat ’n demoniese en afskuwelike gebruik die verminking van die vroulike geslagsorgane is! (“Miljoene ly—Kan hulle gehelp word?” 8 April 1993.) As net een kind die lyding gespaar kan word van hierdie geheime, afgryslike misdaad sou die publisering van hierdie artikel die moeite werd gewees het.
J. C., Verenigde State
My oë het vol trane geskiet om te dink dat ouers weerlose kinders so laat ly. Sulke nuus word nie in ons pers gepubliseer nie, en ek bedank julle omdat julle ons op die hoogte van sake hou.
C. C. G. M., Brasilië
Huiswerk Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Só baie huiswerk—Wat kan ek doen?” (8 April 1993). Ek het die artikel gelees op ’n tydstip toe ek weens baie huiswerk onder druk verkeer het. Ek het nie tyd gehad om te ontspan of om vir Christelike vergaderinge voor te berei nie. Ek pas nou julle wenke toe.
M. H., Verenigde State
Emigrasie Ek wil graag my dank uitspreek vir die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek na ’n welvarender land trek?” (22 April 1993). Ek is 16 en het daaraan gedink om na ’n land te trek waar ek moontlik beter geleenthede in die lewe sou hê. Maar nadat ek die artikel gelees het, meen ek dat dit nie saak maak waar ’n mens woon nie. As ons Jehovah se Koninkryk eerste in ons lewe stel, sal ons ongetwyfeld [geestelike] vooruitgang maak aangesien Jehovah ons sal help.
V. L. A., Brasilië
Verkragting Ek het gemengde gevoelens gehad toe ek die nommer van 8 Maart 1993 oor “Verkragting—’n vrou se grootste vrees” ontvang het. Dit is omdat my ma, wat al jare lank ’n voltydse evangeliedienaar is, die slagoffer van ’n verskriklike aanranding en poging tot verkragting in haar eie huis was. Deur hierdie artikels te lees, is die genesingsproses aangehelp.
P. G., Verenigde State
Ek is die assistent-direkteur van die plaaslike “Afdeling vir Gesinsgeweld en Seksuele Aanranding”. Ons het die Ontwaak! begin lees nadat een van julle jong bedienaars die nommer oor kindermolestering hier by ons gelaat het (8 Oktober 1991). Ons teken nou daarop in. Ek wil julle net laat weet hoe beïndruk ek met julle nommers oor gesinsgeweld en verkragting was. Hulle is goed geskryf en baie deeglik nagevors.
D. G., Verenigde State